Wat doen skuld aan ‘n mens?
- NG Kerk Aberdeen
- Aug 31, 2014
- 9 min read
Psalm 51 Sondag 31 Augustus 2014
Wat doen skuld aan 'n mens?
Ds. Abe Beyers


Ontmoeting
Ons erken die Here met lied 267 v 1, 2
Ons Vader op die hemeltroon
aan wie ons lof en eer betoon,
ons bid ootmoedig almal saam:
Gee dat u goddelike Naam
deur ons geken, geëer gevrees
in alles mag geheilig wees.
Laat Heer u Koninkryk steeds kom
in hierdie land en oral om.
Die skepping is u magsgebied
waar u volmaakte wil geskied -
vanuit die hemel om u troon
tot waar ons op die aarde woon.
Kleuterkerk – Maryke Lategan
LUISTER-TYD
Wie is die Here? Die bevryder-God
Rom 7:24
Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?
Rom 7:25
Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here
Ons sing tot hierdie God – 464 v 1, 3
O Heer my God,
as ek in eerbied wonder -
en al u werke elke dag aanskou:
die son en maan,
die aarde, sterre, wolke,
hoe U dit elke dag so onderhou...
Dan moet ek juig,
my Redder en my God!
Hoe groot is U; hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit
saam: hoe heerlik, Heer, u grote Naam!
U Seun word mens;
in ons gebroke wêreld
kom vestig Hy sy koningheerskappy.
Hy maak weer heel
wat sonde hier gebreek het.
Hy bring weer hoop
en redding - ook vir my.
Herhaal die koor.
WOORD-TYD
Gebed
Woord – Psalm 51
3 Wees my genadig o God, - in u troue liefde.
Wis my oortredinge uit - in u groot barmhartigheid
4 Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde
5 Ja, my oortredinge ken ek en van my sonde bly ek altyddeur bewus.
6 Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig.
7 Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.
8 Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil he dat ek moet lewe.
9 Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees
10 Laat my weer blydskap en vreugde belewe.
U het my verbrysel, laat my weer jubel.
11 Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wil al my skuld uit.
12 Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.
13 Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie!
14 Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is,
Laat my U met toewyding dien
15 Dan sal ek oortreders leer wat U van ‘n mens verwag,
dat die sondaars hulle toe U sal bekeer.
WOORD-TYD
1. SKULD VOOR GOD EN MENS.
Ek het die afgelope tyd nogal baie met die skuld-vraagstuk te doen gekry.
Nou nie die skuld wat ‘n mens by bank of koöperasie het nie.
Maar die skuld wat jy het teenoor die Here God of teenoor mense - soos wanneer jy iemand teleurgestel het, of soos wanneer mense jou vertrou het en nou het jy hulle teleurgestel.
Of aan die anderkant, wanneer jy die verwagting wat die Here van jou het, teleurgestel het, en nou is jy in die skuld by God.
My vraag is vanoggend: wat doen die skuld aan jou? Watter uitwerking het die skuld op ‘n mens as jy jare lank met daardie skuld, die gewetenswroeging rondloop?
En dan is die kort antwoord: daardie skuld neem jou vreugde weg. Die skuld vat eenvoudig jou blydskap en vrede en vreugde weg, want jy loop gedurig met daardie stuk skuld op jou. Dit word ‘n ondraaglike las wat jou afrem tot in die grond in.
Stories: So onthou ek ‘n man met die naam Chris wat jare terug vir sy werk daar op pad was Upington toe. Dit was in die skoolvakansie en so 11h00 die oggend en toe hy teen die bultjie opry, ry daar ‘n scooter reg voor hom oor die pad – en hy ry die 11 jarige seun dood. Die seun was op pad om die pomp te gaan afsit oorkant die pad op sy pa se plaas. En vir hoeveel jare daarna het die Chris daardie skuld gedra, die wroeging: ek het ‘n pa van sy seun ontneem, ek het ‘n kind doodgery. Vir lank was Chris terneergedruk, in die grond in – die skuld het al sy lewensvreugde ontneem.
Of iemand anders vertel van hoe teleurgesteld hy in homself was – hy het op ‘n Saterdagoggend in ‘n winkelsentrum dit eenvoudig heeltemal verloor en uit blinde woede die kelner by ‘n reataurant tot in die hospitaal in geslaan – en toe agterna die skuld, die teleurstelling: hoe kon ek dit doen, wat het in my in gevaar? Ek het my gesin teleurgestel? Ek wat sê ek is ‘n gelowige – ek het die Here God teleurgestel!
Of ‘n ander storie van ‘n man wat ‘n ander suurstofsilinder moes gaan haal vir sy pa. Sy pa se silinder wat vir hom moes help om suurstof te kry, was leeg en hy gaan haal toe ‘n ander een. Toe hy weer by sy pa kom, toe ontdek hy die nuwe silinder is ook leeg. Teen die tyd was sy pa al baie benoud – en inderhaas ry hy weer terug om ‘n nuwe een te gaan haal, maar dit was toe te laat. Sy pa is toe dood. En toe sit die man met die verskriklike skuldgevoel: my nalatigheid het my pa se dood veroorsaak. En hy kon nie oor daardie skuld kom nie.
Of so het koning Dawid ook destyds gevoel na sy episode met Batseba: “ek het God teleurgestel, ek, wat iemand was na wie die mense opgesien het, ek wat toonvenster was vir die Here, en nou het ek Hom teleurgestel, ek is in die skuld by die Here.
Ps. 51:6
Teen U alleen het ek gesondig, ek het doen wat verkeerd is in U oë.
U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig.
Ps. 51:7
Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.
2. WAT HET DIE HERE VIR ONS IN GEDAGTE?
Aan die ander kant: wat het die Here vir ons in gedagte? Wat wil Hy hê?
Dis tog sekerlik nie dat ons so in die grond ingedruk moet word onder die skuld nie? Hy wil mos nie hê dat ons so moet treur, so moet verwoes word onder die skuld nie – sonder vreugde en sonder blydskap nie.
As ons so deur die Bybel blaai, dan vertel die boek vir my van ‘n Here wat bevry, wat verlos, wat vir ons wil vreugde bring.
Eksodus 20 v 2: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte uit die plek van slawerny bevry het”.
Jes 65v18: “Wees bly en jubel sonder ophou: Ek gaan ‘n Jerusalem skep wat vol blydskap is”.
Joh 10v10: waar Jesus sê: Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed”
Koning Dawid het ook verstaan dat die Here vir hom iets anders in gedagte het as die afbuig onder die skuld. En daarom pleit hy dat die Here God die las van hom afhaal en weer vir hom die blydskap en die vreugde sal laat ervaar.
Ps. 51:10 "Laat my weer blydskap en vreugde belewe.
U het my verbrysel, laat my weer jubel."
3. HOE BRING DIE HERE WEER VREUGDE?
Nou is die volgende vraag: hoe bring die Here vir ons hierdie vreugde wat Hy vir ons in gedagte het?
Wat die stukkende verhouding tussen ons en Hom betref, het die Here eenvoudig aan ons kant kom staan – Die Here Jesus het namens ons die kloof na die Vader oorbrug – Hy het namens ons gehoorsaam gebly tot in die dood. Dit was 2000 jaar terug. Ons hoef nie die stukkende verhouding met ons Skepper te oorbrug nie – Jesus het dit gedoen namens ons. Ons kan Hom daarmee vertrou.
Soos Paulus sê in Romeine 5v1: “God het ons dan nou vrygespreek omdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God.”
Natuurlik beteken die Here se vergifnis nie dat ek maar net goed kan aanvang en kwaad doen want daar is mos vergewing nie.
Ook koning Dawid moes maar die skuld in die oë kyk, hy moes ook maar erken teenoor die Here: “ek het teen U gesondig”.
Wanneer ek die Here teleurgestel het, wanneer ek ook in die skuld is by Hom, dan moet ek maar druipstert die skuld in die oë kyk en vir die Here erken – want ek weet dat die Here wil vir my die vreugde gee, Hy is vir my genadig.
Die Here nooi jou uit: Matt 11:28 “kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”
4. OOK DIE SKULD TEENOOR ANDER?
En wat nou van ons? Ons hier onderling, ons hier tussen mekaar? Sovele loop rond met verhale van skuld: “Ek het dit gedoen, ek is verantwoordelik vir sy ellende…”
Weereens – ons skuld teenoor mekaar vat ons vreugde weg. Wie in vyandskap lewe met mense, het geen vreugde nie.
En dan is die antwoord weereens baie kort: vergewe mekaar, maak vrede.
Ek wil verder vertel van die Chris daar buite Upington. Maande daarna kon hy dit nie meer hou nie en hy het toe weer in vrees en bewing na die ouers van die oorlede kind toe gery. Hy verwag toe dat die reaksie haat en woede en verwyte gaan wees, maar toe hy daar kom, wel toe is daar geen verwyte nie – daar op die stoep het hulle saam gehuil oor die verlies van ‘n kind. En die pa kon ook vertel van sy skuldgevoel – hy het immers die kind gestuur om die pomp te gaan afsit. So kon Chris en hierdie pa mekaar daar vertroos en vrede vind.
5. TOEKOMS
Maar dit gaan nie net om vandag weer vreugde te vind nie. Koning Dawid het dit besef en daarom bid hy vir die Here:
Ps. 51:8
"Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe.
51:12
Skep vir my ‘n rein hart, o God, en maak my standvastig.
51:13
Moet my tog nie van u af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie
Hoe lyk die lewe wat die Here God dan vir ons dan in gedagte het? Of hoe is ‘n lewe van vreugde? Wat doen jy?
LEES Romeine 12 v 9-21
Rom 12:9 " Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is.
10 Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.
11 Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.
12 Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.
13 Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.
14 Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.
15 Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur.
16 Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie."
17 Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense.
18 As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.
19 Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: "Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld," sê die Here.
20 "As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte."
21 Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.
Vreugde
Ons sing as antwoord – “oorwinningslied”
OORWINNINGSLIED
Ek sien in my gees die glorie en die Almag van die Heer,
Die Allerhoogste wat in liefde oor sy koninkryk regeer.
Hy’t belowe aan die einde op die wolke kom Hy weer,
Hy is Koning, Hy regeer.
Refrein:
Loof Hom, prys Hom, Halleluja (3x)
Hy is Koning, Hy regeer.
Die Here is ons vesting wat vir altyd sal bly staan.
Hy beskerm elke mens wat in geloof na Hom toe gaan.
Hy’s ons skuiling, Hy’s ons wapen, Hy’t die vyand reeds verslaan.
Hy is die Rots wat ewig staan.
Refrein:
Loof Hom, prys Hom, Halleluja (3x)
Hy is Koning, Hy regeer.
Kom deel nou in ons loflied,hef jou hande op na bo.
Blaas basuine slaan op dromme en kom dans voor God se oë.
Kom leef in die oorwinning van sy Woord waarin ons glo.
Want sy Woord sal ewig staan.
Refrein:
Loof Hom, prys Hom, Halleluja (3x)
Hy is Koning, Hy regeer.
Hy is Koning, Hy regeer.
Hy is Koning, Hy regeer.
DANKBAARHEID
Offergawes
Koning Dawid: Ek dra vrede uit
Laaste Lied – 284 v 1, 2, 3
Laat Heer u vrede
deur my vloei
Waar haat is, laat ek daar U liefde bring.
Laat ek in pyn en
smart vertroostend wees
En krag gee deur geloof in U, o Heer
Refrein
O Heer, help my om altyd so te leef –
om ander hoër as myself te ag,
Ja, om lief te hê – ander bo myself –
en ook eerder te gee as te verwag.
Laat Heer u vrede deur my vloei
en laat ek hoop gee waar daar twyfel is.
Ek wil u lig in duisternis laat skyn.
Laat ware vreugde altyd uit my straal
Refrein
O Heer, help my om altyd so te leef –
om ander hoër as myself te ag,
Ja, om lief te hê – ander bo myself –
en ook eerder te gee as te verwag
Laat, Heer, u vrede deur my vloei…
leer my om ook soos U te kan vergeef
Maak my bereid om aan myself te sterf,
dat ander U al meer in my kan sien
DIE HERE SE BELOFTE
Sy Gees sal nie van ons af weggaan nie
Comentarios