top of page

Om 'n passie te hê vir hulle wat Christus nie ken nie.

  • Writer: NG Kerk Aberdeen
    NG Kerk Aberdeen
  • Aug 10, 2014
  • 9 min read

10 Die Bergrede.png
10 Die Bergrede.png

Romeine 10 v 1 Sondag 10 Augustus 2014

Tema: OM 'n PASSIE TE Hê VIR HULLE WAT CHRISTUS NIE KEN NIE,

EN OM DIE TELEURSTELLING TE HANTEER AS MENSE NIE GLO NIE.

Ds Abe Beyers

ONTMOETING

  • Ons erken die Here se grootsheid

  • Hy groet ons

  • Ons sing ‘n loflied – 168 v 1, 2, 3

Heilige Jesus,

Heer van die here,

U is verhoog tot die hemeltroon.

Ons bring U ere, Christus, die Here!

Met heerlikheid is U gekroon.

Mooi is die aarde,dit het groot waarde,

maar is gering voor u grootheid, Heer.

U is ons lewe, U is ons vrede.

U Gees moet ons hier lei en leer.

U is die Alfa, en die Omega.

U kom en elkeen sal U kan sien.

U is die Eerste. U is die Laaste.

Die ganse skepping sal U dien.

VERHOUDING – ONS EN DIE HERE

  • Die Here? - vergewe en vernuwe

  • Ons? - bely, ontvang vernuwing en blydskap

Psalm 51: 3- 15v

v3 Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit

in u groot barmhartigheid!

v4 Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde!

v5 Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus.

v6 Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u

oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig.

v7 Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder

swanger geword het.

v8 Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart: laat ek dan diep

in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe.

v9 Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees, was my dat ek

witter as sneeu kan wees.

v10 Laat my weer blydskap en vreugde belewe. U het my verbrysel;

laat my weer jubel.

v11 Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit!

v12 Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my

standvastig.

v13 Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af

wegneem nie!

v14 Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is,

laat my U weer met toewyding dien.

v15 Dan sal ek oortreders leer wat U van ‘n mens verwag; dat die

sondaars hulle tot U sal bekeer.

Antwoord met Lied 261 v 1

Ek glo in God,

die Vader,

almagtig' Skepper heer,

wat hemele en aarde

gemaak het en beheer.

Sy troon is heerlikheid,

en wonderlik sy dade;

deur sy geliefde Seun

verlos Hy uit genade.

LUISTER-TYD

  • Gebed

  • Woord – Romeine 10

1. ONS FOKUS

Die afgelope weke kry ek gereeld e-posse oor die ellende in Irak – daar is oorlog tussen die verskillende Moslem-faksies, en die Christene is dikwels in die spervuur. En ons word opgeroep dat ons tog moet voorbidding doen dat die gevegte kan beëindig word.

En tog het ek nie gegaan en sms’e vir die gemeente uitgestuur om tog voorbidding te doen vir die situasie daar in Irak nie.

Of dink bv. aan die ellende daar in die Gasa-strook waar die die Israeliete en die Haman-beweging aan die oorlog-maak is.

Weereens het ek nie dringend die gemeente opgeroep tot voorbidding nie, of self ‘n ernstige poging aangewend om elke dag vir die geweld aldaar te bid nie.

Of sowat ‘n maand terug was ons in die Transkei om die verskillende sendingstasies daar te gaan besoek en het die verhale gehoor van hoe die sendingstasies nou weer begin funksioneer het met die hulp van verskeie organisasies wat hulp verleen –

en tog het ek nie almal dramaties opgeroep om tog voorbidding te doen vir die groei van die geloof daar in die Transkei en vir die baie wat nog vasgevang is in verkeerde dinge nie.

Ek het ook nie sommer ‘n span mense bymekaar gemaak om daar in die Transkei te gaan help om die sendingstasies weer op te bou nie.

Daarteenoor lees ons bv van Paulus wat ‘n passie gehad het vir sy Joodse volksgenote omdat hulle nie die Goeie Nuus oor Jesus wou aanvaar nie.

LEES: Romeine 9: 1-3

v1 In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg

nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig

v2 saam met my dat daar by my groot droefheid en voortdurende

v3 hartseer is oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek

wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon

wees.

LEES: Romeine 10: 1 – 3

v1 Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle

gered word, want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir

God is, maar sonder die regte insig.

v3 Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense

vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak

weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry.

Daar is ander wat ook so ‘n passie gehad het vir hulle wat nie die Here Jesus ken nie: Ek lees die storie van:

- Edward Kimball, hy was 'n assistent in 'n skoenwinkel in Chicago. Hy was

ook 'n Sondagskoolonderwyser, en het sy vryetyd spandeer deur

straatkinders in Chicago se middestad op te soek en hulle van Jesus te

leer.

- Deur sy getuienis het 'n jong seuntjie, D.L. Moody, in 1855 tot geloof in

Christus gekom. Moody het 'n bekende prediker geword.

- In 1879 kom F.B. Meyer deur Moody se getuienis tot geloof in die Here.

Meyer het 'n prediker geword, en J.W. Chapman na die Here gelei.

- Chapman het 'n prediker geword, en die boodskap van Christus aan 'n

basketbalspeler, Billy Sunday, gebring.

- Billy Sunday het herlewingsdienste in Charlotte, Noord-Carolina gehou.

Onder sy prediking het 'n tienerseun, Billy Graham sy lewe vir die Here

gegee.

- Graham het die goeie nuus met passie wêreldwyd gedeel.

Dit het alles begin met een man wat na die strate uitgereik het en wat aan 'n tienerseun in 'n skoenwinkel vertel het dat die Here hom liefhet.

2. WAT IS DIE GENADEBOODSKAP?

Miskien moet ons tog eers gaan kyk wat ís die genadeboodskap waaroor Paulus en sovele ander so opgewonde was.

Die apostel Paulus skryf sό daaroor:

LEES: Romeine 10: 8b-9

v8b En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons

verkondig:

v9 As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo

dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.

Kyk net weer na die woorde: as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is.

Dit kom maar net weer neer om die ou woorde:

wie die grootsheid en Heerskap van die vernederde vermoorde Jesus erken, of te wel wat sy eie kleinheid teenoor Jesus se grootsheid erken, hy of sy sal deur die Here nuutgemaak word, of te wel gered word van die houvas van die bose.

Of die woorde met die hart glo ons – herinner maar net weer aan die gesindheid van vertroue in hierdie Here Jesus, dat Hy die Verlosser is.

In vers 10 sê Paulus maar weer dieselfde:

LEES: Romeine 10: 10

v10 Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond

bely ons, en ons word gered.

En in vers 11 is daar die waarborg, die belofte dat wie ook al die grootsheid van die Here Jesus erken, of te wel homself verneder voor hierdie Jesus, sal nie teleurgestel word nie.

LEES: Romeine 10: 11

v11 Die Skrif sê tog: "Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word

nie."

Dit is hierdie eenvoudige boodskap van genade waaroor Paulus so opgewonde is, maar wat hom terselfdertyd so laat treur oor die Jode wat maar tog nogtans nie hierdie genadeboodskap kan of wil aanvaar nie.

Hy treur oor hulle wat nog steeds vashou aan hulle gedagte om so voor die Here te presteer, te “perform” dat die Here hulle daarom moet lewe gee.

Hoekom is die apostel Paulus so geraak deur die Jode wat nie die boodskap van die Here Jesus wou aanvaar nie?

Dit gaan nie maar net daaroor dat dit sy eie volksgenote is nie,

– dit gaan daaroor dat hy weet sόnder Jesus ís daar nie lewe nie,

sόnder die erkenning van Jesus as jou Verlosser kan jy nie uit die mag

van die bose loskom nie,

sόnder Jesus is daar nie nuutmaking en oorwinning oor die kwaad nie.

Of dit vir ons regtig raak as mense nie die Here Jesus erken nie, is ‘n vraag.

Of dit vir ons raak as mense duidelik nie die Here Jesus erken nie en daarom nie die lewe het nie, is steeds ‘n vraag.

3. DIE TELEURSTELLING, SELFVERWYT

Maar nou kom die anderkant van Paulus se storie:

- hy wat so ‘n passie het vir die Jode, dat hulle die genadeboodskap van

Jesus sal hoor en besef dat dit Jesus is wat die lewe gee.

- dat hulle sy redding sal ontvang en bevry sal word van die houvas van

die bose en sodoende die vrede en vreugde sal ervaar om kind van God

te wees.

- Paulus kan dit net nie verstaan dat die Jode nie kon raaksien dat Jesus

die langverwagte Verlosser is nie. Dit ontstel Paulus verskriklik.

En miskien is dit die vraag by baie van ons ook:

  • Sovele hier in die gemeente het al gesê: ek vertel al soveel jare die genadeboodskap daar op my plaas, maar hulle het nie gehoor nie, want niks het nog verander nie.

  • Of ‘n ouer sal kla dat hy alles moontlik gedoen het om vir sy kind die wonder van Jesus deur te gee, maar dit het niks gehelp nie. Hy wou maar nie hoor nie.

  • Of die ouderling het sovele male probeer om kontak te maak met daardie gesin, maar niks gebeur nie.

En so worstel die apostel Paulus ook oor hierdie ding:

kan dit dalk wees dat die Jode miskien nie weet van hierdie wonderlike verlossingsplan van die Here Jesus nie? Dan antwoord hy: Nee hulle moet weet, want die Here bring sy genadeboodskap uit by mense deur hulle wat die woorde oordra. Baie eenvoudig: mense vertel van die genadeplan van die Here Jesus en ander hoor dit en hulle kom ook tot inkeer, hulle kom ook tot geloof in hierdie Jesus.

En dan antwoord Paulus: dis gedoen, die Jode het die boodskap gehoor

LEES: Romeine 10:12b – 14a

12b Dit maak dus geen verskil of ‘n mens ‘n Jood of ‘n Griek is nie,

want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom

aanroep, ryklik,

v13 want elkeen wat die Naam van die Here aanroep,

sal gered word.

v14 Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En

hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe

kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?

Daarmee sê Paulus:

maar ek as Paulus is gestuur,

en toe het ek gepreek,

en toe het hulle gehoor,

en toe.. en toe het hulle níe geglo nie.

Dis vir Paulus tragies, onverstaanbaar.

Al troos wat Paulus het in die hartseer situasie is: ek hét die genadeboodskap van die Here Jesus oorgedra, ek hét orals waar ek kom vertel van die verlossing deur Jesus Christus.

4. NIE MOED OPGEE NIE

Al wil die apostel - net soos ons - ook maar moedeloos raak nadat hy alles in die stryd gewerp het en alles gedoen het, dan onthou hy van die profeet Elia:

LEES: Romeine 11: 1 – 4

v1 "Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?" sou iemand kon vra.

Beslis nie! Ek is immers self ook ‘n Israeliet, ‘n afstammeling van

Abraham, uit die stam Benjamin.

v2 God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie.

Of weet julle nie wat die Skrif sê van Elia nie, hoe hy by God oor

Israel gekla het: "Here, hulle het u profete doodgemaak en u

altare afgebreek, en net ek het oorgebly, en hulle wil my ook om

die lewe bring."

v4 Maar wat het God hom geantwoord? "Ek het vir My sewe duisend

manne laat oorbly wat nie vir Baäl aanbid het nie."

Daarom aan ons – moenie moedeloos word en opgee om steeds orals die goeie boodskap van genade te verkondig nie.

Op ‘n dag breek die Nuwe Lewe deur soos die son na die reёn deurbreek en lig bring.

Soms op ‘n tyd wat jy dit nie verwag het nie, dan breek die Lig deur in ‘n persoon se lewe – hou daarom aan om die Goeie Boodskap van Jesus se genade te bring en uit te leef.

ERKENNING

  • Ons sing lied 280 v 2, 3

U, my Redder, groot en magtig,

U het my ook raakgesien.

Ek is feilbaar, swak, onseker,

tog wil ek U dankbaar dien.

God, my Here – u is Here!

Vas kan ek op U vertrou,

vas kan ek op U vertrou.

Lei my, Heer, na dié bestemming

in u Woord my opgedra.

Laat my leef en werk met vreugde

want dit sal volharding vra.

Heer, u lyding bring bevryding:

Al ons skuld het U gedra,

al ons skuld het U gedra.

DANKBAARHEID

  • Laaste Lied – 602 v 1, 4, 5

Ek sien 'n nuwe hemel kom,

'n aarde nuut en vry.

Die see en al wat skei, verdwyn.

God self kom by ons bly.

"Kyk, Ek maak alles nuut", sê God.

"Laat hom wat dors het, kom.

En hy sal vind hy is my kind;

Ek is 'n Gód vir hom!"

Oorwinnaars sal ons alles erf

en drink uit die fontein

van lewenswater, heerlik, rein.

En God sal oor ons skyn.

DIE HERE SE BELOFTE

  • Sy teenwoordigheid


 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page