Tot dan.....................
- NG Kerk Aberdeen
- Jun 22, 2014
- 7 min read
Matteus 24 v 1-13 Tot dan… Ds. Abe Beyers
1. VERONDERSTELLING
Dis oor ‘n week die gemeente se grootste fondsinsameling – as die NG kerk Aberdeen nou ‘n besigheid was, dan sou die fokus vandag daarop gewees het. Ons kon allerhande bemarkingstrategeë gebruik het om mense aan te spoor tot groter offervaardigheid, of nog meer beter plannne beraam het om meer voete hier te kry.
Maar dit is nie na my mening wat die fokus vandag moet wees nie, of wat ek dink wat ek van die Here gehoor het nie
2. DIE NORMALE LEWE
Ek wil graag aansluit by die stories wat mense graag vertel van hoe dit vroeer in Aberdeen was. Oom Fielies het graag vertel van hoe hy die winkel gehad het en dan het hy van PE af gekom met sy vrag voorraad en dit sommer vir die nag voor die winkel geparkeer, want niemand het gesteel nie. OF tannie Gina sal vertel hoe die menigte jongmense uitgegaan het en by die fontein gaan piekniek hou het, of Thabo van Rooyen sal vertel hoe die kerkgebou vol was op ‘n Sondag, of Danie Pienaar sal vertel van hoe die laerskool en die hoërskool sy funksies hier in die dorp aangebied het, of Miems van Loggerenberg sal vertel van die lekker konserte wat die gemeente gehou het, of sommer van Kleintjie Marx se Noot-vir Noot.Of Pieter Beneke sal vertel van jare terug was daar net een polisievoertuig, want daar was nou nie eintlik diefstal nie
– en ons verlang na die goeie ou dae, toe dinge rustig was en daar vrede was.
Maar is dit normaal?
Jesus se dissipels het ook so gedink toe hulle die pragtige reuse tempelgeboue op ‘n slag weer raaksien. Kyk hoe pragtig, kyk hoe wonderlik –
maar dan gooi Jesus baie koue water op hulle opgewondenheid.
Lees Matteus 24 v 1 –2
Mat 24:1 Toe Jesus van die tempel af weggaan, het sy dissipels nader
gekom en sy aandag op die tempelgeboue gevestig.
Mat 24:2 Maar Hy antwoord hulle: "Julle sien al hierdie dinge? Dit
verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal
afgebreek word."
En dan gaan Jesus voort om die normale lewe te beskrywe. Ja so af en toe is daar sulke stukkies hemel op aarde, waar daar vrede en vreugde tussen mense is, daar is voorspoed en dinge verloop goed, maar dis nie die normale lewe nie.
Kom ons noem die eerste eienskap van die normale aardse lewe:
2.1 MISLEIDING
Lees Matteus 24 v 5, 11
Mat 24:5 Baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Ek is die Christus,’ en hulle sal baie mense mislei.
Mat 24:11 "Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei.
Jesus herinner die dissipels daaraan dat ons orals rondom ons aansprake sal hoor van mense wat vir jou bevryding sal verkondig, bevryding van die houvas van die kwaad en bevryding uit ellende sal verkondig.
Dink nou maar net aan politici hoe hulle aan mense verkondig watter wonderlike lewe hulle of hulle party vir jou sal kan skep – gee net vir hulle die mag en hulle sal vir jou ‘n wonderlike lewe skep.
Of dink aan advertensies wat vir jou wonderlike goed belowe – betaal net eers die geld, koop net hierdie produk en dan sal jy hemel op aarde hê.
Of op godsdienstige gebied hoor ek nou al meer van ‘n oplewing van die Joodse kultuur of godsdiens. En mense begin dink dat daar ‘n wonderlike vrede vir hulle wag as hulle weer al die ou Joodse Kultuurreёlings gaan uithaal – en Moses se vyf boeke word in detail bestudeer.
Of dink aan die dramatiese uitbreiding van die Moslemgodsdiens – hulle grawe hulleself in op die platteland waar hulle diens lewer of in die stede word die reuse moskees gebou – geld is onbeperk. En hulle verkondig: word deel van ons en jy kry ‘n plek in die hemel gewaarborg.
Dink nou maar net aan hoeveel idees word jy elke dag blootgestel wat jou probeer oorhaal na ‘n kant toe –
Dis hoe die normale lewe is, sê Jesus.
Die tweede eienskap van die normale lewe van mense is die:
2.2 STRYD OM MAG.
Lees Matteus 24:7a
Mat 24:7 Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een
koninkryk teen die ander;
En hoeveel hoor en sien ons dit nie net elke dag nie. Ons hoor van die spanning wat oplaai in die Oekraïene met Rusland aan die een kant en VSA wat sy stem begin dik maak oor hierdie ingryping in die Oekraïene.
Of dink nou aan die geweldadige magstryd in Irakof daar in Soedan tussen die noordelike moslems en die suidelike deel. En 'n kort rukkie terug was dit nog die tweede wêreld-oorlog met al die verwoesting daarvan, of die grensoorlog of die geweldadige politieke magstryd in Suid-Afrika in die jare 80.
Of sommer nader aan ons waar plaasaanvalle orals rondom ons gebeur, of die magstryd daar in Rustenburg se Platinummyne tussen die vakbonde en die bestuur aan die anderkant – ‘n magstryd.
Jesus herinner ons daaraan dat hierdie geweldadige stryd om mag die normale lewe is.
Die derde eienskap van die normale lewe op aarde is:
2.3 DAT DINGE OP PLANEET AARDE MAAR SOMS 'N BIETJIE ROF GAAN.
Lees Matteus 24 v 7b
............daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees.
Oral hoor ons van aardverwarming– en daar word beskrywe agv aardverwarming hoeveel die seevlak gaan styg en die ys op die pole sal smelt en die droogtegebiede gaan minder reёn kry en die hoë reenvalgebiede gaan nog meer reёn kry en die storms sal meer dramaties en intens wees.
En ons hoor van aardbewings wat 100 000 mense doodmaak, of vuurspuwende berge wat uitbars en ons hoor van Tsunamis wat derduisende mense doodmaak – en a.g.v. natuurrampe en mensgemaakte rampe gaan die kosproduksie tot niet en mense ly honger.
Die vierde eienskap van die normale lewe van mense in die wêreld, sê Jesus is:
2.4 CHRISTENE KOM TWEEDE
Lees Matteus 24 v 9, 12
Mat 24:9 "Die mense sal julle oorlewer om mishandel te word, en hulle sal julle doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word
omdat julle my Naam bely.
Mat 24:12 Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal
die liefde by baie verkoel.
Die normale lewe in hierdie wêreld die afgelope 2000 jaar is eenvoudig dat mense wat Jesus uitleef, hulle verbind aan Hom, en wat dan geregtigheid en liefde uitleef, kry moeilikheid. Van Stefanus daar in die boek Handelinge of die apostel Paulus wat hoeveel maal geslaan is – tot in ons dag Christene wat uitgelag word of uitgebuit word of kwaad aangedoen word, net omdat hulle anders lewe.
En dan verder is dit ook normaal, sê Jesus, dat Christene maar begin oppak, koue voete kry, omdraai. Kyk maar net wat gebeur in Europa en sommer hier by ons.
3. VERDUIDELIKING
Nou hoe verduidelik Jesus hierdie soort normale lewe? Wat sê Hy daarvan? Hoekom? Is Hy dan nie besig om die saak teen die bose te wen nie? Regeer Hy dan nie oral nie?
Ons is soms onder die indruk dat die wêreld ‘n beter plek word, dat die kwaad minder word, dat daar meer vrede is – maar Jesus sê NEE, hoe nader ons aan die laaste dag kom, hoe erger sal dinge raak.
- Dit is soos die geboortepyne van ‘n vrou – verskriklike pyne, maar die verwagting van nuwe lewe is daar.
- Paulus gebruik die beeld van soos ‘n ding wat doodgaan en dan nog ‘n paar laaste stuiptrekkings gee.
- Of ons kan die beeld gebruik van soos die water opraak in ‘n dam, spartel die visse al meer.
4. TROOS
Maar dan kom Jesus en Hy gee die ander kant van die storie – en nader na ons toe.
Ons reaksie is maar dikwels om so te fokus op die donker groter prentjie dat ons bang raak, dat ons begin twyfel of die Here Jesus wel die Magtige Heer is, dat ons begin wonder oor die heerskappy van die Here Jesus. Maar dan kom Jesus met sy troos vir die kinders van die Here.
Lees Matteus 24 v 6b
Mat 24:6 Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë
hoor. Pas op, moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar
dit is nog nie die einde nie.
Ek weet dit klink soos ‘n vermaning,
maar Jesus wil sê: jy hoef nie bang te raak en begin dink dat Jesus besig is om die stryd teen die kwaad te verloor nie; en jy hoef ook nie te dink dat Hy jou nie kan bewaar van die mag van die bose nie. Hy is steeds die Begin en die Einde, die Eerste en die Laaste – of dan Jesus het nog altyd die laaste sê oor dinge.
Lees Matteus 24 v 13
Mat 24:13 Maar wie tot die einde volhard, sal gered word.
Weereens klink die woorde soos ‘n vermaning, maar die bedoeling is juis troos –
bly by Jesus en Hy sal vir jou die lewe gee, Hy sal vir jou oorwinning oor die aanslag van die bose gee, Hy sal vir jou vrede gee.
Soos Paulus daar in Fil 4v7 belowe: Praat met die Here, en die vrede wat alles verstand te bowe gaan, sal oor jou bly.
Lees Matteus 24 v 14
Mat 24:14 En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld
verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor.
Eers dan sal die einde kom."
Dié woorde vertel vir my dat die boodskap van die Here Jesus sal voortgaan, die Christelike geloof sterf nooit uit nie.
Laas week was die predikante van die ring daar in die Transkei en ons het o.a. die ou sendingstasies daar besoek. En daar is vertel van sendelinge wat jare terug daar begin het, predikante het daar sendingstasies gebou, hospitale begin – en toe het dinge begin moeilik raak in die jare 80 en die geld het min geraak en daar het nie meer sendelinge gekom nie.
En nou begin die sendingstasies weer, nuwe organisasies begin inkom en die eredienste word weer gehou en die geboue word herstel. Maar wat was die grootste ontdekking? Al het die geboue verval en al het die strukture tot niet gegaan – toe daar nuwe sendelinge inkom, toe ontdek hulle: die kerk, die gemeentes was nog steeds daar, die geloof in die Here het voortgegaan – of te wel, die Here het nie opgehou werk nie.
5. HOU MOED
En daarom wil die Here Jesus maar net weer vir elkeen van ons daaraan herinner – moenie moedeloos word en dink dat Hy nie meer regeer nie. Hou moed, al lyk die normale soort van lewe soms maar rof – die Here regeer. Hy sal sy kinders vashou.
Daar is ook ‘n stukkie aanmoediging in die storie. Jesus herinner ons om by Hom te bly, want daar by Hom is daar lewe – maar Hy wil ook vir ons aanmoedig om ook aan te hou lewe as Christene, al lyk dinge rof – hou maar aan om te vergewe, hou maar aan om geduldig te wees, hou maar aan om om te gee.
Comments