Hulle is....
- NG Kerk Aberdeen
- Sep 28, 2014
- 7 min read

Romeine 14 v 1 –12 12
28 September 2014
Tema: Hulle is...
Die Christelike gemeente is die unieke ruimte vir aanvaarding en verbondenheid
Ds. Abe Beyers
1. MENSE POLARISEER
So ‘n klompie jare terug was daar hier in Aberdeen twee boereverenigings – een vir die Engelsprekendes en een vir die Afrikaanssprekendes. Want die verskil in taal was net te groot vir mense om in een groep saam te werk. Vandag vind ons dit as boeregemeenskap nogal baie snaaks. Ons kan amper nie verstaan hoe so iets kon gebeur het nie – die gemeenskaplike boerderybelange is mos groter as ons onderlinge taalverskille.
Tog is dit dikwels oënskynlike nietighede wat mense laat groepe vorm, of dan nou polariseer. Soms is dit dinge waaroor mense sterk “oortuigings” het dat dit nie kan/mag prysgegee word nie. Dit laat hulle op ’n onvriendelike en selfs vyandige wyse teenoor mekaar optree.
Daar in Irak en die ander Arabiese wêreld is daar nou ernstige konflik aan die gang – deur die Bewegings wat nou ernstig daarop uit is om ‘n Islamitiese Staat op te rig, en almal wat daarteen is, met geweld uit te roei. En as jy Christen is, of watter ander geloof ook al, dan is jy vyand, dan moet jy uit die weg uit geruim word. Totale onverdraagsaamheid.
Orals in ons samelewing is daar groepe. Werkgewers of werknemers; manlik of vroulik; oud of jonk; wit of swart, inkommers of plaaslike mense; naskoolse opleiding of nie; boere of nie. Orals is daar groepe. Die naweek was daar Harley Dawidson-ryers vs die ander. Of eenvoudig getroud of ongetroud. Dan is daar groepe soos grondeienaars of nie. Dit hou net aan en aan.
In die geval van die gemeente in Rome was bekeerlinge uit die Joodse agtergrond (Judaïsme) en bekeerlinge uit die ander nasies (o.a. Palestyne, Siriërs, Grieke, Romeine), en die verskillende groepe was in een Christelike gemeente. En die twee groepe was nogal taamlik verskillend. Dit het veral gegaan oor verskillende eetgebruike en die hou van feesdae, waarby veral die bekeerlinge uit die Jodendom met hulle diepgewortelde verankering in die Mosaïese wette betrokke was.
So was daar Christene wat nog aan baie van die vorige voorskrifte en wette vasgehou het. Hulle wou nie alles eet nie maar het hoofsaaklik groente gebruik. Vir hulle was daar ook nog sekere feesdae, onder andere die Joodse Sabbat, wat waargeneem moes word.
Aan die ander kant, sommige Christene – veral uit die ander volke – het daarvan uitgegaan dat die verlossing deur Christus ’n vrymaking van alle vorige rites en gebruike beteken het. Hulle het daarom geen probleem gehad om nou alle kossoorte met vrymoedigheid te eet nie. Vir hulle was daar ook nie spesiale feesdae wat gehou moes word nie. Alle dae was dieselfde en is so deur hulle benut.
2. CHRISTENE MOET ANDERS WEES.
Dit blyk toe nou dat die pragtige Christelike gemeente dit nie so lekker kon regkry om saam in vrede met mekaar te leef nie. Daar was so ‘n bietjie wrywing.
LEES Romeine 14 v 1 – 3
Rom 14:1 Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil.
Rom 14:2 Een glo ‘n mens mag alles eet; ‘n ander is swak in die geloof, en hy eet net groente.
Rom 14:3 Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem.
Die apostel Paulus praat toe nou van hierdie groepe. Die eerste groep was “die wat sterk is in die geloof”. En die ander, die wat allerhande reëls probeer nakom, noem hy “die wat swak is in die geloof”. Dié twee groepe het mekaar geen bestaansreg gegun nie. Dit was ’n verlammende skaakmat situasie. Die woord wat Paulus gebruik is: die een groep het die ander verag – die woord verag is ‘n baie sterk woord. Iets soos minagting, iets soos verafsku
En dan kom Paulus en hy herinner hulle daaraan: Maar onthou julle dan nie? Julle is dan almal, albei groepe, deur Jesus Christus aangeneem. Weereens, die woord aanneem vertel van iets baie intiems, iets soos omhels, iets soos teen jou te hou, in jou intieme ruime inlaat – dis wat die Here met elkeen van hulle gedoen het.
En daarom is nie een groep van hulle die eintlike gemeente nie – hulle albei is gemeente omdat Jesus hulle aangeneem het. Daar is nie ander gronde vir gemeente-wees nie.
LEES Romeine 14 v4
Rom 14:4 Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg.
Dan gebruik paulus die stukkie van die huiswerker – hy vertel vir hulle iets wat hulle lankal weet – en dan sê hy: Maar die Here Jesus het mos die reg op hulle, Hy is mos hulle Here, en hulle is sy bediendes. En daarom kan die bediende, die gemeente nie iets oor mekaar sê nie, net die Here kan iets sê van mense.
LEES Romeine 14 v 5-6
Rom 14:5 Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ‘n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting.
Rom 14:6 Die een wat ‘n bepaalde dag op ‘n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God.
Dan kom Paulus met ‘n nuwe gedagte – ja, ons kan maar onderling verskil, ons is nie almal dieselfde nie. Maar die manier wat ek het, die unieke dinge wat ek doen, die ander styl wat ek het – ek moet vir myself as gelowige afvra: doen ek dit, die unieke styl van my “vir die Here”?
Bv, onlangs kla iemand dat hy nie hou van kerkmusiek nie, dis so outyds. Nou dis reg so, elkeen van ons het ons eie smaak. Solank hy nou sê: ek wil graag op hierdie manier vir die Here ‘n loflied sing – dan is dit reg so. Dan mag hy nie sê: almal wat nie soos ek voel nie, is outyds, is verkeerd, is sommer sleg nie. Dan is hy besig om mense teenoor mekaar af te speel – en dit mag tog nie in ‘n Christelike gemeente gebeur nie.
3. NIE VIR MYSELF NIE
LEES Romeine 14 v 7-8
Rom 14:7 Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie.
Rom 14:8 As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.
Dit bring gelowiges by die diepste sin van hulle bestaan. Niemand wat aan die Here behoort, leef of sterf meer vir haar/homself nie. “Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here” (8b). Ons word met alles wat ons is en het in die genaderuimte van God ingesluit!
LEES Romeine 14 v 9
Rom 14:9 Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes.
Vir die soveelste keer in hierdie brief beklemtoon Paulus dat dit die doel van Christus se dood en opstanding was om naamlik sy heerskappy oor lewendes en dooies te verwesenlik (vgl 5:6.; 6:4; 7:4; 8:11). Nie die lewe nie en ook nie die dood kan ons buite die heerskap/die eienaarskap/die seggenskap van Christus plaas nie! Ons is syne vir tyd en ewigheid.
Rom 5:6 Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe.
Rom 6:4 Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei.
Rom 7:4 Dit is ook die geval met julle, my broers. Deur julle verbondenheid met die liggaam van Christus het julle gesterwe en staan julle nie meer onder die wet nie. Julle behoort nou aan iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is. Daarom moet ons nou ‘n vrugbare lewe lei in diens van God.
Rom 8:11 Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
En dan kom die apostel Paulus en doen iets wat ons so ‘n bietjie skok, ons verwag nie dit van hom nie – maar kyk hoe skerp spreek hy hulle aan:
LEES Romeine 14 v 10 – 11
Rom 14:10 Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn,
Rom 14:11 want daar staan geskrywe: "So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is."
Interessant genoeg keer Hy die rolle om en spreek hy eers die “wat swak is in die geloof” aan: “Jy, watter reg het jy om jou broer wat vry is, te oordeel?”
Op dieselfde wyse word die “wat sterk is in die geloof” aangespreek: “Jy, waarom verag jy jou broer wat swak is?”
Let op die direkte en persoonlike trant van die gesprek. Nie “julle” in die algemeen nie maar “jy” in ’n een-tot-een verhouding met die lewende Christus en die geloofsgenoot!
Inderdaad, nie een van die skuldiges het ’n beoordelaar/regter se rol oor die ander nie. Daar is slegs een regter. Alle gelowiges bevind hulle op gelyke grond voor die regterstoel van Christus. Dis nie hulle wat met mekaar moet afreken nie. Dit is Christus wat nou besig is om hulle te weeg.
Dié omkeer van rolle is nie ’n onverwagte verrassing nie. Immers, dit is inherent deel van die evangelie wat oor die hele wêreld weerklink dat “elke knie voor Christus sal buig en elke tong sy Naam bely” (11).
4. WAT EK AAN HOM GEDOEN HET
LEES Romeine 14 v 12
Rom 14:12 Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.
Elkeen gee vir hom-/haarself “rekenskap aan God.”
Dit is geen grappie nie want dit gaan om wat ons aan Christus gedoen het.
Gelowiges behoort aan Christus. Hulle is sy liggaam.
Ons word dus dringend vermaan om almal weer te dink oor wat ons as gelowiges van mekaar sê en aan mekaar doen. Dit het verreikende konsekwensies.
Laat ons mekaar aanneem soos Christus ons aangeneem het! Dit is die essensie van gemeente-wees. Dit gaan ten diepste om ’n ware gemeenskap van gelowiges.
Vir Christene van Gereformeerde oortuiging beteken dit dat “gelowiges aan Christus en al sy skatte en gawes deel het” en ook “verplig is om die skatte en gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander aan te wend”(Heidelbergse Kategismus, antw 55).
Verskeidenheid mag nooit lei tot botsings en verbrokkeling nie. Dit is onlosmaaklik deel van die rykdom van God se genade en moet dus waardeer en benut word.
Comments