top of page

Die frustrasie van Christen wees.

  • Writer: NG Kerk Aberdeen
    NG Kerk Aberdeen
  • Jul 8, 2014
  • 7 min read

NED. GEREF. GEMEENTE ABERDEEN 1.jpg
NED. GEREF. GEMEENTE ABERDEEN 1.jpg

Matteus 11 v 2 – 19 Sondag 6 Julie 201

DIE FRUSTRASIE VAN CHRISTEN WEES. Ds. Abe Beyers

Ontmoeting met die Here

Ons erken Hom

Hy groet ons

Ons sing ‘n Lied tot sy eer – 470 v 1, 4

U, Here, is ons Koning,

Een wat met mag regeer.

U onderdane lofsing,

en buig hul voor U neer.

Groot is u Naam en heilig,

getrou is U en goed.

U, Here, is ons toevlug,

die God wat ons behoed.

Aan U ons jubelsange,

ons prys U met ontsag.

Na U is ons verlange,

ons bly u heil verwag.

Heer, U maak by ons woning,

u lof sal ewig duur.

U koms is ons verwagting,

dít wil ons juigend vier.

Verhouding

Wie is die Here? (Eksodus 20)

Bevryder-God. Ek is die Here jou God wat jou uit die plek van slawerny bevry het

En nou ons? Ter wille van ons…

Erken gesag – eer jou vader en moeder

Beskerm lewe – moenie moord pleeg nie

Beskerm gesin – mag nie egbreuk pleeg

Beskerm eiendom – mag nie steel nie

Ons sing 'n loflied vir die Here.

Lied 214 v 1, 2, 3

Here, ons sal U loof,

U weldade roem.

U Naam sal ons eer,

almagtige Heer,

want U het wonders gedoen.

Here, ons sal U loof.

U het ons verlos,

uit duister bevry;

ons harte verbly -

dit het U lewe gekos.

Here, ons sal U loof,

U weldade roem.

Dis U wat voorsien,

ons wil U graag dien

en U ons Vader noem.

Luister-tyd

Gebed

Woord – Matteus 11

1. FRUSTRASIE

Ek hoef nie vir julle te vertel van frustrasie nie. Maar om nou maar ‘n voorbeeld te noem. Die onderwysdepartement skuld nog vir Christa geld van laasjaar af – maar eers het hulle daarvan vergeet, toe in Maart het die boekjaar verval. Toe moet daar van vooraf aansoek gedoen word, toe is daar ‘n fout êrens want die geld kon nie uitbetaal word nie. Toe weer aansoek doen, maar toe is daar nie ‘n voertuig om die papiere af te vat Bishoe toe nie. Toe dit uiteindelik daar is, gooi die stelsel weer haar aansoek af, want daar is ‘n fout met die invul gemaak. Dus het daar nou nog niks gebeur nie.

Maar ek is seker julle kan nog baie groter stories van Frustrasie vertel. Ons kan dalk selfs ‘n kompetisie hou van wie die meeste en grootste Frustrasie beleef.

2. JESUS SE FRUSTRASIE

Maar die Here Jesus het net so baie frustrasie beleef

LEES Matteus 11: 2-3

Mat 11:2 Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen

het, en het toe deur sy volgelinge ‘n boodskap aan Hom gestuur

om te vra: "Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een

verwag?"

As ons nou dink aan Jesus se frustrasie rondom Johannes;

– Johannes, die wonderlike profeet wat die pad vir die Here Jesus gelykgemaak het, en tog vra Johannes nou daar uit die tronk uit of Jesus nou werklik die Verlosser is, want hy wat Johannes is, het ‘n ánder verwagting van Jesus gehad.

– Johannes se verwagting was dat Jesus die wêreld gaan skoonmaak en die onheiliges gaan uitjaag uit die land uit, en sommer vir Johannes ook red uit die tronk uit. Johannes wou vuur gehad het – en nou kom Jesus met ‘n ander boodskap en ‘n ander styl as wat Johannes verwag het – en daarom Jesus se frustrasie, want Johannes was te haastig. Jesus moes nog eers verneder word, afgaan.

Of dink aan Jesus se frustrasie met die mense daar in die dorpies,

wat nie gereageer het op sy boodskap van Nuwe Lewe nie, of te wel hulle het nie Jesus se Koningskap herken nie. Hy as die Messias, as die Seun van God is by hulle teenwoordig, maar hulle herken Hom nie vir wie Hy is nie.

LEES Matteus 11 v 20

Mat 11:20 Toe het Jesus die dorpe waarin Hy die meeste van sy

wonderdade gedoen het, begin verwyt omdat hulle hulle nie

bekeer het nie:

Jesus vertel naderhand ‘n storietjie/gelykenis om iets van sy frustrasie deur te gee.

LEES Matteus 11 v 16-17

11:16 "Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is net soos

kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep:

‘Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie!

Ons het ‘n treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie!’

3. DIE DISSIPELS SE FRUSTRASIE

As ons nou mooi kyk na die storie, dan is Jesus eintlik besig om die dissipels voor te berei vir die dag wanneer hulle self sal uitgaan om te vertel van hierdie Jesus, van Jesus en sy oorwinning wat naby aan hulle gekom het.

Nou vertel Jesus vir húlle wat sy boodskapdraers sal wees,

van die frustrasie wat húlle gaan beleef.

Hulle gaan byvoorbeeld met allerhande name uitgeskel word deur mense

as hulle dit durf waag om iets te vertel van Jesus

Lees Matteus 11 v 18-19

Mat 11:18 Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: ' Hy is van die duiwel besete.’

19 Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en

sondaars.’ Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit."

Soos Johannes die profeet uitgeskel was en beskuldig was dat hy van die duiwel besete was, so is die Here Jesus uitgeskel vir ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van die tollenaars.

Dus, as die mense vir Johannes en vir Jesus so uitskel en sleg maak, hoeveel te meer vir hulle as dissipels – hulle gaan ook uitgeskel word en sleg gemaak word.

Wat Jesus dus in die hoofstuk mee besig is, is om die dissipels moed in te praat.

As hulle sy boodskap van sy Heerskap oor die kwaad gaan uitdra tussen die mense, dan gaan hulle baie frustrasie beleef.

Die dinge sal nie so wonderlik gaan soos hulle gehoop het nie,

hulle gaan baie weerstand beleef,

hulle gaan ook moeilikheid kry soos ons daar in hoofstuk 10 laas Sondag gelees het.

Hy moedig dus vir die dissipels aan om moed te hou, om nie moedeloos te raak as dinge nie so wonderlik gaan soos hulle gehoop het nie.

4 ONS FRUSTRASIES

In die begin het ons gepraat van ons frustrasies wat ons van tyd tot tyd beleef – maar ek dink julle kom agter dat Jesus hier van ‘n ander soort frustrasie praat.

Ons praat baie van ons frustrasie rondom die dinge wat ons wil hê en wat ons wil laat gebeur – soos die frustrasie rondom staatsdepartemente en arbeidsituasies en wat nie nog alles nie.

Maar Jesus is besig om:

ons aan te moedig om aan te hou om sy manier van doen uit te dra,

Jesus is besig om ons aan te moedig om aan te hou geduldig wees,

om aan te hou eerder liefde te betoon,

om aan te hou vrede na te streef,

om aan te hou omgee vir mense.

As jy aanhou om hierdie boodskap van die Here Jesus uit te dra, gaan jy baie frustrasie beleef, want mense gaan jou verkeerd verstaan, mense gaan jou uitskel vir wat ook al, mense gaan jou uitlag.

Of te wel, jy gaan dieselfde frustrasie as die Here Jesus beleef –

moenie moedeloos raak nie.

‘n Pa vertel my laasjaar: hy kan dit nie verstaan nie. Hy het drie pragtige kinders.

Twee van die kinders leef hulle uit vir die Here, en dit word sigbaar in hulle optrede en woorde dat die Here Jesus vir hulle baie ernstig is – maar die een, ai tog, dis asof hy al hoe meer opstandig is en al hoe meer wegdraai van die Here af – hy as pa is al so moedeloos.

Of ‘n ouderling beleef die frustrasie rondom sy wyk – hy werk so hard en hy probeer meeleef met die mense, maar hy kry net elke keer ‘n koue skouer, elke keer net die gedagte dat hy hulle pla

5. DIE HERE SE FRUSTRASIE

Maar daar is tog ‘n ander kant van die storie. Jesus het die dinge vertel om die dissipels moed in te praat vir wanneer hulle sal uitgaan en die koningskap van Jesus gaan uitleef.

Tog is daar ‘n stekie aan die einde van die storie – en dit is die vraag wat ek as gelowige vir myself moet afvra:

is ek nie dalk die grootste bron van die Here Jesus se frustrasie hier in Aberdeen nie?

As Hy dalk met iets nuuts wil begin of ‘n dalk iets of iemand wil verander, frustreer ek nie dalk vir Jesus deurdat ek nie hoor wat Hy sê nie; of dat ek nie sien waarmee Hy besig is nie?

Frustreer ek nie die werk van die Here deurdat ek net met my eie agenda besig is en met my eie dinge nie en nie sien en hoor waarmee die Here besig is nie?

Dat dit tog moontlik is vir ons om die Here te frustreer, besef ons as ons lees hoe die apostel Paulus voortdurend skryf vir die gemeentes om steeds naby aan die Here te lewe: (Fil 4)

  • Daarom my broers en susters, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here.

  • Wees altyd bly in die Here.

  • Wees inskiklik teenoor alle mense.

  • Moet oor niks besorg wees nie.

  • Alles wat waar is, alles wat edel, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is, watter deug of lofwaardige saak daar ook al mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig

Terug by die Here Jesus –

Hy is oneindig geduldig met mense. Maar ons mis soms so bietjie van die wonderlike goed wat Hy vir ons in gedagte het.

Hy wil ons laat vlieg soos ‘n arend, Hy het vir ons vreugde in gedagte, Hy het vir ons vrede in gedagte.

Mat 11:28 "Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

Mat 11:29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed."

Ons antwoord met 'n lofsang.

Lied 577 v 1, 2, 3

Die Heer, my herder, sorg vir my,

Hy laat my rustig wei;

langs waters waar daar vrede is,

sal Hy my veilig lei.

Die Heer gee my weer nuwe krag

en Hy sal met my gaan;

Hy lei my op die regte pad

ter ere van sy Naam.

Al lê daar donker dieptes voor,

tog hoef ek nie te vrees,

want U's by my, en in u hand

sal ek steeds veilig wees.

(Lees powerpoint skyfies 19, 20 en 21)

Dankbaarheid

Offergawes

Laaste Lied – 267 v 1, 2

Ons Vader op die hemeltroon

aan wie ons lof en eer betoon,

ons bid ootmoedig almal saam:

Gee dat u goddelike Naam

deur ons geken, geëer, gevrees -

in alles mag geheilig wees.

Laat Heer u Koninkryk steeds kom

in hierdie land en oral om.

Die skepping is u magsgebied

waar u volmaakte wil geskied -

vanuit die hemel om u troon

tot waar ons op die aarde woon.

(Lees Powerpoint skyfies 23 en 24)

Belofte

Die Here is teenwoordig met sy krag

 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page