top of page

Uit dankbaarheid - Christen wees éérstens in die geméénte.

  • Writer: NG Kerk Aberdeen
    NG Kerk Aberdeen
  • Aug 24, 2014
  • 9 min read

Jan se plaas 3.JPG

Uit dankbaarheid - Christen wees - eerstens in die gemeente

Jan se plaas 3.JPG

Ds. Abe Beyers

Romeine 12 v 1 – 8 Sondag 24 Aug 2014

ONTMOETING - HERE EN ONS

Ons erken Hom

Hy groet ons

Ons sing ‘n lied vir Hom – 466 v 1, 2, 3

Aanbiddelike Skepperheer,

aan U die dank, aan U die eer;

aan U die lof met jubeling,

diep uit ons harte toegebring

Uit U is alles wat ons het:

ons lewe, arbeid en gebed.

Op U, wat alles onderhou,

bly ons ons hoop en toekoms bou.

Gee, Heer, u seën oor al ons werk;

ons krag, vermoëns is beperk.

Leer ons, soos kennis verder strek,

u hand in alles te ontdek

  • LUISTERTYD

  • Kleuterkerk – Sieg Nel

  • VERHOUDING

  • Wie is die Here? (Joh 3v16) Deernis/omgee

  • "God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê”

En nou ons? (Mat 5:44) Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel

  • Ons antwoord nou die Here met

Lied 164 v 1, 2

Kom ons leef soos wat Hy vra

en leer om te verdra

en liefde na te streef.

Loof Hom, Christus, die Heer.

Ons is almal hier tesaam,

verenig in sy Naam, verheerlik Hom.

Met ons hart en mond en hand,

ons kragte en verstand

kom loof ons Hom.

Hou ons lewend deur u Gees,

laat ons u kinders wees

en U bo alles eer.

Jesus Christus, die Heer.

Woord-tyd

  • Verwondering

  • Gebed

  • Woord – Romeine 12

PREDIKING

1. Inleiding

Abe van ons, is al van skooldae af sterk by sy rugby betrokke, en vanweë sy lewe destyds daar in Noord-Wes provinsie, het hy ook sterk gestaan vir sy Bloubulspan – en dis bloubulpette en klere en wat nog alles.

Toe gaan werk hy daar in die ou Oos-Transvaal (Mpumalanga) en die bloubul-stukkie het nog aangegaan, en toe vir een of ander rede hoor ek die ernstige verklaring: “Nee hy is nou klaar met die blou bulle en nou is hy ‘n Stormer”. Nou waar die verandering ingekom het, weet ek nie. Baie mense hier in Aberdeen sal nogal baie met hom saamstem: maar nou staan hy nogal uit daar in die dorpie, nou is hy bietjie anders as die ander mense, hy word so bietjie skeef aangekyk. Hoe ry iemand met ‘n Oos-Kaap bakkie, bly in Mpumalanga en skree vir die Stormers?”

Maar dié storie vertel ook iets van Christen-wees.

Ons Christene se styl is dikwels so bietjie vreemd, so bietjie ánders as die van ander mense, dis asof ons nie so lekker tuis is waar ons is nie. Of anders gesê: Christen-wees vra ‘n nuwe styl, so bietjie vreemd, bietjie anders as ander mense.

2. Reaksie: Gee julleself vir God.

Wat het die storie van die Stormer in die Transvaal nou te doen met die apostel Paulus?

In die eerste 11 hoofstukke van die Romeinebrief praat Paulus oor die groot ontferming van God. Die groot wonder is dat die Here God na mense uitreik deur Jesus Christus en deur die kragtige werk van die Heilige Gees.

Vanaf hoofstuk 12 begin Paulus praat oor die anders lyk van die Christene. Wat is ‘n Christen? Dis iemand, sê hy in Rom 12:1, wat gereageer het op die groot ontferming, wat reageer op die groot genade, wat reageer op die beweging van God na ons toe.

3. Geleefde Christenskap ...

Rom 12:1

En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Rom 12:2

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

3.1... Hoekom reageer ek, hoekom leef ek nou anders as ander mense?

Dit gaan oor dankbaarheid. So sê ek vir Hom dankie vir alles wat Hy in Jesus Christus vir my gedoen het...

3.2 ... Inhoud van geleefde Christenskap

As ek dan ‘anders leef’ uit dankbaarheid, hoe sal my leefwyse in die praktyk lyk?

Dit gaan daaroor om myself te "offer". In die Ou Testament het Israel "iets" geoffer van dit wat hulle besit het – ’n dier, ’n landbouproduk of iets dergeliks. Paulus sê dat my offer lewend en heilig moet wees – ek moet iets van myself gee. Ek moet die offer as ‘t ware aan my lyf voel. Ons sukkel nogal om in ons dag die ding te verstaan.

Maar dink aan die Here Jesus wat die aand daar voor sy kruisiging gebid het dat die swaarkry, die teregstelling aan die kruis, of daardie gedeelte nie maar gelos kan word nie. En dan sê Jesus: nogtans nie my wil nie, maar U wil. Jesus offer sy eie begeerte, sy eie wil op t.w.v. wat die Vader wil. Dit gaan daaroor om my oor te gee aan wat God wil, om my eie dinge te laat los t.w.v. die Here se plan. Of anders gesê: dit mag nooit oor my gaan en my aansien en my naam en my status nie. Ek offer myself op t.w.v. die Here, en dit is vir Hom dat ek myself prysgee.

Hoe gebeur dit? Hoe kom ek al hoe meer in lyn met God se plan en God se wil en dit waarmee Hy besig is? Paulus sê dat die Here God moet my gedagtes verander, my denke nuut maak.

Eers dan kan ek "ophou om te lewe soos ek vroeër gelewe het". Eers dan kan ek "breek met die ou, sondige mens in my wat deur my sondige begeertes verteer word". Eers dan kan ek "lewe as ’n nuwe mens wat as die beeld van God geskep is" (Ef 4:17-24).

Hierdie verandering begin wanneer ek my oorgee aan God, voor Hom neerbuig en my afhanklikheid van Hom erken. Wanneer ek volkome bereid is om uit myself te klim, my voluit in diens van God te stel, my tot beskikking van God te stel. Hierdie verandering (metamorfose) is die werk van God deur sy Gees. Eers dan kan ek onderskei tussen my wil en God se wil (Fil 1:9-11).

4. Waar leef ek my Christenskap uit?

Dit bring ons by die tweede hoofdeel van Romeine 12:1-8, naamlik waar en hoe moet ek as gelowige my dankbaarheid teenoor die Here God uitleef?

Paulus gebruik eintlik die res van die brief om die vraag te antwoord. Ek leef my Christenskap uit in die volgende verhoudings:

  • My verhouding met gemeentelede (Rom 12:3-17)

  • My verhouding met die owerheid Rom (13:1-7)

  • My algemene lewenshouding Rom (13:8-14)

My verhouding met medegelowiges van wie ek verskil (14:1-15:13)

Ons staan nou stil by die gemeente as ruimte vir die uitleef van my Christenskap, aan die hand van Romeine 12:3-5.

Rom 12:3

Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.

Rom 12:4

Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie.

Rom 12:5

Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar.

4.1 Gemeente as ruimte vir Christenskap

Paulus is oortuig dat die uitleef van my dankbaarheid in die gemeente begin. ’n Lewe van dankbaarheid dwing my as gelowige om nuut te dink oor my roeping binne my gemeente.

Ek is 'n lidmaat omdat die Here my ingesluit het in gemeenskap met Hom en met medegelowiges. Dit is 'n gemeenskap van begenadigdes, waarin ook ek bereid is om soos Jesus my lewe vir my medegelowiges af te lê.

Dit beantwoord ook die hoe-vraag.

Ek moet met ’n gesindheid van beskeidenheid my dankbaarheid uitleef. Lees weer Rom 12:3-5

Dit beteken dat ek nie deel is van die gemeente om te heers nie, maar om te dien en te offer. Dit beteken ook nie noodwendig dat ek op dieselfde manier sal dien as al my medegelowiges nie.

Die vraag wat ek myself moet vra:

Is ek gereed om te vra na sy wil?

Is ek bereid om sy antwoord te aanvaar sodat Hy deur my iets in sy gemeente kan laat gebeur wat Hom sal verheerlik?

Is ek bereid om my plek vol te staan en my verhouding met die Here sigbaar te maak hier tussen medegelowiges?

4.2 Die Gemeente as Christus se liggaam

Paulus leer ons om groot te dink oor die gemeentes. Die gemeente is niks anders as die liggaam van Christus nie (5). Ons kry deel aan Christus en aan mekaar, omdat God ons deel maak van hierdie lewende gemeenskap, wat groter is as ons.

4.3 Die Gawes in die liggaam van Christus

Dit bring ons by die laaste moment in ons teks, die gawes waarmee ons God as lewende offers dien

(12:6-8).

Rom 12:6

Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely.

Rom 12:7

As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee.

Rom 12:8

As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.

Om as liggaam van Christus te leef, gee God bepaalde genadegawes (charismata) aan elke gelowige volgens wat Hy dink nodig is in die gemeente (Rom 12:6).

Paulus fokus op sewe genadegawes.

Tussen hakies: Daar is ook ander lyste van gawes in sy briewe.

Hy verwys na ander genadegawes in Romeine 1:11, 5:15-16, 6:23 en 11:29 asook in 1 Korintiërs 7:7, 1 Kor 12:7-11, 1 Kor 12:28-30 en Efesiërs 4:11.

Dit help ons verstaan dat die gawes wat die lewende God gee situasie-gebonde is vir die spesifieke geloofsgemeenskap waarvan ek deel is, en waarin ek geroep is om myself aan God en medegelowiges te gee.

Wat belangrik is, is dat God die gewer van al die gawes is en dat Hy deur die Gees dit aan elke gelowige gee ooreenkomstig sy bedoeling (6).

Hierdie gawes is nie rede tot selfroem of selfverheerliking nie. Dit is geskenke van God aan my, wat bedoel is vir die lewe in die gemeente. God kan gawes "wegneem" of "byvoeg" na sy goeddunke.

Elke gawe afsonderlik maar ook as geheel het ten doel om God te eer en die gemeente op te bou. Dit raak aspekte wat werklik nodig is vir die gemeente om as liggaam van Christus te lewe:

  • Die gawe om God se wil aan die gemeente bekend te maak (profesie in Rom 12:6);

  • Diens, onderrig en bemoediging van medegelowiges op verskillende maniere. ( Rom 12:7-8);

  • Gee van wat ek het sonder teësin of uit dwang ( Rom 12:8b);

  • Leiding of bestuur met toewyding in ’n gemeente in sy geheel of individueel (Rom 12:8c);

  • Hulp aan ander wat in nood is (Rom 12:8d).

4.4 Waarvoor gebruik God my?

By elkeen van ons ontstaan die vraag watter gawes die Here aan ons toevertrou het om diensbaar te wees in die liggaam van Christus?

Hoe dra ek by tot die lewe van die lewende geloofsgemeenskap?

Wat is my rol in die opbou en die uitbou van die liggaam van Christus?

Die liggaam is geroep om God se genade (in Jesus Christus deur die kragtige werk van die Heilige Gees) sigbaar te maak. Dit kan ek net doen deur myself te gee sonder om iets in ruil of vergoeding daarvoor te verwag.

5. Om saam te vat

God se groot ontferming bring my na 'n nuwe plek, met 'n nuwe roeping. Ek verhuis na die nuwe ruimte wat die genade van God vir my moontlik maak. Ek doen dit saam met ander mense:

  • Saam gee ons onsself as lewende offers aan God. (Rom 12:1)

  • Ons leer om die ou lewe met sy waardes af te sterf, en in te pas in die nuwe patroon van lewe in die nuwe wêreld en gemeenskap wat God skep. (Rom 12:2)

  • Ons nuwe lewe is 'n lewe in gemeenskap: met God en met mekaar. Ek is nou deel van die liggaam van Christus, waarin ek myself ook gee aan medegelowiges ooreenkomstig die gawes wat God aan my gee. (Rom12:3-5)

  • Hierdie lewe is een van konkrete diens, waarin ek met my gawes meewerk aan die diens van God en mekaar (Rom 12:6-8)

TOEWYDING

n Lied 453 v 1, 2

Kom, dank nou almal God

met hart en mond en hande;

loof Hom wat wonders doen

tot in die verste lande.

Van vroeg, van kindsbeen af,

het Hy ons trou bewaar

en tot vandag toe nog

geseën en gespaar.

Lof, eer sing ons voor God,

die bron van alle lewe -

die Vader, Seun en Gees,

almagtig en verhewe.

Drie-enig God, ons roem

u krag en majesteit.

O Heer, ons wil U noem:

ons God in ewigheid

DIE HERE SE BELOFTE

n Hy is teenwoordig

Jan se plaas 3.JPG

 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page