top of page

Om weer nuut te word.

  • Writer: NG Kerk Aberdeen
    NG Kerk Aberdeen
  • May 25, 2014
  • 6 min read

Psalm 137

Ds. Abe Beyers

OM WEER NUUT TE WORD.

1. STORIES VAN MENSE

Hoe langer ek met mense te doen kry, hoe meer kom ek agter hoeveel pynlike en seer stories daar is – stories wat van ver af kom, van kinderdae af.

Van die persoon wat vir jou vertel dat sy nie eintlik welkom was by geboorte nie, want haar koms was nie beplan nie – en nou dra sy haar lewe lank aan die skuldgevoel.

Of die ander een wat vir jou vertel van - maak nie saak wat hy gedoen het nie, dit was nooit goed genoeg vir sy pa nie – en nou probeer hy sy lewe lank nog net om mense tevrede te stel.

Of ander sal vir jou vertel van die verwoesting wat hulle beleef het – van sekuele verwoesting op ‘n jong ouderdom deur een of ander oom of vriend, van hoe pa my sommer geklap het, of van pa wat dronk was en dan het hy so gemaak.

Of ander sal vir jou vertel van die verwerping wat hy ervaar het, van verhoudings wat skeefgeloop het;

of ander sal weer vertel van die verliese wat hulle ervaar het; of van die verwoesting en geweld wat hy daar in Angola moes beleef het.

Maar dan is dit nie net verhale van lank terug nie en waarvan ek nou nog die gevolge beleef nie. Daar is ook soveel verhale van wat daardie een sommer gister vir my gesê het, pynlike seer dinge – wat in woede vir mekaar met die spreekwoordelike groot klippe gegooi het.

2. HOE HANTEER EK DIE PYNLIKE DINGE?

Nou is die volgende vraag: hoe hanteer ek die seerkry uit die verlede? Wat maak ek daarmee?

Daar is ‘n hele paar maniere wat mense die seer hanteer.

  • Ek doen niks daarmee nie. “ja, dit sal maar oorwaai en alles sal vanself regkom en uit my gedagtes verdwyn”.

  • Ek probeer dit wegsteek. Ander mense moet tog net nie daarvan weet nie, want hulle gaan my uitlag of verwerp as hulle dit moet hoor. En daarom doen ek alles reg dat mense tog net nie moet uitvind van die verskriklike seer nie

  • Ek rasionaliseer die optrede van die ander een. “ag, daardie ou het seker maar ‘n groot probleem en nou moes hy dit op my kom uithaal, so dis maar oraait”

  • Agressie. Ek begin met almal rondom my te baklei, ek maak ander seer omdat ek so seergekry het, ek byt sover soos ek gaan, want dan voel ek beter”

  • Onttrekking. Ek ontvlug uit die situasie, onttrek my van mense en van vriende, want “mense maak my seer”.

Maar nou weet ons ook mos dat die pad na genesing is nie om die pyn binne te hou nie. Dan word daardie pyn ‘n sweer wat alles in jou en rondom jou vergiftig. Die sweer moet oopgemaak word, die pynlike herinnering wat soms so diep weggebêre is, moet uitkom.

3. VERHAAL VAN BAIE SEER

Ek wil graag vanoggend ‘n verhaal lees van mense wat intense skrikwekkende pyn beleef het – en dit vertel het. Dis geskryf in die vorm van ‘n gedig. Ons gaan dit so stuk-stuk lees.

LEES Psalm 137 v 1 – 6

Psa 137:1 By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het

gevloei as ons aan Sion dink.

2 Aan die wilgerbome in daardie land het ons ons liere opgehang

3 toe dié wat vir ons gevange weggevoer het, ons gevra het om 'n lied te sing, toe dié wat vir ons leed aangedoen het, van ons

vrolikheid wou hê: "Sing vir ons ‘n lied oor Sion!"

4 Hoe kan ons die lied van die Here sing in ‘n vreemde land?

5 As ek jou sou vergeet, Jerusalem, mag my regterhand dan

verlam raak.

6 Mag my tong aan my verhemelte vaskleef as ek aan jou nie

dink nie, as Jerusalem nie my grootste vreugde bly nie.

3.1 Die eerste pynlike gedagte wat die digter nou voor die Here uitpak vertel van die tyd toe die Israeliete daar in Babelonië was

– hulle het ervaar dat hulle uitgeskeur was uit hulle land, en dat hulle self deur die Here God verlaat was – en hulle treur.

En daar het die geweldadige Babiloniёrs verwag dat hulle as Israeliete moet godsdienstige liedere sing tot die vermaak van dieBabiloniёrs . En nou vra die digter: Hoe kan ons godsdienstige liedere, liedere wat die grootsheid van die Here moet besing, tot vermaak van daardie mense sing?

En die Israeliete het botweg geweier om hierdie pragtige liedere vir die Babeloniёrs te sing – iets van pêrels voor die varke gooi.

En buitendien het hulle as Israliete so getreur, hoe kan hulle nou vrolike liedere sing?

3.2 Dan kom ons by die tweede pynlike herinnering wat die skrywer van die psalm wil uitpak

LEES Psalm 137 v 7

Psa 137:7 Onthou die Edomiete, Here, die dag toe Jerusalem ingeneem

is, hoe hulle aangehou het met sê: "Breek af, breek af die stad tot op sy fondamente!"

Die stukkie pynlike herinnering vertel van die tyd toe die Babiloniёrs in die jaar 587vC Jerusalem ingeneem het en die meeste vooraanstaande mense krygsgevangene geneem het. Hierdie verwoesting van alles was al erg genoeg, maar dit was soos ‘n messteek in hulle dat die Edomiete, wat maar eintlik familie van die Israeliete was, dat hulle saam gesing het in die koor van die verwoesting. In plaas van dat hulle die Israeliete gehelp het, het hulle die Babiloniёrs aangemoedige om Jersalem nog verder te verwoes.

3.3 Maar dan kom ons by die derde insident. Die stukkie is die mees pynlike. Dit is die rou emosies wat daar uit die diepste van hulle as Israeliete se wese uitkom. Dis die verskriklikste seerste seer.

LEES Psalm 137 v 8-9

Psa 137:8 Dat jy verwoes sal word, Babel, is seker. Gelukkig is die man wat jou terugbetaal vir wat jy ons aangedoen het!

Psa 137:9 Gelukkig is hy wat jou babatjies gryp en teen ‘n klip verbrysel.

So ‘n prentjie wat ouers moes aanskou is die verskriklikste denkbaar – en hier kom daardie seer uit in die vorm van haat, van ‘n roep om wraak.

Die manier wat soldate gewoonlik kinders so doodgemaak het, was om die kindertjies aan die voete te gryp en sy kop te verbrysel teen die naaste klip.

Ons hoor in die psalm hoe die digter sy diepste seer blootlê, daardie mees pynlike gedagtes oop maak en vertel.

4. EN WAT NOU?

Die volgende vraag is nou: en wat nou?

Dit is die eerste stap vir genesing as iemand so ver kom om te vertel van daardie vreeslike ding, om te vertel van wat hom of haar aangedoen is. Daardie diepste pyn word oopgemaak – maar wat dan? Wat nou verder?

Dan kom die opdrag van die Here Jesus – om te vergewe. Soos wat Hy daar aan die kruis uitgeroep het toe die soldate die verskriklike ding Hom aangedoen het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”.

Vergifnis beteken dat ek die houvas van die ander persoon op my, verbreek. As iemand vir my iets aangedoen het, dan pla dit my, dit ontwrig my, dit hou my gedagtes vas, dit vat my vreugde weg – en nou vra vergifnis dat ek daardie las van my afgooi, daardie tou om my losmaak – ek laat die ander een gaan.

Natuurlik is dit nie maklik nie. Dis teen ons hele aard – ons wil wraak neem, ons wil daardie een iets aandoen, maar deur die krag van die Gees van die Here kan ons oorwin oor die houvas van die ding, en dit laat gaan.

Dit is dan wanneer ek die bevryding beleefek word bevry van die ding wat my so vasgehou het.

5. EN DAN VERDER?

Dan is daar natuurlik nog iets wat die Here Jesus van ons vra –

daar kom genesing vir onsself as ons daardie pynlike ding, daardie storie op die tafel sit.

Maar dan moet ons verder gaan om die persoon te vergewe, of aan Hom vergifnis te wil skenk, om hom vry te laat gaan.

Maar dan is daar nog iets. Ons is nou bevry want ons het die ander een vergewe, vry laat gaan – maar dan is die verhouding nog nie reggemaak nie. Daarvoor is versoening nodig, om te gaan vrede maak. Daaroor gaan ons ander dag weer praat.

6. OPSOMMING

Ons het vandag die storie gehoor van die verskriklikste pyn wat in die gedagtes van die Israeliete destyds vasgevang was – vir hulle was die vertel van die storie ‘n eerste stap tot genesing van die pyn en woede.

En nou ons? Die Here Jesus het ook vir elkeen van ons hierdie genesing in gedagte – sodat ons vreugde kan belewe, en sodat daar vrede kan kom.

Hier is vele in die gemeente wat al sover gekom het om daardie verskriklike stories te vertel, om dit uit te pak – en hulle begin weer lewe.

Maar daar is ook sovele wat nog steeds daardie DING in jou diepste wese ronddra – die Here wil graag ook vir jou genesing skenk en vir jou vrede gee.

 
 
 

Commentaires


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page