Uit Genade Leef ek Genade
- NG Kerk Aberdeen
- Sep 21, 2014
- 6 min read

Sondag 21 September 2014 Matteus 20 v 1 – 16
UIT GENADE LEEF EK GENADE.
Ds Abe Beyers
LUISTER-TYD
Gebed
Woord – Matteus 20 v 1-16
Mat 20:1 "Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van ‘n wingerd wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur.
Mat 20:2 "Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk.
Mat 20:3 Teen nege-uur gaan hy weer uit en sien ander werkloos op die mark rondstaan,
Mat 20:4 en hy sê vir hulle: ‘Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal.’
Mat 20:5 Hulle is toe soontoe. Teen twaalfuur en teen drie-uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen.
Mat 20:6 Omtrent vyfuur gaan hy uit en kry ander wat daar rondstaan, en hy sê vir hulle: ‘Waarom staan julle heeldag werkloos hier rond?’
Mat 20:7 Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ ‘Gaan werk julle ook in my wingerd,’ sê hy toe vir hulle.
Mat 20:8 "Toe dit aand word, sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman: ‘Roep die arbeiders en betaal hulle hulle loon. Begin by die laastes en eindig by die eerstes.’
Mat 20:9 "Dié wat teen vyfuur gehuur is, kom toe en kry elkeen die gewone dagloon.
Mat 20:10 Die mense wat eerste gehuur is, het gedink hulle sou meer kry, maar toe hulle aan die beurt kom, kry hulle ook elkeen die gewone dagloon.
Mat 20:11 Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla
Mat 20:12 en sê: ‘Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.’
Mat 20:13 "Maar hy antwoord een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie?
Mat 20:14 Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou.
Mat 20:15 Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’
Mat 20:16 "So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste."
1. ONS BEREKENING:
As ons nou die eienaar van die wingerd was, sou ons mos nou die betaling van die werksmense anders gedoen het. Ons gedagtes werk mos volgens verdienste, volgens pretasie. Dinge moet mos regverdig wees.
Ons berekening sou iets soos die volgende gewees het:
Die eerste 5 werkers begin 8:00 en werk tot 18:00 vir R100. - R500
Die tweede groep van 5 begin 9:00 en werk tot 18:00 vir R90. - R450
Die derde groep van 5 begin 12:00 en werk tot 18:00 vir R60. - R300
Die vierde groep van 5 begin 15:00 en werk tot 18:00 vir R30. - R150
Die vyfde groep van 5 begin 17:00 en werk tot 18:00 vir R10. - R50
Met ons somme sou ons R1050 gespaar het as ons die werkers betaal het presies volgens die ure wat hulle gewerk het.
Dit is soos ons koppe werk en dis soos ons samelewing werk.
Maar die Here God se genade werk nie so nie - Sy somme is anders. Hy werk nie met verdienste of prestasie nie. Hy werk met genade, sonder enige verdienste.
2. TROOS
Nou wat het die storie met ons hier in Aberdeen te doen?
Dis ‘n groot stuk troos vir ons wat voel dat ons nie een van die vooraanstaandes is nie – ons kan nie ons woord doen soos die ander nie, ons kan nie bid soos die ander nie, ons kan nie eers sing soos die ander nie, ons kan regtig nie hier in die kerk saampraat nie. Dalk voel jy ook dat jy nie een van die gerekendes is nie.
Soos iemand dit mooi gesê het: Toe gawes uitgedeel was, het hy heel agter in die ry gestaan. Ag, vir ons wat voel dat ons nie kan saampraat daar in die groot vergaderings as dit by die dinge van die Here kom nie, want ons het maar net by wyse van spreke by die agterdeur ingeglip in die Here God se maatskappy in, ons is nie van daardie voorstes nie.
Dan is hierdie storie vir mense soos ons –
want die Here Jesus vertel dat dit in sy maatskappy anders gaan – Hy wat die Here is werk met die genade-gedagte, by Hom is daar geen verdienste nie. Niemand is meer of minder belangrik in sy maatskappy nie. In sy maatskappy is daar nie posisie of status nie.
Daarom maak hierdie woorde van Jesus dat ek as eenvoudige mens, as agtergeblewene ook by God ‘n plekkie het. Ook ek as eenvoudige staan net so naby aan die Here as daardie een wat so hoog geag word en so baie gawes het.
3. DIE ANDER KANT VAN DIE STORIE
Maar die storie wat Jesus vertel, het ook ‘n ander kant.
Kom ons noem dit die skerp kant van die storie, die vingerwysing na ons toe. Die eerste gedagte van die storie was ‘n trooswoord; maar die anderkant van die storie is ‘n vermaning.
Die Here se maatskappy werk volgens die genade-gedagte.
Daarom is daar geen posisie of status in die Here se wêreld nie. Al was ek vir 90 jaar lank ‘n gelowige, dan maak dit my nie meer belangrik in God se maatskappy as die ander een wat dalk nog net 90 dae ‘n gelowige is nie. Want soos Paulus daar in Efes 2;8,9 herinner: " julle is inderdaad uit genade gered, sonder enige verdienste – daarom het niemand enige rede om op homself te roem nie."
Dit is en bly altyd vir my as gelowige ‘n moontlikheid dat ek die waardesisteem van die samelewing daar buite, sal indra in die maatskappy van die Here in.
So maklik kan ek begin dink dat ek is darem nie meer so eenvoudig is in my geloof soos daardie een nie.
So maklik kan ek begin dink dat ek het darem al ver gevorder het op die pad van die Here; die ander moet nog kom waar ek al verby is, want ek kan profeteer of in tale spreek of vir mense gesond bid of ek is darem al 50 jaar lank ‘n ouderling wat vir mense onderrig – hulle moet nog kom waar ek al verby is.
As ek so begin dink, dan het ek nie Jesus se storie verstaan nie. Dat nie een van ons meer belangrik is voor die Here as iemand anders nie.
4. LEEF GENADE
Maar die storie van Jesus kom nog nader na ons kant toe.
Vir ons wat nou klaar deel is van die maatskappy van die Here, ons wat ingelyf is in die Here se maatskappy – ons moet mos nou al hoe meer begin word soos die Here. Die Here tree in genade op, Hy kyk met genadige oë na mense, Hy werk nie met prestasie nie – en daarom moet ons ook die genade-manier aanleer.
Byvoorbeeld: ek kom onlangs daar op ‘n plaas en daar sit ‘n hond op die werf. En die arme skaaphond sukkel maar aan, so op drie en ‘n half bene. Nou wil ek by die eienaar weet: die skaaphond het mos sy deel op die plaas gedoen, jy kan hom mos nou maar laat uitsit. En dan kom die antwoord: ek weet dis net ‘n hond, maar ek kan mos nie die hond sommer net laat doodmaak nie, al kos sy vir my R1000e aan veeartskoste. Ek kan dit nie oor my hart kry nie…
Dis ‘n voorbeeld van om in genade te kyk na ‘n dier. Dis nie maar net ‘n hond wat ‘n produktiewe lewe gehad het en nou is sy tyd verby nie.
Die samelewing vra dat ons na mense kyk en hulle hanteer volgens hulle produksie. Dit kan ook nie anders nie – en tog wil die storie van Jesus vir my vra om ook in genade na mense te kyk – dit gaan nie maar net oor produksie nie.
Ons kry die gedagte van prestasie en verdienste selfs by kinders teenoor hulle ouers. In die ouetehuise sit daar baie ouers in ellende, want die kinders dink: hulle het hulle tyd gehad en nou beteken hulle niks meer nie – en ek hoef hulle mos nie te betaal nie. ‘n Begenadigde mens kyk anders na mense, kyk tog in genade na mense.
5. DANKBAARHEID
Miskien kan ons nog iets uit die storie uithaal. Hier word ook iets vertel van hoe ek as werknemer my werk moet sien. Die klompie mense wat toe die dag eerste indie wingerd kom werk het, hulle het die aand gekla dat hulle darem meer verdien – “dis ons reg om meer betaal te word…”
Maar miskien vra die storie ook vir my dat ek sal dankbaar wees vir my werk, dat ek in genade na my werkgewer sal kyk, dat ek sal omgee vir sy belange. Dis totaal ‘n ander gesindheid, dis totaal ‘n ander manier as om maar net te kyk wat ek uit die situasie kan uitkry vir myself.
6. GENADIG WEES
Ons het nou na die detail gekyk van die storie waar Jesus vertel hoe dit in sy maatskappy gaan, dat daar nie verdienste is nie, maar genade, dat daar nie prestasies is nie, maar omgee. En daarom is daar vir my lewe by die Here.
Maar die storie vra ook van mý om genadig te wees, dat ook ék met genadige oë na mense sal kyk.
DIE HERE SE BELOFTE:
Sy krag vir oorwinning oor die kwaad.
Comments