Om arrogant te wees.
- NG Kerk Aberdeen
- Jul 15, 2014
- 8 min read

13 Julie 2014 Ps 29
OM ARROGANT TE WEES
Ds. Abe Beyers
Ontmoeting
Ons aanbid die HERE
Hy groet ons
Ons sing ‘n loflied – Psalm 146 v 1, 2, 5
Prys die Here, loof en prys Hom.
Ek wil God se lof besing.
Hy is magtig; loof en prys Hom.
Ek wil God my loflied bring,
en so lank ek leef Hom eer.
Loof die groot en troue Heer.
Van die mens bly niks behoue,
sonder asem word sy mond.
Stel in hom dan geen vertroue,
selfs die magtigste word grond.
Al sy planne gaan tot niet.
Hoe kan hy jou redding bied?
God gee uitkoms en bevryding,
hongeriges gee Hy brood.
Hy genees ons van ons lyding
en verlos uit elke nood.
Die verdrukte in gebed
hoor Hy aan, sy liefde red.
Verhoudings-tyd
Wie is die Here? (Efes 1 v 3-5)
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons
in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.
So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.
In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor
bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.
En ons?
6 Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die
Geliefde vrylik aan ons geskenk het.
Ons antwoord met Lied 214 v 1,2, 3
Here, ons sal U loof,
u weldade roem.
U Naam sal ons eer,
almagtige Heer,
want U het wonders gedoen.
Here, ons sal U loof.
U het ons verlos,
uit duister bevry;
ons harte verbly -
dit het u lewe gekos.
Here, ons sal U loof,
u weldade roem.
Dis U wat voorsien,
ons wil U graag dien
en U ons Vader noem.
Woord-tyd - Psalm 29
Gebed
1. MAGSAANSPRAKE
So van tyd tot tyd maak mense dramatiese magsaansprake – hulle sal verklaar dat hulle die mag in die hande het en niks sal hulle uit die posisie van mag kan uithaal nie.
So het die eienaars van die Titanic-skip sowat 102 jaar terug verklaar dat niks hulle skip sal kan laat sink nie, want agv die ontwerp is die skip onsinkbaar. Maar nou weet ons intussen wat met die Titanic gebeur het.
So het Hitler in die jare 30 van die vorige eeu dramaties verklaar dat hulle as Duitsers 'n supervolk is en dat hulle dus die hele wêreld onder hulle mag wil hê – en dit het die tweede wêreldoorlog tot gevolg gehad.
Of so het die Amerikaanse Finansiële markte in die begin van die jare 30 met groot spoed vorentoe gegaan en die aandeelpryse het dramaties toegeneem – en toe stort dit inmekaar in 1932 en die hele wêreld is in ‘n depressie.
Nader na ons toe: Maak ons ook vandag sulke magsaansprake van hoe ons dinge onder beheer het?
Natuurlik – luister maar net na politieke partye en hulle aansprake.
Of op ‘n baie kleiner vlak: so het baie pasgetroudes al die aanspraak gemaak dat hulle huwelik die wonderlikste sal wees en hulle sal hulle kinders volmaak grootmaak – en dan stort die huwelik tog maar later dramaties inmekaar.
Of so sal die eienaar van ‘n besigheid dramaties verklaar dat alles so goed gaan dat niks hom sal kan keer nie, en dan werk dit nie so nie.
Maar voordat julle vandag begin dink dat die storie gaan daaroor dat ons nie te verwaand en te arrogant moet wees nie, want kyk net wat het in die verlede gebeur met sovele mense se arrogante magsverklarings – hoe dramaties het hulle nie dikwels gevou nie. Nee, die storie gaan daaroor dat Christene hulle posisie juis meer duidelik moet verklaar, meer arrogant hulle storie moet vertel.
2. KONING DAWID
Ons lees bv. van koning Dawid se arrogansie, hoe hy die tradisies en die aannames van die tyd uitgedaag het.
LEES Psalm 29 v 1 – 9
Ps 29:1 ‘n Psalm van Dawid. Prys die Here, julle hemelinge! Prys die Here om sy eer en mag!
2 Prys die Here om die eer van sy Naam! Buig voor die Here by sy heilige
verskyning!
3 Die stem van die Here weerklink oor die waters. Dit is die magtige God wat
die weer laat dreun; die Here self is op die groot waters!
4 Die stem van die Here is magtig, die stem van die Here is vol majesteit.
5 Die stem van die Here kloof die seders van die Libanon oop.
6 Hy laat die Libanon bokspring soos ‘n kalf en die Sirjon soos ‘n jong bees.
7 Die stem van die Here laat weerlig uitslaan.
8 Die stem van die Here laat die woestyn bewe. Die Here laat die Kadeswoestyn
bewe.
9 Die stem van die Here laat die wildsbokke ruk van skrik; dit stroop die bosse kaal. In sy paleis roep almal uit: "Hoe geweldig!"
Die algemene idee wat die gemeenskap in Israel van daardie tyd gehad het, was bv dat die Baälgod van die Kanaäniete op die wolke gery het. Die Israeliete het dit geglo omdat hulle deur die Kaänaniete se Baälgodsdiens beïnvloed was. So is dit voorgestel en so is dit aanvaar.
Die God van Israel was wel die God van die Israeliete – maar almal het hierdie mite oor die Baälgod nogtans aanvaar en dit het deel van hulle kultuur geword. Omdat wolke en reёn ‘n oes beteken het, het die Baälgod gestaan vir vrugbaarheid, daarom was dit vir hulle ‘n algemeen aanvaarbare prentjie. Baäl ry op die wolke.
En dan was daar die verdere aanvaarde tradisie wat niemand betwyfel het nie - want dit was so algemeen – dat die donderweer Baäl se knopkierie was en die blitse was sy spies. Klaar uit en gedaan.
Terloops, dink net aan die profeet Elia se stryd 150 jaar later daar op die berg Karmel om die aanvaarde tradisies van die Baälgodsdiens verkeerd te bewys (1 Kon 18).
En nou lees ons van koning Dawid wat sy nek uitsteek deur aanvaarde sosiale tradisies uit te daag en doodluiters te sing dat dit die Here, die God van Israel is wat op die wolke ry en dis eintlik sý stem wat hulle hoor in die donder en dit is sý donder en blitse wat die sederbome oopkloof daar op die Libanon-berge.
Jy kan al voor jou oë sien hoe stik die Kanaäniete en baie Israeliete in hulle wynbekers van pure ontsteltenis oor koning Dawid se voorbarigheid.
LEES vers 10
10 Die Here heers oor die watermassas, Hy heers vir altyd as koning.
En hier kom Dawid en hy maak die verklaring dat dit die God van Israel is wat troon oor die oerwaters, wat van al die tyd af daar is – ten spyte van wat die Kanaäniete in die land gesê het.
3. EN ONS?
Nou nader na ons toe. In die begin het ons van mense se arrogante magsaansprake gepraat – maar kyk nou net vir koning Dawid. kyk hoe het hy die algemeen aanvaarde tradisies eenvoudig van die tafel afgevee – en die grootsheid van die Here verklaar, ongeag wat mense gesê en gedink het.
Sien ek nou kans om op Dawid se manier - ten spyte van wat mense gaan sê - die Here Jesus se mag en heerskappy te verklaar?
Sien ek nou kans om my kop uit te steek en te sê:
om bv vir die ANC, wat verklaar het dat hulle sal regeer tot die wederkoms, Jesus se antwoord te gee? Sal ek gaan sê soos wat Jesus vir Pilatus gesê het: jy sal geen mag hê as die Vader dit nie vir jou gegee het nie?
om bv vir ‘n Moslem te sê: daar is alleen nuwe lewe deur onderwerping aan Jesus Christus. Dat Jesus alleen kan red?
Nog voorbeelde:
Iemand vertel nou onlangs – daar by ons in die familie sal niemand hardop bid nie, ons godsiens is maar baie privaat, ons praat nie oor geloof nie, want netnou neem die mense aanstoot. Nou is die vraag: sien ek dan kans om teen die aanvaarde tradisie te sê: maar kom ons dank die Here vandag almal saam, of kom ons vra vandag hulp by die Here?
Koning Dawid het kans gesien om sy nek uit te steek en teen die algemeen aanvaarde tradisie in die grootsheid van die Here God te verklaar – al sê wie ook wat.
4. VERCHRISTELIKING VAN DIE SAMELEWING
Maar ons kan die optrede van koning Dawid nog verder vat. Hy het meer gedoen as om maar net uitdagend die grootsheid van die Here te bely. Dit gaan ook daaroor dat hy die aanvaarde gewoontes van die samelewing ‘n nuwe inhoud gegee het. Hy het die tradisies van die samelewing omgedraai en daarvan ‘n Christelike tradisie gemaak.
In ons dag is bv Kersfees ‘n goeie voorbeeld. 25 Desember was 1000e jare terug ‘n heidense jaarwisselingsfees en nou is die ‘n fees wat die geboorte van Jesus herdenk. ‘n Ou Tradisie wat omskep is in ‘n Christelike fees. Natuurlik is daar miljoene wat nie die Jesus van Kersfees herdenk nie, maar dis nie die punt nie.
Nou is die vraag: watter tradisies kan ons omskep tot eer van die Here God? Ek weet dis ‘n baie moeilike vraag en ek het nie duidelike antwoorde nie, maar ek kan dink aan ‘n paar dinge:
Dink nou net aan ‘n ete waar jy gaan aansit aan die tafel. Ja, ons dank die Here vir die kos, maar van die geleentheid kan soveel meer gemaak word. Dit kan ‘n gesin se kuiertyd gemaak word, waar ons na mekaar luister, dit kan ‘n geleentheid word waar ons almal saam die Here dank vir die kos;
dit kan ‘n geleentheid word waar ons elke keer vir iemand uitnooi wat nie kos het nie, of waar ons sommer iets ekstra maak om vir iemand uit te deel.
So word die eenvoudige ete ‘n fees tot eer van die Here. En so word ‘n nuwe tradisie geskep.
Jesus self het ook ou tradisies omgekeer en nuwe inhoud gegee – dink maar aan die Nagmaal, die ete wat vir jou laat onthou.
5. TROOS
Maar dan aan die einde van die Psalm (van die arrogante koning Dawid), is daar ‘n belofte, ‘n stuk troos – iets wat koning ook met vrymoedigheid kon verklaar teen wat mense gedink of gevoel het op daardie stadium:
LEES vers 11
11 Die Here gee krag aan sy volk; die Here seën sy volk met oorvloed.
Die Here gee krag en vrede aan sy kinders;
–hierdie woorde nooi ons uit om met vrymoedigheid teen die strome van die tyd te leef en anders te wees – want die Here is groot en magtig.
- dit nooi ons uit om situasies in die oë te kyk sonder vrees, want die God wat die seders op die berge laat oopkloof of die woestyn laat bewe is óns God!
Ons antwoord
Lied 474 v 1, 2, 3
Skeppergod, U is die Heer
wat die groot heelal regeer.
Christus aan u regterhand
hou u handewerk in stand.
U deel aan ons gawes uit
om die bronne te ontsluit
U laat weerligflitse slaan,
U beveel die stormorkaan.
U beheer die arendvlug
en ook stralers in die lug.
Alles hou U in u hand
in die lug, op see en land.
Heer oor kuns en wetenskap,
U heers oor ons vakmanskap.
Heer oor chemie en musiek,
U eis orde, metodiek.
Leer ons alles só hanteer
dat ons U daardeur sal eer.
Dankbaarheid
Offergawes
Laaste Lied 488 v 1, 2, 3
Helder skyn u lig vir die nasies,
'n vreugdeglans om die mense te verlig
tot die hele wêreld kan sien
U is die lig.
Mag u lig, Heer, deur ons skyn.
Vrolik klink ons lied vir die volke,
'n pryslied bring
al die nasies om ons saam
tot die hele wêreld kan jubel oor u Naam
Mag u lof, Heer, deur ons klink.
Balsem bring herstel vir die wonde,
'n sagte salf vir die mense met hul seer
tot die hele die wêreld kan sien
dat U genees.
Mag U troos, Heer, deur ons bied.
Die Here se belofte
Hy gee krag en Hy gee vrede
Comentários