Om gestuur te wees.
- NG Kerk Aberdeen
- Jun 29, 2014
- 9 min read
Sondag 29 Junie 2014 Matteus 10
OM GESTUUR TE WEES
Ds Abe Beyers
Om die liedere op Powerpoint te lees, kliek hier.
Ontmoeting
Die Here groet ons
Ons sing Lied 411 v 1, 2 (Lees Powerpoint skyfies 6 ,7 en 8)
Verhouding met die Here
Wie is die Here? (2 Tim 1 v 10)
Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring.
En nou ons? (2 Tim 2 v 24 – 26)
‘n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer, en iemand wat onreg kan dra. Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys.
Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring. Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee hy hulle gevange gehou het om sy wil te gehoorsaam.
Ons antwoord met Psalm 146 v 1
(Lees dit in Powerpoint skyfie 12)
Woord-tyd
Gebed
Woord – Matteus 10
1. NUWE FOKUS
Gister het ons as gemeente saam Dankfees gehou – en ons het lekker saam gekuier en die tydjie saam met mekaar geniet. En ons lidmate het hard gewerk die afgelope maande om alles reg te kry vir die groot okkasie. En die hele geleentheid was maar deel van die gemeente se fokus of dan nou visie – om dankbaar teenoor die Here te wees aan die eenkant, daarom gee ons prys en maak ons ons offerings. En aan die anderkant is die dankfees ook deel van ons visie, want ons leef ons goeie verhoudings hier uit, ons leef in vrede met mekaar.
Maar miskien wil die Here vir ons iets meer wys vandag, dalk wil Hy vir ons wys dat Christen-wees groter is as wat ons dink. Ja, dit is ‘n wonderlike advertensie vir die Here God as mense in vrede saam met mekaar leef, maar miskien wil die Here weer vandag vir ons in ‘n nuwe rigting laat kyk.
Daarom wil ek vandag begin met ‘n storie:
Meriam Ibrahim het op 27 Mei 2014 in 'n Soedannese tronk geboorte geskenk aan 'n babadogtertjie, haar tweede kind. Die baba heet Maya. Meriam, 'n mediese dokter, is sedert Februarie in die tronk met haar seuntjie van 20 maande.
Die skadu van die doodstraf hang oor Meriam. Sy is op 11 Mei skuldig bevind dat sy die Islamgeloof sou versaak het. Haar pa was 'n Moslem. Aangesien sy 'n ander geloof as haar pa aanhang, oortree sy die Islamitiese Sharia-reg wat afdwaling van Islam strafbaar met die dood maak.
Meriam is getroud met 'n Christen, Daniel Wani, wat weens spierdistrofie van 'n rolstoel afhanklik is. Aangesien die Soedannese reg nie 'n huwelik met 'n Christen erken nie, is sy boonop van ontug aangekla. Vandaar die vonnis dat sy gehang gaan word, en vooraf – weens ontug – 100 houe in die openbaar gaan ontvang.
Na Meriam se skuldigbevinding aan die versaking van Islam en ontug, het sy 'n paar dae kans gekry om die Christengeloof af te sweer. Op 15 Mei 2014 het sy die hof meegedeel sy bly 'n Christen. "Ek is 'n Christen, ek was nooit 'n Moslem nie," het sy gesê nadat 'n Islamitiese geleerde 40 minute gebruik het om haar te oortuig om die Christelike geloof te verloën.
Hierna het die regter in die Hof vir Publieke Orde in El Haj Yousif Kartoem haar vonnis van 100 houe vir ontug en die doodstraf vir afdwaling bevestig.
Daniel Wani is verbied om die hofsitting by te woon, en is lank toegang tot Meriam en sy seun geweier.
Amnestie Internasionaal het die doodvonnis veroordeel en gevra vir haar onmiddellike vrylating. Volgens Manar Idriss, Amnestie Internasionaal se Soedannese navorser, is dit weersinwekkend dat 'n vrou vir haar keuse van godsdiens ter dood veroordeel kan word, en gegesel kan word vir 'n huwelik met 'n eggenoot van 'n ander godsdienstige oortuiging as dié van haar pa. Dit is 'n flagrante miskenning van internasionale mensregtestandaarde
Intussen is die dr Merriam wonderbaarlik vrygelaat
2. VERVOLGING DEUR ALLE EEUE
Terloops – die dr Merriam is nie die enigste nie – ek lees ook dat navorsing toon dat Pakistan die moeilikste is om Christen in te wees – omdat Christene aldaar as klaar veroordeeld staan, daarom kan enigiemand maar enigiets doen teen hulle – die polisie sal selfs nog die skare aanhits om ‘n Christen se huis af te brand of wat ook al te doen. Die Chrisene in ‘n Moslem-land is iets boos, iets wat doodgemaak moet word, iets wat uitgeroei moet word.
En daarom verkeer Christene elke dag in doodsgevaar weens hulle verbintenis aan Christus. En baie het al alles ter wille van Jesus prysgegee of verloor – hulle familie, besittings, of bevoorregte posisie.
Natuurlik het die veragting en vervolging van Christene nie net vandag begin nie. So was dit ook in die eerste eeue van die Christelike kerk se bestaan in die Romeinse Ryk. Lees maar weer die boek Handelinge. So was Christene ook maar ‘n vervolgde en gehate groep mense deur al die eeue.
3. EN ONS?
Ons het nog net van ander mense gepraat, maar wat het die vervolgings van die Christene in ander lande nou met ons te doen? Beteken Christen-wees in Aberdeen iets anders as in Soedan of Pakistan?
Lees Matteus 10:16-18
16 "Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig
soos slange en opreg soos duiwe.
17 Pas op vir die mense. Hulle sal julle aan die geregshowe uitlewer, en in
hulle sinagoges sal hulle julle gesel.
18 Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van
My. Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en voor die
heidennasies van My te getuig.
In die paar verse kom ons agter dat Christen-wees nie maar net ‘n salige tydjie onder die vertroeteling van die Here is nie – Christen-wees beteken ook gestuurdheid, uitgaan, getuie wees, en, Christen-wees beteken ook moeilikheid.
In Matteus 10 is Jesus besig om sy volgelinge voor te berei op die dinge wat gaan kom as hulle so sou uitgaan onder mense in. Hy help hulle om te verstaan dat hulle sal deel in sy eie verwerping.
Ons het nou gehoor dat Christen-wees moeilikiheid, weerstand en spanning kan veroorsaak. Maar dis nog nie duidelik wat die Christen dan doen wat so moeilikheid veroorsaak nie? Wat is die Christen dan veronderstel om te doen, wat is die opdrag? Daar staan dat die Christene uitgestuur word – maar om wat te doen?
Daarvoor moet ons terugblaai na die begin van die hoofstuk
Lees Matteus 10: 7
7 Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’
Om te gaan verkondig "die Koninkryk van die hemel het naby gekom" beteken nie maar net dat die dissipels destyds van dorpie tot dorpie en van huis tot huis gegaan het en die storietjie oorvertel het nie
Hulle moes dit gaan uitleef, hulle moes dit gaan sigbaar maak, hulle moes vir mense wys dat die Here se mag groter is as die mag van die bose. Of anders gesê: Hulle moes die houvas van die kwaad en verkeerde en die lelike gaan aandurf.
En nou kan ons die vervolging en die drama verstaan wat hierdie uitgaan van die dissipels tot gevolg gehad het. Die duiwel het nie daarvan gehou dat sy houvas op mense verbreek word nie.
En nou nader na ons toe: Christen-wees beteken dat ek Jesus se oorwinning in my, d.w.s. Jesus se oorwinning oor my sondige natuur sigbaar maak en uitleef. Om nou voorbeelde te gebruik: Paulus skryf dat die praktyke van die sondige natuur is onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, vyandskap, haat, woede, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap. Hierdie tipe dinge is die toonvenster van iemand wat onder die beheer van die bose en van sy eie sondige natuur staan.
Daarteenoor skryf Paulus is die dinge wat die Gees van God in my laat gebeur, goed soos liefde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
As ek dus nou vir iemand wys om in vrede te lewe, of self vir iemand wat anders lewe teregwys op sy kwaad en uitnooi om die vrede van die Here te kom beleef, dan gaan ek waarskynlik moeilikheid te kry.
Jesus sê nie verniet nie: "Ek stuur julle soos skape onder wolwe in."
4. CHRISTEN-WEES – JESUS SE VERDUIDELIKING
Ons kan uit die gedeelte drie dinge oor Christenwees sê: of Christene het drie eienskappe
4.1 Openlik oor jou geloof
Eerstens: Jesus beklemtoon dat gelowiges hulle nie skaam vir hulle verbintenis aan die Here nie. Hulle is openlik, dit is duidelik dat hulle Christene is
Lees Matteus 10: 26, 27, 32
26 "Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie
openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal
word nie.
27 Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in
julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin.
32 "Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal
Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is.
Navolgers van Jesus is nie geheimsinnig oor wat hulle glo nie. Jesus maak dit duidelik dat ons dit wat ons gehoor het, openlik moet bekendmaak. Soos Jesus daar in Matt 5: 16 sê: Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is kan verheerlik. Jy moet jou kleure wys. Jy moet die Here dien en navolg. Dit vereis totale selfverloëning.
Jare terug het ons die Halleluja-lied gesing: Staan op, staan op vir Jesus!
Dit is wat van ons verwag word.
4.2 Konflik
Lees Matteus 10: 34 – 36
34 "Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.
35 Ek het gekom om tweedrag te bring ‘tussen ‘n man en sy vader en tussen ‘n dogter en haar moeder, tussen ‘n skoondogter en haar skoonmoeder;
36 ja, ‘n man se huismense sal sy vyande wees.’
Tweedens lei Christen-wees tot konflik. Dissipelskap lei tot weerstand. Wat met Jesus gebeur het, sal ook met sy dissipels gebeur. 'n Leerling is nie hoër as sy leermeester, en 'n slaaf as sy eienaar nie.
Wanneer ons moeilikheid kry omdat ons Jesus se oorwinning uitleef, beteken dit nie daar is iets met ons fout nie. In hierdie verband sê Jesus dat Hy nie gekom het om vrede te bring nie, maar die swaard.
Christene moet die moed hê om op te staan en getuienis oor Jesus te lewer, selfs al staar hulle die swaard in die gesig. Meriam Ibrahim is 'n goeie voorbeeld hiervan. Sy staar die galg in die gesig, maar sy bly getrou aan haar geloof.
4.3 Beskerming
Lees Matteus 10 : 28 - 31
28 Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.
29 "Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder (die wil van) julle Vader nie.
30 Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel.
31 Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies."
Wanneer ‘n mens toegewyd aan Jesus leef, kan jy derdens weet jy leef onder die beskerming van die Vader. Daarom moet Christene vir niemand bang wees nie. Ons vrees nie die dood of dreigemente en aksies van vyandiggesinde mense nie. Hulle kan die lewe wat God gegee het, nie wegneem nie.
Die NAV het gekies om in Matt 10:29 woorde in te voeg (in hakies aangedui) wat nie in die oorspronklike teks staan nie: "En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder (die wil van) julle Vader nie."
Die Nuwe Direkte Vertaling sê dit duideliker: “En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie”. 'n Rabbynse parallel lui: ‘No bird perishes without God, how much less man'
Ons verstaan die bedoeling van die NAV, maar dit kan tog gedink word dat die Vader maar net weet van die mossies, of self dat die Vader wil dat die mossie op die grond val. Maar die bedoeling is juis om te sê: "God is daar as die mossie val." God is dus daar wanneer sy mense ter wille van sy boodskap moeilkheid kry.
4.4 Vreesloos lewe
Dis die soort verbintenis aan Jesus wat in Matteus 10 van volgelinge van Jesus verwag word. Ons moet vreesloos lewe – voor regerings (10:18), voor ander godsdienstige mense (10:17) en voor familie (10:21, 37). Die haat van mense mag ons nie afskrik nie (10:22). Ons kan dit doen, want ons leef in die teenwoordigheid van die lewende God wat ons lewe in sy hande hou.
4.5 In lewe en sterwe
Die ou volkslied van Suid-Afrika het afgesluit met die woorde:
"Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika!"
Baie mense het dit met hulle hele hart gesing en bedoel. Hulle het ook vir hulle land gesterf.
Maar met net soveel passie moet ons sing:
"Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir U, Heer Jesus!"
Verering
Lied 164 v 1, 2
(Lees Powerpoint skyfies 21 - 24)
Dankbaarheid
Ons bring ons Offergawes
Laaste Lied – Psalm 146 v 5, 6
(Lees Powerpoint skyfies 26 en 27)
Die Here se belofte
Hy gee krag tot oorwinning oor die kwaad
Comments