top of page

Hemelse Gemeente

  • Writer: NG Kerk Aberdeen
    NG Kerk Aberdeen
  • May 18, 2014
  • 7 min read

Handelinge 2 : 41 – 47

Ds. Abe Beyers.

'n HEMELSE GEMEENTE

1. WONDERLIKE GEMEENTE

So ‘n paar jaar terug het ‘n dominee met die naam Richard Girard van ‘n dorpie met die naam Scottsdale in die staat Arizona in die VSA ‘n boek geskryf oor die gemeente in daardie dorpie.

Dit was ‘n baie aktiewe gemeente met ‘n klomp programme vir alle ouderdomme – van die kore en kategese en gereelde kampe vir die kinders en die seniors is op toere gevat en daar was kursusse vir die jonggetroudes en huweliksverrykking vir die lankgetroudes – en so gaan die lys aan en aan.

En dan Sondae was daar eredienste vir die jongmense en eredienste vir die oues en musiekdienste en aanbiddingsdiente en spesiale dienste en, en, en.

En dan was daar ‘n weeklikse kerkblad uitgegee, en honderde mense uit die gemeenskap het tot geloof gekom en deel geword van die gemeente. ‘n Baie aktiewe en entoesiastiese gemeente – die ideale gemeente. Die idee was dat die ligte van die kerkgebou elke aand moet brand vir nog ‘n funksie wat aangebied word.

En toe begin dinge skeef loop, want sommige van die kerkraad dink die gemeente moet nog geboue koop en die ander dink dat daar genoeg is – en die verhoudings begin nie lekker raak nie.

2. DIE GEMEENTE IN HANDELINGE

Nou lees ons daar in die boek Handelinge van die wonderlike eerste gemeente. Die mense het in hulle duisende soontoe gestroom en tot geloof gekom en is ingelyf by die familie van die Here Jesus.

Nou wat het hulle gedoen?

LEES Handelinge 2 v 41 – 47

Hand 2:41 Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie

duisend mense is opdaardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg.

42 Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die

onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.

43 Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep

ontsag vervul.

44 Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel.

45 Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.

46 Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis

tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in

alle eenvoud geëet,

47 en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag

mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Ons lees in die stukkie dat daar vier goed was wat die Jerusalemgemeente op gefokus het.

2.1 Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels.

Daardie eerste gemeente het baie aandag daaraan gegee aan dit wat die Here Jesus vir hulle geleer het – die eerste gemeente is voortdurend onderrig.

Kom ons sê in ons taal van vandag dat die eerste gemeente hulle Bybelstudie ernstig opgeneem het.

Of anders gesê: Die ouderlinge het baie moeite gedoen om die lidmate uit die Bybel te leer.

2.2 Hulle het hulle heelhartig toegelê op die onderlinge verbondenheid.

Hierdie gemeenskap van die gelowiges was vir die mense van daardie tyd iets wonderliks gewees – om in ‘n samelewing waarin daar voortdurende agterdog en kwaadsteek van mekaar was, te sien dat hier nou ‘n groep mense is wat regtig vir mekaar omgee.

Geen wonder die mense het in hulle duisende soontoe gestroom nie. Hierdie gemeenskap van die gelowiges was so besonders dat almal versorg is, niemand het honger gely nie, hulle het alles met mekaar gedeel.

2.3 Hulle het hulle heelhartig toegelê op die gemeenskaplike maaltye.

En dan lees ons van hierdie saam-eet van die gemeente. Daar is bietjie onsekerheid vandag of die saam-eet elke keer ‘n formele Nagmaal was, maar op die ou einde maak dit nie saak nie. Hulle het by die etes die brood gebreek en so is daar saam geëet – en elke keer is daar teruggedink aan wat die Here Jesus gedoen het.

Dalk soos ons laas Sondag almal saamgeëet het, of soos wat ‘n wyk êrens bymekaar kom by iemand se huis en daar saam eet en saam met die Bybel besig raak.

Terloops, ek was onlangs by ‘n Joodse gesin waar hulle dan nou elke Vrydagaand hulle maaltyd hou – in alle eenvoud – ek veronderstel die eerste Christelike gemeente het dan die Joodse tradisie voortgesit.

2.4 Hulle het hulle heerhartig toegelê op die gebede.

En dan lees ons ook hoe daardie gemeente in Jerusalem gefokus het op die voorbidding - voorbidding vir mekaar en vir die owerheid en vir die mense in nood – hulle hele lewe is begelei met gebed.

3. ALLES NIE REG

En ons sal vandag sê dat dit wonderlik is –

dit is soos dit in ‘n gemeente moet gaan, dit is wat daar moet gebeur. En dis reg so.

Soms is daar in ‘n gemeente of in ‘n wyk rusie en twis onder mekaar en die een praat nie met daardie een nie en die een wil niks met die ander een te doen hê nie – en mens sien niks van hierdie gemeenskap van die gelowiges en die onderlinge vrede nie.

En aan die anderkant – as jy deel is van so ‘n groep wat so vir mekaar omgee en wat so in vrede lewe, dis hemel op aarde, dit bemoedig vir jou wat seer het want die mense dra mekaar se laste….

Geen wonder dat buitestaanders stroom na sulke groepe toe nie –

want om hierdie hemel op aarde te ondervind, is wel, hemel op aarde.

En tog was hierdie gemeente se optrede nie genoeg vir die Here Jesus nie.

Hoe wonderlik dit ook al was en daardeur het duisende die Here God ontdek, was dit nie genoeg vir die Here nie. Die Here Jesus, die Here van die kerk, het meer in gedagte gehad.

LEES Handelinge 7 v 54 – 8 v 4

Hand 7:54 Toe die lede van die Joodse Raad dit hoor, het hulle van woede

op hulle tande gekners.

Hand 8:1 Ook Saulus het hierdie moord goedgekeur. Daardie dag het

daar ‘n hewige vervolging van die gemeente in Jerusalem begin. Al die

gelowiges behalwe die apostels is uitmekaar gejaag en verstrooi oor

die gebiede van Judea en Samaria.

2 Godvresende mense het vir Stefanus begrawe en daar is baie oor

hom gerou.

3 Saulus het die kerk probeer uitroei. Hy het van huis tot huis gegaan,

mans en vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit.

4 Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan

het, die evangelie verkondig.

‘n Tragiese en hartseer storie.

Net eers een opmerking: wat hier nie staan nie, is dat die Here Jesus Stefanus se dood bewerk het. Dit was nie die Here nie.

Hoe moet ons dan hierdie verskriklike geweldadige storie verstaan?

Miskien moet ons dit so sê:

net soos die Here Jesus se dood aan die kruis ‘n paar jaar van te vore lewe gebring het vir baie, net so het die dood van Stefanus lewe vir baie gebring

– daar staan: die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig.

Wat wil die storie sê?

‘n Gemeente, ‘n kerk se fokus mag nie net wees om hierdie wonderlike saamwees en omgee vir mekaar te skep nie. Dit moet daar wees. Handelinge 2 vertel van hoe daardie gemeente met die Bybel besig gewees het, hoe hulle onderling vir mekaar omgegee het, hoe hulle saam gebid het en saam geëet het. Die dinge moet daar wees.

Maar die storie van Handeling 8 vertel dat die gemeente soveel op hierdie onderlinge vrede gefokus het, dat hulle die uitgaan na buite, die uitdra van die Here Jesus se Goeie Nuus verwaarloos het.

4. ABERDEEN

Om nou nader na ons toe te kom.

Wat wil die storie vir ons hier in die gemeente sê:

  • Ons moet daarop fokus dat ons almal in onderlinge vrede en vreugde saam met mekaar is,

  • ons moet fokus om hier besig te wees met die Bybel,

  • besig wees met onderlinge versorging van mekaar, die gebede en die maaltye.

En hier en daar in die gemeente is daar wonderlike samekomste en geleenthede,

en ongelukkig is hier en daar in die gemeente nog geen onderlinge verbondenheid nie.

Maar, die Here Jesus wil ook vir ons sê dat

daar by ons ook ‘n fokus moet wees na buite, na die ander.

Of soos dit daar in Handelinge 8 staan:

sover soos ons gaan om die Goeie Nuus oor Jesus te vertel.

Nou hoe? Wat moet ons doen? Hoe lyk so ‘n fokus na buite?

Baie eenvoudig gestel:

Ons moet ingestel raak om die nuus oor Jesus se Nuwe Lewe by elke geleentheid deur te gee.

Daar moet ‘n opgewondenheid wees oor die wonderlike dinge wat die Here doen – dat ons nie anders kan as om dit orals te vertel nie.

Ek was die afgelope week o.a. in die Kaap en toe weer in Mosselbaai.

Uit die aard daarvan ontmoet ‘n mens nou heelwat mense en dan word daar gesels oor waar kom jy vandaan.

Dan is die gesprek oor Aberdeen.

Gewoonlik is die eerste vraag: waar is dit? En dan die tweede vraag is wat doen julle daar? As ek nou agterna dink daaraan, dan het ek vir die mense vertel van Aberdeen wat in middel van die grootste bokhaarproduserende gebied in die wêreld lê; ek vertel van hoe mooi die veld nou lyk na al die reen.

Maar ek het niks vertel van die wonderlike dinge wat die Here doen nie.

Ek het nie vertel van die vrede tussen mense wat die Here gebring het nie; ek het nie vertel van mense wat siek was en nou wonderbaarlik deur die Here gesond gemaak is nie; ek het nie vertel van hoe wonderbaarlik ‘n gesin van die dood bewaar is nie. Ek het nie vertel van die twee mense wat Goeie Vrydag hier in die kerkgebou gesit het, nogal agtermekaar – wat albei ‘n wonderlike getuienis gehad het van die voorsiening van die Here nie.

M.a.w. ek het nie daarop gefokus om orals die goeie nuus oor die wonderlike dinge van Jesus te vertel nie.

Daarom wil die verhaal ook vir my aanspoor om opnuut te kyk na my fokus.

Ek weet my fokus die afgelope 30 jaar is om gelowiges bymekaar te bring, om vrede te skep, om verhoudings te herstel – maar die verhaal vra van my om nuut te hoor wat die Here sê.

Ons het nog nie ‘n antwoord op die hoe en wat-vraag nie.

Woensdag kom die kerkraad bymekaar vir sy vergadering – en die vraag oor hoe en wat van die uitgaan, gaan die kerkraad besig hou.

5. SCOTTSDALE

En wat van die storie wat ons in die begin van gepraat het, die gemeentetjie daar in Scottsdale? Wat het van hulle geword?

Eers het hulle alles gelos – net Sondag se erediens het oorgebly.

En toe het hulle het begin bid dat die Here vir hulle sal lei om te doen wat Hy wil hê hulle moet doen: Nee, hulle getalle het nie toegeneem nie, maar hulle weeklikse Bybelstudies het meer mense getrek as Sondae se byeenkomste – nie dat dit ‘n model vir ons is nie, maar die Here het hulle gelei wat hulle moet doen.

 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page