Wat wil die Here Bereik Tussen Mense?
- NG Kerk Aberdeen
- Oct 19, 2014
- 9 min read

Matteus 22 v 23 - 33 Sondag 19 Oktober 2014
WAT WIL DIE
HERE BEREIK TUSSEN MENSE?
Ds. Abe Beyers
ONTMOETING
Ons erken die Here se grootsheid
Hy omhels ons
Ons sing lied 334 v 1, 2, 3
"God is Liefde!" juig ons harte,
en bedink wat liefde doen:
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het,
het in liefde ons vergeef -
nou kan ons, uit God gebore,
uit dié bron van liefde leef!
Deur sy Gees, die wondergawe,
laat Hy wederliefde spruit;
en dié liefde - wat volmaak is -
dryf die vrees en selfsug uit.
WOORD-TYD
Kleuterkerk – Abe Beyers
“Loof die Here, want Hy is goed – aan sy liefde is daar geen einde nie” (Psalm 118)
WOORD-TYD
Wie is die Here? (Hebr 1v1-3)
In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.
God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.
VERHOUDING
En nou ons? (Heb 10:23)
Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.
Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.
Ons sing lied 532 v 2, 3
Heer, wees vir ons ‘n Vader
wat sorg en sien.
Trek ons in Christus nader
om U te dien.
Laat, Heer, u Gees ons voorgaan,
laat Hy ons lei,
dat ons u Woord gehoorsaam,
ons aan U wy
Leer ons mekaar vergewe,
mekaar vertrou.
Laat ons die hele lewe
op liefde bou.
Laat heers oor ons u vrede,
en bind ons saam.
Verhoor tog ons gebede
in Jesus Naam.
WOORD-TYD
Gebed
Woord – Matt 22 v 23 - 32
Mat 22:23 Op dieselfde dag het daar Sadduseërs by Jesus gekom. Dit is hulle wat beweer dat daar nie ‘n opstanding is nie. Hulle vra Hom toe:
24 "Meneer, Moses het gesê: ‘As iemand sterwe sonder om kinders te hê, moet sy broer met die weduwee trou en ‘n nageslag vir sy broer verwek.’
25 Nou was daar by ons sewe broers. Die oudste het getrou en gesterwe. Omdat daar nie kinders was nie, het sy broer met die weduwee getrou.
26 Dieselfde het gebeur met die tweede en die derde broer en uiteindelik met al sewe.
27 En heel laaste van almal het die vrou ook gesterwe.
28 Met die opstanding dan, wie se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad."
AGTERGROND
Net so bietjie agtergrond. Die Sadduseërs was destyds die konserwatiewe outydse kerkgroep onder die Jode. Die Fariseërs was die meer nuwe groep, met ook sterk nasionalistiese gedagtes onder hulle. Maar albei die groepe het teenoor Jesus gestaan en wou Hom belaglik maak in die openbaar met allerhande vrae.
En hier kom die Sadduseërs nou omdat hulle van mening was dat as jy dood is is jy dood, dis sommer nonsens die idee van ‘n lewe na die dood.
Daarom stel hulle die vraag aan Jesus oor ‘n geval van ‘n vrou wie se man vroeg dood is sonder dat daar kinders was – en volgens die reëls wat van Moses se tyd af kom moes die volgende broer dan trou met die weduwee sodat daar ‘n nageslag kan kom vir die broer wat dood is, sodat hy soort van ewig kan lewe deur sy kinders.
So het al sewe broers met haar getrou en al sewe is toe dood en toe nog die vrou ook – nou is die Sadduseërs se gedagte: as daar dan ‘n lewe na die dood is, wie gaan dan met wie getroud wees – daarom moet die storie van ‘n lewe na die dood mos belaglik wees, want hoe gaan dit dan werk?
Die Sadduseërs was onder die indruk dat hulle ‘n waterdigte argument het om Jesus belaglik te maak en so hulle eie aansien te verhoog.
En dan antwoord Jesus hulle. Ons lees daarvan
LEES Jesus se antwoord: 22 v 29 – 32
Mat 22:29 Maar Jesus antwoord hulle: "Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.
30 Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel.
31 En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie:
32 ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes."
1. DOEL VAN HUWELIKE
Aanvanklik het ek hierin net maar die verduideliking van Jesus gehoor, die inligting wat Hy gee oor die saak van lewe na die dood, maar later het die een sinnetjie vir my al hoe duideliker uitgestaan:
LEES Vs 30
–" met die opstanding trou die mense nie meer nie."
Nou is die vraag: Hoekom nie? Hoekom is mense eendag in die hemel nie getroud nie?
En dis wat ons vandag moet hoor.
Die Here God se gedagte met die instelling van die huwelik was dat hy neem ‘n man en ‘n vrou, m.a.w. twee verskillende soorte mense, en hulle word aanmekaar gebind.
Hulle moet dan in ‘n baie nou en intieme verhouding leef, hulle moet in ‘n eerlike openhartige verhouding leef, waar hulle geen geheime vir mekaar het nie, waar hulle geduldig met mekaar is, waar hulle mekaar vergewe – hoekom?
Die Here se gedagte was om deur die eenwording van man en vrou iets te wys van hoe dit in die hemel gaan lyk, hoe verhoudings eendag in die lewe na die dood gaan wees.
Die verbinding tussen man en vrou, nl. die huwelik, is die plek waar die Here vir die kinders wat uit die huwelik gebore word, wys wat die Here God graag wil hê in hierdie stukkende wêreld – die Here God wil vir kinders wys hoe Hy is – soos wat Mamma en Pappa omgee vir kinders en hulle versorg en vir hulle help en vir hulle ‘n ruimte skep waar hulle sorgeloos kan speel – so wil die Here daardeur sê vir kinders hoe Hy is, wat Hy in gedagte het vir mense.
Of dan nou verder wil die Here met ‘n huwelik vir die ongelowiges daar buite sê: soos ‘n man vir sy vrou omgee, soos ‘n vrou vir haar man omgee, hoe hulle geduldig is met mekaar, net so gaan dit in die lewe hierna wees.
Anders gesê: die huwelik as ‘n openhartige eerlike liefdevolle verhouding tussen twee mense, is ‘n advertensie van dit waarnatoe die Here op pad is,
wat Hy graag tussen alle mense wil bereik.
Daarom kan ons nou verstaan hoekom die huwelik dan eendag in die lewe hierna nie meer nodig gaan wees nie, want alle verhoudings gaan dan eerlik en openhartig wees, in vrede en liefde en omgee, in vreugde en blydskap. Dan is die huwelik as advertensie van wat die Here wil bereik tussen mense, mos nie meer nodig nie.
2. ONS HUWELIKE
En skielik word ons wat vandag hier sit, wat bely dat ons kinders van die Here is, en wat getroud is – gekonfronteer met die vraag voor ons: is my verhouding met my man, is my verhouding met my vrou ‘n advertensie van die hemelse vredesverhoudings wat God in gedagte het?
Of om dit nog moeiliker te maak: sal my kindertjies, of het my kinders in my huwelik iets van die hemelse gesien, het hulle die Here se nuutmaking in ons twee se verhouding gesien? Of anders gevra: sien die ongelowige as hy na ons twee se verhouding kyk, sien hulle die vrede en vreugde wat God in gedagte het vir mense?
Onlangs vertel ’n vrou: haar verhouding met haar man is so dat sy haar diepste gedagtes, al haar vrese, al die dinge wat sy al oorgekom het, vir hom kan vertel – daar is so ‘n ruimte van omgee vir mekaar dat sy vrymoedigheid het om haar hele lewe voor hom oop te maak. Die ander in die groep kyk haar toe taamlik verbaas aan – met die gedagte van: nee, by ons is dit nie so nie…
Ek hoef dit nie vandag te sê dat party huwelike tussen gelowiges eerder na ‘n donderstorm lyk as na hemelse vreugde nie. Of soos iemand dit heel eerlik uitgedruk het: “wel dit gaan hemels wees as daar nie meer huwelike is nie…”
Maar dan moet ons ook vir mekaar sê: so ‘n vernietigende afbrekende verhouding is nie ‘n advertensie van waarnatoe die Here op pad is nie.
3. HULP BY HOM
Maar genadiglik kan ons hierdie storie van Jesus nou ook verder neem.
As die gedagte van ‘n huwelik mos nou van die Here af kom, as óns nou sy advertensie is, dan kan ons mos nou juis vandag vir die Here God vra:
Ag Here, ek sukkel met die advertensie – wil U nie asb vir my help dat hierdie huwelik van my, ons twee se verhouding meer word van wat U in gedagte het nie?
Ek kan mos nou vir die Here soebat en vra: Here, ek sukkel om vreugde en vrede te laat gebeur, ek sukkel om haar te vergewe, of ek sukkel om geduldig te wees met hom – help my asb.
Want dit is mos in die Here God se belang dat hierdie advertensie van Hom die beste sal wees – en daarom is daar onbeperkte hulpmiddels,
– Hy sal die krag gee,
- Hy sal die vreugde gee,
- Hy sal jou in staat stel om te vergewe,
- Hy sal vir julle twee vrede gee
– vra Hom net, want dit is sy advertensie en Hy wil graag hê julle moet ‘n suksesvolle advertensie wees.
4. VERHOUDINGS SKEP / GEMEENTE
Ons het nou nog net van die huwelik tussen ‘n man en vrou as ‘n advertensie van waarnatoe die Here op is, gepraat.
Maar wat is ons vandag hier in die kerkgebou? Ons is mos ‘n gemeente, ons is mos mense wat in vrede saamleef, wat in liefde en openhartigheid saamleef, wat vir mekaar omgee – omdat daar nie meer gemeentes in die hemel gaan wees nie, maar een massa mense wat in vreude en vreugde saamleef – is dit mos ook so dat ons nou hier ernstig daaraan moet werk dat ons hier vandag as gemeente ‘n advertensie is van waarnatoe die Here op pad is.
Die mense daar buite, hulle wat nie die Here ken nie – hulle moet na ons hier kyk en sien hoe ons saam is, hoe ons mekaar se laste dra, hoe ons in vrede en vreugde saam lewe – soveel so dat hulle hiernatoe sal stroom – want hulle sien hier tussen ons iets van die hemel. Hulle wil mos graag hiernatoe kom, want hier tussen ons word hulle aanvaar, hulle word omhels – hier is hemel op aarde…
5. ABRAHAM, ISAK, JAKOB
Net so ‘n laaste opmerking – Jesus sê daar vir die Sadduseërs: Maar Abraham is nou daar by die Vader, en Isak is daar, en Jakob is daar.
Maar wie was bv nou Isak, toe hy nog op aarde was? Hy was nou regtig ‘n stadige ou, kon nie aan die beweeg kom nie – was al 40 gewees toe het sy pa maar vir hom ‘n vrou gaan soek… Daarteenoor staan Jakob, die skelm ou – maar hulle leef nou almal saam in vrede by God, elkeen uniek maar nuut gemaak.
As die Here hulle dan kon verander, die kwaad omdraai, vrede bring – dan kan Hy dit mos hier ook doen,
dan kan Hy mos nou ook hemelse vreugde bring in jou huweliksverhouding,
dan kan Hy mos in hierdie gemeente hier in Aberdeen iets van die hemel kom adverteer.
Daar is hoop!
Amen
ERKENNING
Ons sing lied 265 v 1, 2
Enigste Here, enkele Wese,
ons glo in U met ons hele hart.
Heerlik bely ons, vry-uit getuig ons:
U is vir ewig God en Heer.
U, onbegryplik, U is onsienlik,
altyd dieselfde, oneindig groot.
U is almagtig, wys en regverdig,
U is die bron van alle goed.
DANKBAARHEID
Offergawes
Laaste Lied – 146 v 1, 5, 6
Prys die Here, loof en prys Hom.
Ek wil God se lof besing.
Hy is magtig; loof en prys Hom.
Ek wil God my loflied bring,
en so lank ek leef Hom eer.
Loof die groot en troue Heer.
God gee uitkoms en bevryding,
hongeriges gee Hy brood.
Hy genees ons van ons lyding
en verlos uit elke nood.
Die verdrukte in gebed
hoor Hy aan, sy liefde red.
Hy sal altyd trou ons Heer bly;
deur Hom sal daar redding kom.
Maar die goddelose stuit Hy
en versper sy pad vir hom.
Hy sal altyd bly regeer.
Halleluja! Prys die Heer.
BELOFTE VAN DIE HERE
Deur sy krag is Hy met ons om lewe te skep
Comentários