Die Here Voer Sy Plan Uit.
- NG Kerk Aberdeen
- Oct 12, 2014
- 7 min read

Matteus 1 v 17 Sondag 12 Oktober 2014
DIE HERE VOER SY PLAN UIT
Ds Abe Beyers
ONTMOETING
Ons erken die Here
Hy groet ons
Ons sing Lied 182 v 1, 2, 3
Ons wil, o Heer,
U loof en eer
vir liefde en genade.
U swakke kind, deur skuld gebind,
verlos U van die kwade.
Ons kniel en buig, aanbid en juig,
verlostes, hier vergader.
Ons is verbly, van skuld bevry,
verbind aan U, ons Vader.
Gelowig steun ons op u Seun,
want ons het niks verdien nie.
Ons Heiland het, om ons te red,
nie eens die dood ontsien nie.
VERHOUDINGS-TYD
Wie is die Here? (2 Petrus 1 v 3-7)
Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.
Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.
En nou ons?
En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding,
die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.
Ons antwoord met Lied 67 v 1, 2, 4
Herskep, o Gees, laat leef, o Gees,
laat kom die koninkryk met mag,
laat mense tot bekering kom,
oorreed deur u oortuigingskrag.
O Gees, verlig ons, laat ons vind
die waarheid wat u Woord ons leer
dat ons met God en met mekaar
in Gees en liefde kan verkeer.
Herskep, o Gees, laat ons herleef,
maak wakker elkeen in u kerk.
Laat ons uit God se liefde leef,
en dankbaar waak en bid en werk
WOORD-TYD
Gebed
Woord – Matteus 1 v 1 – 17
Ons antwoord: Lied 436 vers 1,2,3
Herskep, o Gees, laat leef, o Gees,
laat kom die koninkryk met mag,
laat mense tot bekering kom,
oorreed deur u oortuigingskrag.
O Gees, verlig ons, laat ons vind
die waarheid wat u Woord ons leer
dat ons met God en met mekaar
in Gees en liefde kan verkeer.
Herskep, o Gees, laat ons herleef,
maak wakker elkeen in u kerk.
Laat ons uit God se liefde leef,
en dankbaar waak en bid en werk.
1. ONVREDE
Wêreldprentjie van geweld: oorlog daar in Irak
Statistiek van geweld in RSA – hoeveel mense is vermoor
Plaasmoorde
Gesinsgeweld – Bethalstorie
Al die stories van Aberdeen – stukkende verhoudings
Al die ellendes van siektes en rekeninge, en werkloosheid
En dan sing ons van die vrede op aarde wat die Here Jesus gebring het – wat jy waar sien?
2. VERLOSSER UIT DIE GESLAG VAN DAWID
LEES Matteus 1 v 1 – 6
Mat 1:1 Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham:
2 Abraham was die vader van Isak, Isak van Jakob, en Jakob van Juda en sy broers;
3 Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar, Peres van Gesron, en Gesron van Ram;
4 Ram was die vader van Amminadab, Amminadab van Nagson, en Nagson van Salmon;
5 Salmon was die vader van Boas by Ragab, Boas van Obed by Rut, Obed van Isai;
6 Isai was die vader van koning Dawid. Dawid was die vader van Salomo by die vrou van Urija;
Destyds, in die tyd van die Bybel het mense nie vanne gehad soos ons vandag het nie – jy kon nie baie trots sê dat jy bv. tot die .. –familie behoort nie. Die mense van daardie tyd het net ‘n naam gehad. Daarom was dit vir hulle vreeslik belangrik om te kon sê wie was sy oupa en wie was sy oupa se pa, sodat mense kon weet uit watter familie jy uit kom.
Matteus wou dieselfde met Jesus doen: Daarom noem hy die 42 geslagte terug tot by Abraham die vader van Isak.
Maar dit gaan oor meer as om te sê dat Jesus tot ‘n belangrike gerespekteerde familie behoort het.
Jesus is familie van die eerste Abraham aan wie die Here God belowe het: “In jou sal al die geslagte van die aarde geseen wees”.
Of Jesus is familie van koning Dawid aan wie die Here God ook belowe het: "jou koningskap sal ‘n ewige koningskap wees" – Jesus is dus ook deel van die koningsfamilie.
Die Jode het destyds geweet dat die Groot Verlosser uit die nageslag van Abraham uit moet kom en uit die nageslag van koning Dawid om enigsins ‘n Verlosser te kan wees – en nou wys Matteus vir die Jode dat hierdie Jesus van Nasaret af, wel die Verlosser is, want Hy kom uit die regte familie.
Miskien moet ons eers hier vir mekaar vra: wie is hierdie Jesus regtig vir my?
Iemand wat 2000 jaar terug aan ‘n kruis tereggestel is, en dit het nou iets te doen met my sonde?
Is Jesus vir my die magtige Heerser wat nou besig is om sy heerskappy in hierdie wêreld sigbaar te maak?
Iemand wat hoe langer hoe meer mense bevry uit die houvas van die bose?
Is Jesus die Een wat die geweld daar in Irak teen die voorstanders van die Islamitiese staat kan omkeer?
Is hierdie Jesus ook vir my die een wat vandag my nood hoor? Wie is hierdie Jesus vir my?
3. TEN SPYTE VAN
Matteus skryf die geslagregister van Jesus neer om vir ons ‘n troosboodskap te bring – naamlik dat hierdie Jesus werklik die langverwagte Verlosser is.
- kyk na sy famlie-agtergrond.
Maar dit is juis waar die probleem vir ons vandag inkom. Dis juis as ons nou gaan kyk na die familie-agtergrond van Jesus dat ons ‘n probleem sien – hierdie Jesus het nou nie juis die wonderlikste familie gehad nie. Behalwe mense soos Abraham en koning Dawid, was daar ook die vrou Tamar wat ‘n buite-egtelike kind by haar skoonpa gehad het, en daarby was sy sommer ‘n buitelander, nie eers ‘n Israeliet nie. Of daar was Rut, of wat van die beroemde koning Dawid, maar sy seun Salomo se ma was Batseba en die hele drama daarrondom.
Maar die feit dat die Here God sy plan vir ‘n Verlosser ten uitvoer kan bring ten spyte van die mense wat deel is van die plan, eenvoudige foute-makende mense, vertel juis van hoe wonderlik die Here God beskik: Hy bring sy plan vir ‘n Verlosser ten uitvoer, ten spyte van wat mense doen, ten spyte van wat mense aanvang.
En dis vir my die wonderlike troos van hierdie storie wat ons vandag gelees het – die Here God voer sy reddingsplan in hierdie bose wêreld van ons uit ten spyte van wat selfs óns aanvang.
‘n Paar weke terug sê iemand vir my: ek moes nooit my kind na daardie skool en na daardie plek toe gestuur het nie, want watter toekoms is daar nou vir hom? Of iemand anders vertel: toe my kind met daardie vriend hier aangekom het, moes ek die verhouding daar en dan tot niet gemaak het, want dan sou ons soveel hartseer gespaar gewees het.
Matteus vertel vir ons dat die Here God sy vredesplan ten uitvoere bring ten spyte van wat mense aanvang en ten spyte van die foute wat hulle maak en die verkeerde keuses.
4. 1800 JAAR LATER
Miskien kan ons nog iets uit hierdie storie van Matteus uithaal.
As ons nou dink aan die name van die 42 geslagte van Abraham af tot by Jesus – oor hoeveel jaar het dit gestrek? Dis was omtrent 1 800 jaar gewees.
M.a.w. in al die jare het die Here God nie van sy belofte vergeet nie. Deur al die drama en ellendes en rampe het die Here God nooit van sy groter plan om die Verlosser Jesus na die aarde toe te stuur, vergeet nie.
As die Here God b.v. destyds in die Bybel belowe: “elke knie en elke tong sal bely dat Jesus die Heerser is” - glo ek dit vandag nog?
As ek kyk na die geweld in die wêreld en die dreigende oorloë tussen Moslem fanatikusse, vertrou ek die beloftes van die Here?
Of as die Here destyds belowe dat deur sy krag kom daar vrede – plaas ek my hoop daarop waar ek dalk nou in ‘n stukkende verhouding staan?
Die geslagsregister van die Here Jesus wat Matteus vir ons beskrywe, wat oor ‘n tydperk van 1800 jaar gekom het, vertel vir my dat die Here God deur al die tye en omstandighede sy beloftes waar maak – ten spyte van wat mense aanvang.
5. GEBED
Miskien nog ‘n opmerking oor hierdie storie van Matteus.
Hier word nou vertel van die 42 geslagte van Abraham af –
beteken dit nou dat ek nie vandag kan bid tot die Here dat Hy moet ingryp en my bepaalde situasie moet verander nie? Het die Here God ‘n vaste plan wat oor 1800 strek en ongeag wat ek doen of vra dat niks daar kan verander nie?
Natuurlik nie. Dis die wonderlike van hoe die Here God werk. Sy plan sluit nie ons gebede en ons pleitredes uit nie. Inteendeel, die Here wil hê dat ons by Hom moet pleit en vra dat die ellende sal ophou, dat die mag van die bose verbreek sal word, dat daar vrede sal kom, dat die Verlosser sal ingryp.
Die Here God se groter plan sluit nie ons gebede uit nie – en daarom moet ons aanhou bid dat die Here Jesus sy heerskappy sal sigbaar maak.
6. JESUS NIE MAAR SOOS ONS
En nou die laaste opmerking – Matteus wil ook deurgee dat Jesus nie maar net soos ons is nie, Hy is nie maar net ‘n mens uit die nageslag van koning Dawid nie.
LEES Vers 16
Mat 1:16 en Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.
Let op dat daar nie staan: En Josef was die vader van Jesus nie. Jesus was nie maar net soos ons nie – want Hy het van God af gekom, al is Hy uit Maria gebore.
Die hele storie wat Matteus hier vir ons vertel, wil maar net vandag vir jou oproep om jou vertroue in hierdie Jesus van Nasaret te stel – in Hom is daar lewe, deur Hom is daar oorwinning oor die mag van die bose – plaas jou hoop op Hom.
DANKBAARHEID
Offergawes
Laaste Lied – 464 v 3, 4
U Seun word mens;
in ons gebroke wêreld
kom vestig Hy sy koningheerskappy.
Hy maak weer heel
wat sonde hier gebreek het.
Hy bring weer hoop
en redding - ook vir my.
Dan moet ek juig,
my Redder en my God!
Hoe groot is U; hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit
saam: hoe heerlik, Heer, u grote Naam!
U maak ons deel van al u grootse werke.
U laat ons bid, Heer, dat u ryk mag kom.
En kom U weer, in heerlikheid op wolke,
maak U volkome nuut u eiendom.
Dan moet ek juig,
my Redder en my God!
Hoe groot is U; hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit
saam: hoe heerlik, Heer, u grote Naam!
BELOFTE VAN DIE HERE
Hy is met ons al die dae tot aan die voleinding
Comments