top of page

Daardie Dag sal daar Twee Groepe in die Kerk wees.

  • Writer: NG Kerk Aberdeen
    NG Kerk Aberdeen
  • Nov 9, 2014
  • 8 min read

Kansel_edited.JPG

Matteus 25 v 13 Sondag 9 November 2014

DAARDIE DAG SAL DAAR TWEE GROEPE IN DIE KERK WEES.

Ds. Abe Beyers

ONTMOETING

  • Ons erken die Here se grootsheid

  • Hy groet ons

  • Ons sing ‘n loflied – 188 v 1, 3

Kom, dank nou almal God

met hart en mond en hande;

loof Hom wat wonders doen

tot in die verste lande.

Van vroeg, van kindsbeen af,

het Hy ons trou bewaar

en tot vandag toe nog

geseën en gespaar.

Lof, eer sing ons voor God,

die bron van alle lewe -

die Vader, Seun en Gees,

almagtig en verhewe.

Drie-enig God, ons roem

u krag en majesteit.

O Heer, ons wil U noem:

ons God in ewigheid!

VERHOUDINGSTYD

  • Kategese-dankie-sê

Ons verhouding met die Here

Wat doen die Here? (Openb 14v1)

Toe het ek die Lam op Sionsberg sien staan en by Hom 144 000 mense met sy Naam en sy Vader se Naam op hulle voorkoppe geskrywe.

En nou ons? (2 Pet 3 v 14)

Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe.

  • Ons sing ‘n loflied – 267:1

Ons Vader op die hemeltroon

aan wie ons lof en eer betoon,

ons bid ootmoedig almal saam:

Gee dat u goddelike Naam

deur ons geken, geëer, gevrees -

in alles mag geheilig wees.

WOORD-TYD

  • Gebed

  • Woord – Matteus 25 v 1- 13

1. GENEIG TOT DIE VERKEERDE

Onlangs vertel iemand vir my van hoe die dorp Aberdeen destyds gelyk het, van hoe skoon dit was. Maar nou weet ons mos hoe werk dit – iemand gooi ‘n papier op die grond, en niemand doen niks daaraan nie, niemand sê niks nie. En kort voor lank is daar twee papiere, en naderhand ‘n hele berg vuilgoed.

Of dink nou maar aan skooldae – toe jy nog kind was en jy het nie jou huiswerk gedoen nie, en meneer het niks daaroor gesê nie – kort voor lank doen niemand hulle huiswerk nie.

Orals moet daar iemand wees wat weerstand bied teen die verkeerde, teen die kwaad, teen die afbreek – anders is alles naderhand tot niet.

Of dink nou maar aan verhoudings. ‘n Verhouding gaan skeefloop en stukkend raak as daar nie gedurig vergifnis en geduld en omgee is nie.

En ons verhouding met die Here Jesus is ook so – gedurig word ons gewaarsku: Bly in My soos Ek in julle – gedurig word ons aangemoedig om te werk aan ons verhouding met die Here Jesus – anders roes die verhouding.

Natuurlik weet ons die Here gaan ons nie los nie en as die verhouding agteruitgaan, gaan Hy ook weer ingryp dat ons nader aan Hom kan kom, dat ons weer met Hom erns kan maak.

Maar in vandag se storie wil Jesus vir ons iets baie ontstellend vertel:

Die agteruitgang van die verhouding met Hom kan so erg raak

dat daar die skrikwekkende moontlikheid is dat die dag as die wederkoms aanbreek,

dat daar in die kerk twee groepe mense gaan wees.

Ek wil nie graag sulke boodskappe bring nie, maar hier staan dit.

2. IN DIE KERK - ALMAL

LEES Matteus 25 v 1 – 5

Mat 25:1 "Dan sal dit met die koninkryk van die hemel gaan soos met tien meisies wat hulle lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag.

2 Vyf van hulle was onverstandig en vyf verstandig.

3 Die onverstandiges het hulle lampe gevat maar nie ekstra olie met hulle saamgevat nie,

4 terwyl die verstandiges saam met hulle lampe ook nog olie in houers gevat het.

5 Toe die bruidegom lank wegbly, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.

Die storie vertel van ‘n tipiese troue-toneel van daardie tyd. En daarmee wil Jesus iets deurgee van hoe dit sal wees eendag wanneer Hy weer sigbaar op die aarde gaan verskyn, of te wel met sy wederkoms.

Die eerste wat ons raaksien in die storie is dat die Bruidegom in die storie talm om te kom, almal moet wag. Natuurlik verwys dit nou na die Here Jesus se wederkoms – ons wag daarvoor en Hy het nog steeds nie gekom nie.

Die tweede wat ons raaksien in Jesus se storietjie is dat die tien meisies wat wag op die Bruidegom, dat al tien aan die slaap raak– die hele groep wag almal vir die Here om weer te kom – kom ons sê die kerk in die breë, oor die wêreld, maar sommer ook hier in Aberdeen, almal wag vir die Here om weer te kom. Of te wel almal wat verwag dat die Here Jesus eendag weer sal verskyn, dat daar ‘n wederkoms sal wees.

En die wag is nou al baie jare – ons almal is geneig om so bietjie aan die slaap te raak – ons het al so bietjie vergeet van Jesus en wederkoms en sy heerskappy.

3. IN DIE KERK – SOMMIGE

Maar dan vat Jesus die storie verder.

LEES Matteus 25 v 6 – 9

Mat 25:6 "In die middel van die nag was daar ‘n geroep: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!’

7 Toe staan al die meisies op en maak hulle lampe reg.

8 Die onverstandiges sê toe vir die verstandiges: ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan dood.’

9 Maar die verstandiges antwoord: ‘Nee, daar is nie genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer winkel toe en koop vir julle olie.’

Volgens die storie is daar nou vyf van die meisies wat die werk wat hulle moes doen, of te wel die behoeftes van die Bruidegom, ernstig opgevat het. Hulle het gedoen wat hulle veronderstel was om te doen.

Nou wat wil Jesus daarmee sê? Eenvoudig, onder die mense wat die Here Jesus verwag, wat wag vir die laaste dag, is daar diegene wat Hom as die groot Bruidegom, ernstig opgevat het; en daar is die ander wat Hom as die groot Bruidegom nie ernstig opgevat het nie.

Of ons kan dit nog meer blatant sê: doodeenvoudig: in die kerk wag almal saam vir die laaste dag, maar sommige vat die saak van Jesus ernstig op; terwyl die ander Jesus nie ernstig opvat nie – en dis die ontstellende van die storie.

4. ONDERSKEID

Nou nader na ons toe – dis nou ontstellend en verontrustend om te hoor dat Jesus verklaar dat sommige mense is in die kerk, maar hulle vat Hom nie ernstig op nie.

Nou is die vraag vir ons almal: wat is die onderskeid? Waaraan sien ‘n mens dit?

Ons kan nou bv ‘n lys gaan optrek van hoe is iemand wat die Here Jesus ernstig opneem – sê nou maar iemand wat die dinge vandie Bybel doen, of iemand wat die dinge van Matteus 5-7 doen, of wat vir die geringes kos gegee het en die siekes besoek het en die mense in die tronk besoek het.

Maar ons kan ook gaan lees van die onderskeid wat Jesus maak:

LEES Matteus 25 v 10 – 12

Mat 25:10 "Terwyl die onverstandiges olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit.

11 "Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’

12 Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’

Die onderskeid in die kerk is dan baie eenvoudig –

net maar of ek Jesus ken en of ek Hom nie ken nie.

Maar nou moet ons tog praat oor die ken van Jesus. Hoe verstaan die Bybel die woord ken?

Ons vandag gebruik die woord anders: Ons praat van ken iemand, maar dan bedoel ons ons weet van hom. Bv ek ken ook ‘n man met die naam Jacob Zuma, of liewer, ek weet van hom – maar ek het nie ‘n verhouding met hom nie, en wat hy wil is nie vir my belangrik nie. En daarmee maak ek nou nie ‘n politieke uitspraak nie. Of ek ken ook so bietjie van Baruck Obama – en ek neem nogal kennis van wat die ou sê, maar ek het nie ‘n verhouding met hom nie.

Maar as ek sê ek ken vir Jesus, dan bedoel ek daarmee daar is ‘n verhouding, daar is ‘n intieme persoonlike verbintenis. Dit is soos ‘n huweliksverhouding waar die twee partye vir mekaar omgee, die een neem altyd die ander een in ag, die wil graag doen wat die ander wil.

Ons kan die verhouding met Jesus ook anders stel: die verhouding beteken

  • ek erken Hom as die Heerser voor wie ek my verneder; dis net Hy en wat Hy wil is al wat vir my tel.

Soos wat die Here Jesus self die nag voor sy kruisiging gebid het: Vader, laat die beker by my verbygaan, moet nogtans nie doen wat ek wil nie, maar wat U wil.

5. EN NOU ONS?

Wat wil die storie vanoggend hier vir ons sê hier in hierdie kerkgebou?

LEES Matteus 25 v 13

Mat 25:13 "Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie."

As Jesus hierdie oproep maak tot ons, dan beteken dit elkeen van ons moet gedurig in ons pasoppens wees dat ander dinge nie tussen ons en wat Jesus wil, inskuif nie, dat ons verhouding nie verflou nie, dat ons nie ingesuig word deur allerhande dinge nie, dat Jesus en wat Hy wil nie meer vir ons belangrik is nie. ‘n Verhouding vra toewyding, vra inset, vra aandag – net soos enige verhouding waarin ons staan.

Ek weet dat ons wat nou vanoggend hier sit, is tog mense wat die Here Jesus en wat Hy wil en sy eer ernstig opvat – dis mos ook hoekom jy hier sit vandag. Maar nogtans moet ons mekaar daaraan herinner dat ons moet werk maak van ons verhouding met die Here Jesus. Gedurig moet ek vir myself afvra: is ek nog by Jesus, kom Hy nog eerste, is Hy vir my belangrik? Want die moontlikheid bestaan dat ek kan agteruitgaan, dat die verhouding nie meer lekker is nie.

Of anders gesê: waak dan, dat jy nie ingesuig word in ander dinge naas Jesus nie.

6. BELOFTE

Maar daar is tog nog iets in die storie – dis ‘n stukkie troos – Jesus het ook gepraat van die fees saam met Hom – wat iets vertel van dis tog die moeite werd om te bly leef in hierdie verhouding met die Here Jesus – want Hy is die HEERSEER wat weer sal kom.

ANTWOORD

  • Lied 273 v 1, 4

Laat my met U verenig lewe,

U wat die ware wynstok is;

u krag gee my voortdurend lewe,

bewaar my van verderfenis.

Deurstroom, besiel en seën my

sodat ek altyd vrugbaar bly.

Nee, Heer, van U wil ek nie skei nie,

U wat die ware wynstok is.

As ek nie in u liefde bly nie,

is ek ‘n loot wat vrugloos is.

Gee dat ek altyd vrugbaar bly

en U verheerlik word in my.

DANKBAARHEID

  • Offergawes

  • Laaste Lied – 506 1, 2, 3

O Heer, u liefde wondergroot

maak my van sonde vry.

U Seun ontruk my aan die dood,

Hy dra die kruis vir my.

U hulp, u liefde onbegrens

laat my van vreugde juig;

U deernis met 'n dwase mens

laat my eerbiedig buig.

Genade so oneindig wyd -

U skenk dit weer en weer.

Dit is die hoogste heerlikheid

dat U my liefhet, Heer.

DIE HERE SE BELOFTE

  • “Kyk, Ek is met julle al die dae tot die voleinding van die wêreld”


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page