top of page

Tot hoe ver gaan die genade van die Here?

  • Writer: NG Kerk Aberdeen
    NG Kerk Aberdeen
  • Aug 17, 2014
  • 9 min read

Sondag 17 Augustus Romeine 11 v 29

Tot hoe ver gaan die genade van die Here

Ds. Abe Beyers

Ontmoeting - Here en ons

12 Lewende Water.png

Ons erken die Here

Hy groet ons

Ons sing dankbaar Psalm 146 v 1, 3, 5

Prys die Here, loof en prys Hom.

Ek wil God se lof besing.

Hy is magtig; loof en prys Hom.

Ek wil God my loflied bring,

en so lank ek leef Hom eer.

Loof die groot en troue Heer.

Hy is goed, die God van Jakob,

vestig ook op Hom jou hoop.

Hulpeloses rig Hy weer op,

blinde oë maak Hy oop.

Hy wat als geskape het,

Hy alleen sal jou kan red.

God gee uitkoms en bevryding,

hongeriges gee Hy brood.

Hy genees ons van ons lyding

en verlos uit elke nood.

Die verdrukte in gebed

hoor Hy aan, sy liefde red.

Verhouding

Wie is die Here? (Ef 2v5)

Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!

nEn nou ons? (Ef 4v22)

Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; Lewe in liefde

Ons antwoord met Lied 308 v 1, 3, 5

Neem my lewe, laat dit, Heer,

U gewy wees meer en meer.

Laat my hart gedurig juig

en van dankbaarheid getuig.

Neem my stem en laat my sing

aan U, Here, hulde bring.

Laat my mond dié boodskap dra:

Hul sal vind wat na U vra.

Maak my hart vir U tot troon

deur u Gees wat in my woon.

Rig my wil, gevoel en daad

altyd na u wyse raad.

Luister-tyd

Gebed

Woord – Romeine 11

Rom 11:1 "Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?" sou iemand kon vra. Beslis nie! Ek is immers self ook ‘n Israeliet, ‘n afstammeling van Abraham, uit die stam Benjamin.

2 God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie.

Rom 11:29 As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.

30 Vroeër was julle heidene, ongehoorsaam aan God, maar noudat die Jode ongehoorsaam geword het, het God Hom oor julle ontferm.

31 Net so gaan dit ook met die Jode: omdat God Hom oor julle ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. Maar dit gebeur sodat hulle self ook nou ontferming kan vind.

32 God het almal aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm.

Rom 11:6 En as dit uit genade is, dan is dit nie uit verdienste nie, anders sou die genade nie meer genade wees nie.

Ef 2:8 Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.

9 Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.

1. GEWELD

Oor die afgelope weke is die wêreld geskok deur die hernude geweld tussen Israel en die Palestyne. Bomme hael oor en weer neer. Die lewensverlies is dramaties. Pogings om 'n suksesvolle skietstilstand te bewerkstellig, ly skipbreuk.

Oor byna die afgelope 100 jaar was Israel en die Jode dikwels in die nuus. Van die skokkendste gebeure in die 20ste eeu was die wyse waarop sowat 6 miljoen Jode in strafkampe uitgemoor is. Die geboorte van die Joodse staat in 1948 was gebaai in die bloed van duisende mense.

Sedert 1948 was Israel verskeie kere in oorlog gedompel met sy bure. Naas die sesdaagse oorlog van 1967 en die Jom Kippoer-oorlog van 1973, het daar nie 'n dekade verbygegaan sonder ernstige konflik nie. Mens dink aan die 1982-oorlog met Libanon, daarna weer in 2006; die Gasa-oorlog van 2008-9, en nou weer die hernude geweld

Israel en sy bure haal gereeld die nuus. Israel en die nasies bly 'n dramatiese, gespanne item op die wêreld-agenda.

Beteken dit nou die Jode is vir ewig buite God se genade? Beteken die geweld dat hulle nie meer gered kan word nie? Is dit verby met hulle? Het die Here vir die Jode verstoot, verwerp?

Lees Romeine 11v1-2

Rom 11:1 "Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?" sou iemand kon vra. Beslis nie! Ek is immers self ook ‘n Israeliet, ‘n afstammeling van Abraham, uit die stam Benjamin.

2 God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie.

En dan kom die trooswoorde van die apostel Paulus: As die Here een maal sy genadegawes geskenk het, trek Hy dit nooit weer terug nie. (Romeine 11v29)

Die deur staan nog altyd oop vir hierdie geweldadige nasie – erken Jesus en word gered.

2. WANNEER HOU GENADE OP?

Ons het nou gehoor wat die apostel Paulus oor die Jode sê, maar hoe moet ons óns situasie sien, hoe moet ons dink oor die Here se genade?

So vra iemand onlangs: het ek nie dalk die onvergeeflike ding gedoen en nou is daar nie meer vir my genade nie? Het ek nie dalk die sonde teen die Heilige Gees gepleeg en nou is ek verlore nie? Kan ek nog vergifnis ontvang?

En dan kom die trooswoorde:

As die Here een maal sy genadegawes geskenk het, trek Hy dit nooit weer terug nie.

Of iemand anders sê: as jy hoor wat ek alles aangevang het, dan is daar beslis nie vir my meer plek by die Here nie.

Wat gaan ons vir daardie een antwoord?

As die Here een maal sy genadegawes geskenk het, trek Hy dit nooit weer terug nie.

Of miskien ‘n negatiewe voorbeeld van iemand wat nie die genadeboodskap genoeg gehoor het nie. Daar was die vrou met die naam Elvia. Hulle kinders was nog klein en toe trek hulle na ‘n nuwe huis toe – haar broer het ook kom help om alles uit te pak en in te dra. En op ‘n stadium staan al die bokse daar buite en die kinders speel ook daar tussen al die bokse. En die broer gaan toe uit om gou iets nog in die dorp te gaan kry – en daar ry hy oor die tweejarige seuntjie. Hy kon die selfverwyt nie hanteer nie – deur sy nalatigheid is die seuntjie dood. En op die ou einde was sy woorde: daar is nie meer vir my genade na wat ek gedoen het nie. Later het hy homself doodgeskiet.

Of miskien nader na ons toe. En sê nou iemand hier in die gemeente vat sy goed en hy loop – en hy sê: “met die kerk en met die Here van die kerk wil ek niks te doen hê nie. Oom so en so het hierdie vreeslike goed gesê en daardie ouderling het dit aan my gedoen”.

Wat gaan ons dan vir hom sê?

Gaan ons sê: maar dan is dit verby met jou, jy het jou kans gehad?

Of gaan ons sê soos wat die apostel Paulus daar van die Jode sê:

As die Here een maal sy genadegawes geskenk het, trek Hy dit nooit weer terug nie.

3. ONS NIE ANDERS NIE

Daar is tog ‘n ander kant van hierdie storie waarmee die apostel Paulus besig is.

Aan die een kant is hy besig om die gemeente daar in Rome daaraan te herinner – onthou, selfs ook van die Jode en ten spyte daarvan dat hulle nog nie die Here Jesus erken het nie, maak dit nog nie dat die deur vir hulle toe is nie.

Maar dan wil Paulus ook iets vir die nie-Joodse gelowiges daar in Rome deurgee –

hy sê vir hulle: moet julle nou nie anders wees as die Here nie,

as die Here se genadedeur altyd oopstaan, dan mag ons nie anders wees nie.

Die probleem het daar in Rome gekom dat die Griekse en Romeinse gelowiges so met die tyd al meer geword en hulle het toe begin dink

dat hulle maar hulle rug op die Jode kan draai, hulle het nie meer die Jode nodig nie, hulle hoef hulle nie meer te bekommer oor daardie mense nie.

Hulle gedagte was: “julle wil mos die Here Jesus verwerp, nou gaan ons ook vir julle verwerp, julle kry nou wat julle verdien”.

En daarom skryf Paulus daar in vers 31-32:

Net so gaan dit ook met die Jode: omdat God Hom oor julle ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. Maar dit het gebeur sodat hulle self ook nou ontferming kan ontvang. God het almal aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal k an ontferm.

Hierdie gesindheid kan so baie maklik ook onder ons as gemeentelede ontstaan. So gebeur dit daar in die laat jare 80 dat Ronnie daar in die plattelandse gemeente besluit om maar pad te vat nadat die Algemene Sinode in 1986 besluit het die NG kerk is oop vir almal.

Maar na twee weke kom hy tot sy sinne en kom toe weer terug – en wat sê die hooggeagde lidmate toe die oggend voor die erediens vir hom, toe sy ou Toyota-bakkie weer daar inkom? “O, so keer ‘n hond na sy braaksel toe terug”. En daar spring Ronnie toe in sy bakkie om nooit weer terug te kom nie.

Van die gesindheid van die Here - As die Here een maal sy genadegawes geskenk het, trek Hy dit nooit weer terug nie. Van daardie gesindheid was daar niks nie, van vergifnis en genade was daar niks nie.

4. STEEDS UIT GENADE GERED

Die genadelose gesindheid van die gemeente daar in Rome word ook op ‘n ander manier sigbaar in ons.

  • Nie net van ons kant af teenoor hulle daar buite wat nie die Here Jesus ken nie.

  • Ook ek as gelowige kan nou baie maklik begin dink soos die jare aangaan en ek darem nou al ver gevorder het op die pad van die Here,

dan kan ek begin dink dat ek is darem nou nie meer so eenvoudig is soos die ander gelowiges nie, ek kan nie meer met hulle saampraat nie, ek is darem nou al nader aan die Here.

Paulus sê: die Here het nie witbroodjies nie.

In vers 6 sê Paulus dit so: En as die redding uit genade is, dan is dit nie uit verdienste nie, want anders is die genade nie meer genade nie

Ek mag as gelowige, of ek nou al in die mees intiemste verhouding met die Here staan en al het ek al die gawes van die Gees en al het ek al die kennis, dan is ek steeds uit genade gered. Ek mag nooit dink dat ek darem nou al baie beter is as ‘n ander gelowige is nie, dat ek darem baie meer gevorderd is nie, dat ek nie so eenvoudig is soos die ander nie.

Soos die apostel Paulus ook daar aan die gemeente in Efese skryf: Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. (Ef 2v8)

4. EN WAT GAAN ONS NOU MAAK?

Vandag se storie vra van ons dat ons nooit Christen-wees kop-toe moet vat nie –

ek is nog altyd maar net deur die genade van die Here gered –

sy redding maak my nie beter as ander nie.

En net soos die Here Jesus se genade ook goed genoeg vir my is,

so moet my genade ook goed genoeg vir ander wees.

Maar daar is tog ook ‘n stuk troos in die storie –

al het ek ook wat aangvang, al het ek ook my rug op die Here gedraai, al is ek wie –

die belofte staan:

As die Here een maal sy genadegawes geskenk het, trek Hy dit nooit weer terug nie.

En dis hierdie belofte van die Here wat ons kan gaan uitdra, wat ons kan deurgee vir daardie een daar buite, vir die een wat bang is die Here het hom verwerp.

Toewyding

Lied 510 v 1, 2, 3

Genade, onbeskryflik groot

het U aan my bewys:

verlore seun - ‘n wegloopkind -

weer in die vaderhuis.

Ek is die naam van kind nie werd -

wou self my sake reël.

My lewe, kanse, tyd en geld

is nutteloos verspeel.

Maar U sien ver, oneindig ver.

U sien my honger, dors.

Nog voordat ek kon skuld bely,

druk U my aan die bors.

Dankbaarheid

Offergawes

Laaste Lied – 284 v 1, 2, 3

Laat Heer u vrede

deur my vloei

Waar haat is, laat ek daar U liefde bring.

Laat ek in pyn en

smart vertroostend wees

En krag gee deur geloof in U, o Heer

Refrein

O Heer, help my om altyd so te leef –

om ander hoër as myself te ag,

Ja, om lief te hê – ander bo myself –

en ook eerder te gee as te verwag.

Laat Heer u vrede deur my vloei

en laat ek hoop gee waar daar twyfel is.

Ek wil u lig in duisternis laat skyn.

Laat ware vreugde altyd uit my straal

Herhaal die refrein bo

Laat, Heer, u vrede deur my vloei…

leer my om ook soos U te kan vergeef

Maak my bereid om aan myself te sterf,

dat ander U al meer in my kan sien.

Die Here se belofte

Hy gee sy teenwoordigheid

 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page