Om In te Oefen.
- NG Kerk Aberdeen
- Nov 2, 2014
- 7 min read


2 Pet. 1 v 3-8
2 Nov 2014
OM IN TE OEFEN
Ds Abe Beyers
ONTMOETING
Ons erken die Here God
Hy groet ons
Ons sing dankbaar lied 193 v 1, 3, 4
Bring lof en dank,
gee God die eer,
o volke, almal saam!
Sing: Heilig! Heilig! Heilig Heer!
Hoogheilig is sy Naam!
Gee vrede, Heer, waak oor u kerk
met vaderlike hand.
Maak ons voorspoedig in ons werk
en seën u volk en land.
Wanneer ons kragte eendag swig,
sal U ons hande hou.
Dan sal ons, Heer, u aangesig,
u heerlikheid aanskou.
VERHOUDING
Hoe is mense? (Luk 10 v 27 – 37) Hierdie gedeelte handel oor die Barmhartige Samaritaan.
Wie het die man gesien as iemand om uit te buit?
Wie het die man gesien as klant om geld uit te maak?
Wie het die man gesien as probleem om te vermy?
Wie het die man gesien as iemand om na uit te reik
VERHOUDING (Vervolg)
En hoe is Jesus?
Ons sing lied 273 v 1
Laat my met U verenig lewe,
U wat die ware wynstok is;
u krag gee my voortdurend lewe,
bewaar my van verderfenis.
Deurstroom, besiel en seën my
sodat ek altyd vrugbaar bly.
WOORD-TYD
Gebed – voorbidding Willowmore
Woord – 2 Petrus 1
1. WAT IS ONS WERK?
Die afgelope week vra ‘n diaken vir my wat is sy veronderstel om te doen, wat is haar werk? En laasweek vra ‘n ouderling dieselfde vraag: wat is ek veronderstel om te doen? Ek het nou maar probeer verduidelik wat van ‘n ouderling en diaken verwag word – maar ons gaan nou saam kyk wat die die apostel Petrus daaroor skryf. Natuurlik praat ons nie net van ouderlinge en diakens nie – dink nou maar aan ouers se rol teenoor katkisante, of die leier van die CSV klas daar in die skool, of die kategeet daar in die Sondagskool.
LEES 2 Petrus 1 v 2
Daarom sal ek julle altyd aan hierdie dinge bly herinner, al weet julle dit reeds en al is julle reeds stewig in die bestaande waarheid gevestig
Nou is die vraag dadelik: waaraan moet ons mekaar dan herinner en wat is die goed wat ons vir mekaar van moet vertel ?
Die eerste gaan oor dit wat die Here reeds gedoen het vir ons.
LEES 2 Petrus 1v3
Sy Goddelike krag het ons immers reeds alles gegee wat ons nodig het wat ons nodig het vir ‘n toegewyde lewe, deurdat ons Hom ken wat ons deur sy majesteit en Goddelike krag geroep het.
Wat beteken hierdie lewe waarvan Petrus praat, wat is dit om ‘n toegewyde lewe te hê?
‘n Paar maande gelede was die predikante van die ring daar in die Transkei en een van die plaaslike leraars vertel toe van die die stryd van ‘n Xhosa wat tot geloof in die Here Jesus kom – hulle moet los kom van die aanbidding van voorvadergeeste. So ‘n Xhosa was voor hy Jesus leer ken het, vasgevang in die stelsel, hy lewe in vrees vir wat die voorvadergeeste hom dan nou gaan aandoen as hy nie volgens die reёls optree nie. As hy dan in ‘n verhouding met Jesus te staan kom, dan word hy bevry, hy word losgemaak daarvan, of te wel, dan begin hy in vryheid lewe, dan begin daar ‘n nuwe lewe.
Die mense aan wie Petrus sy brief geskryf het, was ook eers vasgevang in so ‘n situasie. Die mag wat hulle vasgehou het was die Romeinse en Griekse godsdienste, waarvan tempelprostitusie deel was. Wie dan nou deel van die gemeente geword het, wie die Here Jesus leer ken het, is dan nou bevry van hierdie mag – soos Petrus dit noem: die verdorwenheid van hierdie wêreld. Dit was waaruit hulle moes loskom, bevry word.
Vir ons wat vandag hier sit beteken die ken van die Here Jesus, of te wel die lewe waarvan Petrus praat iets anders. In ons kultuur, die westerse kultuur val die klem baie sterk op ek, op indiwidualisme, op ek en op my goed, daar is ‘n sterk selfgesentreerdheid. Wanneer ek dan tot geloof kom, in ‘n verhouding met die Here Jesus kom, dan beteken die lewe wat die Here gee dat ek bevry word van die selfgerigtheid. Ander word belangrik en ek word vry van die ek-gerigtheid. So kom ek tot lewe.
Of ek nou vandag die ouderling of die diaken is, en of ek maar net daar in die skool is of waar ek ook al is – wie die Here Jesus ken, wie in ‘n verhouding met Hom staan en dus ook lewe, hy is vrygemaak om nou aan ander aandag te gee, om nie net maar gefokus te wees op sy eie belang en sy eie voordeel nie.
En dit is hieraan, aan hierdie lewe wat God reeds gegee het, waaraan ons mekaar moet herinner.
2. OORSPRONG
En net so terloops – waar het hierdie nuwe lewe, hierdie toegewyde lewe ontstaan? Hoe het dit nou gekom dat ek nou hierdie toegewyde lewe ontvang het? Ons as mense dink baie keer dat die verhouding met die Here Jesus het begin toe ek tot bekering gekom het, toe ek vir die Here Jesus gekies het – maar, Petrus skryf sommer reguit dat dit die Here Jesus is wat ons geroep het, die inisiatief het van Hom af uitgegaan, dis Hy wat gemaak het dat ek Hom leer ken het.
Dit is maar steeds vir ons vandag moeilik om te erken dat dit maar al die tyd net die Here was wat na ons toe gekom het. Ons doen baie moeilik afstand van die ek-gerigtheid. Ek wil mos altyd as mens so graag die krediet kry dat ek nou toegewyd lewe omdat ek vir die Here gekies het – dis baie moeilik vir ons as westerse mense om te erken: ek is wat ek is deur die genade van die Here / I am what I am but for the grace of God.
3. DEEL KRY
Maar dis nou nie net dat ek wat in verhouding met die Here Jesus staan, slegs bevry is van die houvas van hierdie selfgerigtheid van my nie. Kyk net wat ontvang ek alles saam daarmee:
LEES 2 Petrus 1 v 4
Hierdeur het Hy sy kosbaarste en grootse beloftes reeds aan ons gegee sodat julle deel kan hê aan die Goddelike natuur, noudat julle ontvlug het aan die verdorwenheid wat deur begeerte in die wêreld teenwoordig is.
Ons kry deel aan die Goddelike natuur. Of te wel ons word nuwe mense, ons word hergeskape, nuut gebore, wedergebore, kry ‘n nuwe natuur. Hierdie natuurlike selfgerigte ek-natuur word omvorm en ons word Godskinders.
En hoe lyk die nuwe natuur of aard? Baie kort en eenvoudig – ons word mense wat vir ander kan omgee, ons word mense wat ander se laste dra, ons word soos God – wat uitreik na ander, wat omgee. Of te wel – die Goddelike liefde kom woon in ons.
4. OEFEN
Daar is ‘n tweede saak waaraan ons mekaar moet herinner.
Ja, ons lewe nou in verhouding met die Here Jesus, en ja, Hy het die nuwe natuur in ons kom plant – maar net soos ‘n kind tog as ‘n babetjie gebore word en dan moet groot word, so moet ons ook groei in hierdie verhouding met die Here. Net soos ek nie maar net op ‘n fiets kan spring en die Cape Argus-fietswedren kan gaan ry nie, net so ontvang ek nie maar die nuwe geaardheid van die Here en nou is die nuwe geaardheid dadelik volgroeid nie.
Petrus praat daarvan:
LEES: 1 Petrus 1 v 5- 7
Juis daarom moet julle alle ywer aan die dag lê om by julle geloof uitnemendheid te voeg, by julle uitnemendheid, insig; by insig, selfbeheersing; by selfbeheersing volharding, by volharding ‘n toegewyde lewe; by ‘n toegewyde lewe broederliefde; en by broederliefde, liefde vir alle mense.
Ek gaan nou nie vandag na elkeen van die goed kyk wat Petrus hier noem nie. Wat ons moet raaksien is sy gedagte van groei, van inoefen.
Een voorbeeld: Petrus sê: as jy bv nou insig beoefen, daarna strewe om meer te verstaan, om insig en wysheid te kry, dan ontwikkel daar by jou selfbeheersing. Hoe meer jy insig kry, hoe meer gaan jou selfbeheersing ontwikkel. Maar dan vat Petrus dit verder. As jy dan nou selfbeheersing beoefen, dit regkry, dan ontwikkel jy in die proses volharding.
Om dit nou prakties te verduidelik: As dit my gewoonte was om sommer enigiemand wat iets teen my sin vir my sê, se kop in te slaan, leer ek nou om selfbeheersing toe te pas, dan ontwikkel ek in die proses volharding, dan begin ek dit regkry om ook aan te hou onder moeilike omstandighede, om nie so gou moed op te gee nie.
Of nog een voorbeeld. As ek liefde en omgee vir my medegelowiges beoefen, dan ontwikkel ek ook in die proses om om te gee vir ander mense buite die gemeente.
En so groei ek om al hoe meer te word soos die Here Jesus, om al hoe meer soos ‘n Godskind te wees.
5. VOORTDURENDE HERINNERING
Nou terug by die kerkraadslede wat vandag hier bevestig word – wat is julle rol, waarvoor het die Here Jesus julle die voorreg gegee om diaken of ouderling te wees? Of nog verder gevra: waarvoor het die Here my as ouer van my kinders aangestel? Of sommer as katkisant?
Ons werk as kerkraad en as ouers is – om mekaar gedurig daaraan te herinner om voortdurend aan die lewe van bevryding wat die Here reeds vir ons gegee het, te bly oefen in die geloof, dit te bly ontwikkel.
Lees dit weer:
5. Juis daarom moet julle alle ywer aan die dag lê om
by julle geloof uitnemendheid te voeg;
by uitnemendheid, insig;
by insig, selfbeheersing;
by selfbeheersing, volharding;
by volharding, toegewyde lewe;
by toegewyde lewe, broederliefde;
by broederliefde, liefde vir alle mense
ANTWOORD
Lied 308 v 1, 2, 5
Neem my lewe, laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer.
Laat my hart gedurig juig
en van dankbaarheid getuig.
Neem my hande, maak hul sterk
diensbaar in u goeie werk.
Neem my voete, skoei hul, Heer,
met bereidheid tot u eer
Maak my hart vir U tot troon
deur u Gees wat in my woon.
Rig my wil, gevoel en daad
altyd na u wyse raad.
KERKRAAD
Bevestiging van kerkraadslede
Ons bid hulle toe lied 268 v 1
Laat, Heer,
u seën op hul daal,
u guns uit Sion hul bestraal!
U wat beveel en dit geskied,
wil, Heer, u seën oor hul gebied!
DANKBAARHEID
Offergawes
Laaste Lied – 466 v 1, 2, 3
Aanbiddelike Skepperheer,
aan U die dank, aan U die eer;
aan U die lof met jubeling,
diep uit ons harte toegebring
Uit U is alles wat ons het:
ons lewe, arbeid en gebed.
Op U, wat alles onderhou,
bly ons ons hoop en toekoms bou
Gee, Heer, u seën oor al ons werk;
ons krag, vermoëns is beperk.
Leer ons, soos kennis verder strek,
u hand in alles te ontdek.
DIE HERE SE BELOFTE
Hy skenk ons sy Goddelike natuur
Commentaires