Ons weet mos ons moet mekaar Liefhê.
- NG Kerk Aberdeen
- Sep 7, 2014
- 8 min read


Sondag 7 September
2014
Romeine 13 v 8-14
Ons weet mos ons moet mekaar Liefhê.
Ds Abe Beyers
ONTMOETING
Ons erken die Here met lied 587 v 1
"Kyk, Hy kom!" Wag, laat ons luister -
vanaf die mure, deur die duister
roep wagters met 'n luide stem:
"Kyk, Hy kom! Hy kom! Die Koning!
Ontwaak! Ontwaak! Elk in sy woning.
Verbly jou, o Jerusalem!
O neem jul lampe, kom,
Hy's daar, die Bruidegom!"
Halleluja!
Ons gaan Hom groet, (2x)
Ons gaan Hom juigend tegemoet.
ONTMOETING
Hy groet ons
Ons vereer die Here met Lied 203 v 1, 2, 3
Loof die Here,
al wat lewe,
wil Hom dank en hulde bring
Hy het al ons skuld vergewe;
ons 'n nuwe lied laat sing.
Loof Hom, prys Hom!
Loof en prys Hom!
Loof die Vader,
God en Heer!
Loof Hom wat in groot genade
ons deur eeue heen behou;
loof Hom vir sy reddingsdade -
vas kan ons op Hom vertrou.
Loof Hom, prys Hom!
Loof en prys Hom!
Hy's genadig en getrou.
Soos 'n vader sorg vir kinders,
sorg die Heer vir wie Hom vrees.
Hy vergewe hul oortredings
en berei 'n vreugdefees.
Loof Hom, prys Hom!
Loof en prys Hom!
Laat ons Hom
gehoorsaam wees!
LUISTERTYD
Kleuterkerk – Magda Smit
VERHOUDINGS-TYD
Wie is die Here? (Ps 136 v 1 – 9)
En nou ons? (Psalm 138 v 1)
- Ek wil U met my hele hart loof. Laat die gode maar hoor; dit is tot u eer dat ek sing.
Ons antwoord met lied 491 v 1, 4
'k Het Jesus lief,
Hy is my lig en krag.
Hy sal in nood en angs
my nooit verlaat nie.
Hy bly my redder
al het ek nie raad nie.
Hy maak my vry van
skuld en sondemag.
Hom het ek lief, Hy lei my op sy pad
en rig daarop my kinderlike treë.
Hy ken die hindernisse op my weë
en voor ek val, het Hy my hand gevat.
WOORD-TYD
Gebed
Woord – Romeine 13 v 8 - 14
8. " Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.
9. Al die gebooie: "Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie," of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself."
10. Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.
11. En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het.
12 . Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem.
13. Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie.
14. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie"
Lees weer v 8, en 13
1. JA EK WEET
Ek het gewonder wat jou gedagte was toe jy hierdie woorde hoor? Waaraan het jy gedink toe jy die opdragte hoor? Miskien het jy selfs kwaad geword by die aanhoor daarvan, want ons weet mos die goed, ons weet mos ons moet mekaar liefhê – en ons het mos mekaar lief. Miskien het jy gedink aan daardie ander ou of daardie vrou, hulle wat so en so maak, hulle wat so kwaad stook, hulle wat so drink, hulle wat daardie verkeerde dinge doen – hulle moet ‘n slag hoor van “laat ons welvoeglik lewe soos dit hoort in die daglig”.
En dis reg so, ons moet dink aan die verkeerde dinge wat mense doen, ons moet dink aan ander – maar ek het tog nog steeds gewonder hoekom die apostel Paulus dan vir die gemeente daar in Rome so ernstig oproep om tog “welvoeglik te lewe”. Wat se soort gemeente was dit dan, was hulle ooit ‘n gemeente, kinders van die Here, as hulle dan so die werke van die duisternis gedoen het?
Of anders gesê: hoekom moet ons hier vandag die woorde hoor? Is dit omdat ons dan nou so vreeslik onheilig lewe, omdat ons besig is met duistere verkeerde bose dinge?
Die antwoord lê daarin: ons moet die woorde hier in Aberdeen hoor, want ook ons raak gewoond aan die Christelike lewe, ons raak gewoond daaraan om darem vir ander om te gee, om darem volgens algemeen aanvaarde riglyne te lewe. Maar die lewe as Christen is ‘n voortdurende stryd, voortdurend moet ons weerstand bied teen die kwaad wat so vir ons wil vasvang.
Byvoorbeeld;
- Storie van skinder. Persoon A kom na jou toe en vertel vir jou die dramatiese storie oor persoon B in die dorp… “het jy gehoor wat B aangevang het…” En wat is ons outomatiese reaksie daarop, ons normale reaksie? Ons gaan baie versigtig na persoon C toe en vertel vir C baie konfidensieel van wat B alles gedoen het en hoe verskriklik dit is. En dan gaan C en vertel daar vir D wat B gedoen het.
Wat vra liefde nou van jou? Wat vra Christen-wees nou van jou? Om weerstand te bied teen die kwaad, om te kies om nie die storie van B te gaan oorvertel nie. En die keuse kom nie outomaties nie. Dit vra ‘n stryd in jouself, dit vra baklei teen jou eie aard.
Of nog ‘n voorbeeld:
- So ‘n week of wat terug was daar redelik drama in die parlement toe Julius Malema vir Zuma aangevat het. En nou agterna hoor jy nou mense se veroordelende kommentaar: “kyk die klomp ape daar in die parlement”.
Maar nou kom die stryd vir my as gelowige: ek as gelowige kan mos nie maar net maak soos almal maak en soos almal sê nie, ek moet mos deur die Here se oë na mense kyk.
En nou wat nou? Miskien moet ek dan eerder ander kommentaar lewer op die situasie: bv iets soos: “ten minste het Julius Malema die moed gehad om op te staan teen Zuma, al het hy dit dan nou op die verkeerde manier gedoen”.
Die apostel Paulus wil ons daaraan herinner dat liefde vir mense nie natuurlik vir ons kom nie, dit is ‘n stryd – en nou moet ons gedurig teen die normale manier van dink en doen weerstand bied en uit liefde dink.
2. WAARAAN WORD ONS HERINNER? HOE MOET ONS MAAK?
Wat vra die apostel Paulus vir ons? Hoe moet ons nou maak?
Eers kom die apostel Paulus met die algemene riglyn
12b. " Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; ......"
Ons ken almal die beeld van lig en duisternis – die duisternis waarvan hy hier praat is die kwaad wat mense doen, wat mense by wyse van spreke in die donker doen. Daarteenoor staan die werke van die lig, die dinge wat kinders van die Here doen. Soos Jesus sê: laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader in die hemel verheerlik.
Maar dan kom Paulus met meer spesifieke herinnerings:
12b. " ...laat ons die wapens van die lig opneem."
As ons nou teen die kwaad moet weerstand bied, en ons hoor van wapens opneem, dan dink ons mos nou dadelik aan daardie ou wat vir my dit of dat aangedoen het, of wat my so en so ingeloop het of verneder het – en nou dink ek aan wapens, en ek dink aan hoe ek daardie ou gaan terugbetaal, sommer behoorlik, dat hy ook ‘n slag kan voel..
Maar as die apostel Paulus praat van die Wapens van die lig
– dan dink hy aan
dinge soos liefde en vrede,
dinge soos om eerder die Here te vertrou en nie self wraak te neem nie, dinge soos om eerder te vergewe as om te veroordeel.
Dan bied ek weerstand teen die magte van die duisternis, maar nie op die gewone menslike manier nie, nie op ‘n geweldigdadige manier nie, maar met geduld en vriendelikheid
– dis die soort wapens wat ons moet gebruik om die kwaad in ons samelewing teë te werk.
Maar om weer te sê wat ons aan die begin gesê het: al is ons as Christene mense van die lig, die opneem van die wapens van die lig kom nie outomaties nie. Elke oomblik moet ons waak daarteen om nie dinge te doen op die gewone wêreldse manier nie, maar op die Christelike manier.
Dan kom Paulus met die volgende waarskuwing:
13. "Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort."
Die oproep van Paulus is dat ons eerbaar sal lewe, ‘n lewe wat gepas is, wat die toets van die lig sal deurstaan, wat in lyn is met wat die Here wil.
Die ander vertalings help ons nogal om te verstaan wat Paulus ons aan herinner
KJV – Let us walk honestly;
Amplified – Let us live and conduct ourselves honourably;
LNT – Be decent and true in everything you do;
RSV – let us conduct ourselves becomingly.
En dan kom die laaste riglyn
14. "Julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus....."
"(Beklee julle met die Here Jesus Christus,....") Ou vert.
Ons kan hierdie riglyn soms sien as maar net nog ‘n ding wat ons moet doen, nog ‘n opdrag – maar dis eintlik waaroor die hele storie gaan.
As my Christen-wees net beteken dat ek volgens die reëls lewe, en net sekere dinge doen en ander dinge nie doen nie, dan gaan ons die hele oproep van die apostel Paulus mis. Die prentjie wat Paulus in gedagte het, is om een te word met die Here Jesus, om in verbintenis met Hom te lewe. Paulus wil probeer beskrywe dat ons in die vel van Jesus moet inklim, een met Hom moet wees.
En dis nie iets wat eenmaal gedoen kan word nie – dis ‘n voortdurende proses, dis iets van elke dag – dat ek by die Here Jesus sal wees, in verbinding met Hom, een met Hom – sodat ek al meer sal word soos Hy, doen soos Hy, onder sy leiding optree in die samelewing waarin ek is. Dit beteken dat ek in die situasies waarin ek kom eers sal vra: Here wat wil U hê moet ek doen.
Dis soos iemand onlangs vertel: Sy het so gebid en vir die Here gevra vir ‘n teken. “Here gee asb vir my ‘n teken of ek moet aangaan met hierdie verhouding, met hierdie lewe”. En sy het gekyk en gesoek en in alles ‘n teken probeer soek, maar niks was duidelik nie. En toe onverwags in ‘n byeenkoms, toe weet sy hier is die teken. Die Here het my gebed verhoor – wat ek nou doen is in lyn met wat Hy wil.
Of nog ‘n storie: Soms tree jy maar op in ‘n situasie, dink so op jou voete, en jy tree op soos jy maar altyd gewoond was om op te tree – maar as jy vir ‘n oomblik net in jou gedagtes kan afskakel – en vir die Here vra: “Here lei U nou vir my”, dan kom die Here en Hy draai jou gedagtes heel om en gee vir jou ander woorde.
BEKLEE JULLE MET DIE HERE JESUS – VOORTDUREND
ONS REAKSIE
Lied 488 v 1, 2, 3
Helder skyn u lig vir die nasies,
'n vreugdeglans om die mense te verlig
tot die hele wêreld kan sien
U is die lig.
Mag u lig, Heer, deur ons skyn
Vrolik klink ons lied vir die volke,
'n pryslied bring
al die nasies om ons saam
tot die hele wêreld kan jubel oor u Naam
Mag u lof, Heer, deur ons klink.
Balsem bring herstel vir die wonde,
'n sagte salf vir die mense met hul seer
tot die hele die wêreld kan sien
dat U genees.
Mag U troos, Heer, deur ons bied.
DANKBAAR
Offergawes
Laaste Lied - 334 v 2, 3, 4
Hy wat eerste liefgehad het,
het in liefde ons vergeef -
nou kan ons, uit God gebore,
uit dié bron van liefde leef!
Deur sy Gees, die wondergawe,
laat Hy wederliefde spruit;
en dié liefde - wat volmaak is -
dryf die vrees en selfsug uit.
As die Vader in sy liefde
dan die sondaar maak tot kind,
mag sy Seun al meer gestalte
in ons doen en late vind!
DIE HERE SE BELOFTE
Sy teenwoordigheid
Comments