'n Verhouding van vrymoedigheid met God.
- NG Kerk Aberdeen
- May 3, 2014
- 8 min read
Deuternomium 9 : 20 – 10 : 2
Ds. Abe Beyers
'n VERHOUDING VAN VRYMOEDIGHEID MET GOD
1. GELOOF AS VERNEDERING
Die afgelope klompie jare het ek baie klem daarop gelê
dat geloof in die Here God beteken dat jy jou verneder voor Hom,
dat jy jou kleinheid erken voor Hom wat die magtige God is. En dis reg so.
Maar dit mag wees dat ons nou kan begin dink ons verhouding met die Here net maar iets is van hulpeloos voor Hom staan soos slawe wat geen eie mening het of nie enige wil het nie.
Ons moet ons verhouding met die Here God so beskrywe:
Ja ons verhouding met God begin met ons wat onsself prysgee, ons wat klein word voor Hom.
Maar wie dan kinders van God is, wie dan in verhouding met Hom staan,
hy of sy begin dan lewe in hierdie verhouding,
hy of sy begin dan groei in hierdie verhouding.
Daar kom by ons al hoe groter vrymoedigheid teenoor die Here
So het Moses van wie ons vandag gaan lees, se verhouding met die Here God begin daar by die braambos wat nie uitgebrand het nie, daar waar hy sy skoene op die warm woestynsand moes uittrek en magteloos en hulpeloos word.
Maar sy verhouding met die Here het gegroei, het meer intiem en persoonlik geword.
Kom ons lees daarvan.
2. MOSES TEENOOR GOD
LEES Deut 9 v 17 – 21
Deut 9:17 Ek het die twee plat klippe wat ek in my hande gehad het,
flenters gegooi in julle teenwoordigheid.
18 Daarna het ek, soos die eerste keer, veertig dae en veertig nagte
lank voor die Here gelê en gebid. Ek het niks geëet en gedrink nie oor
die groot sonde wat julle gedoen het. Julle ht gedoen wat verkeerd is
in die oë van die Here en Hom uitgetart.
19 Ek was bang, want die toorn, die gramskap van die Here, het so teen
julle ontvlam dat Hy julle wou uitroei. Maar ook hierdie keer het die
Here na my geluister.
20 "Die Here was so kwaad vir Aäron dat die Here hom om die lewe wou bring, maar ek het destyds ook vir hom gebid.
21 Ek het daardie gruwelike ding, die kalf wat julle gemaak het, gevat
en in die vuur gegooi. Toe het ek dit stukkend geslaan en dit so fyn
soos stof gemaal en dit in die spruit gegooi wat van die berg af kom.
Ons lees in die stukkie van die goue kalf wat Aaron vir die Israeliete gemaak het daar in die woestyn, terwyl Moses in die teenwoordigheid van die Here was daar op die berg.
En toe agterna wou die Here vir Aaron totaal vernietig omdat die Israeliete onder sy leiding die goue kalf gemaak het. Sy optrede het gemaak dat die Israeliete van die Here vergeet het.
Maar dan lees ons van hoe Moses by die Here ingetree het, by die Here gepleit het om tog vir Aaron te spaar – en die Here het.
Die Here God het van plan verander op grond van die gebed van een gelowige.
LEES Deut 9 v 25 – 29
Deut 9:25 "Ek het die veertig dae en veertig nagte voor die Here gelê en
gebid, want Hy wou julle vernietig.
26 Ek het tot Hom gebid: Here my God, moet tog nie u volk vernietig nie.
Hy is u eiendom, U het hom gered toe U hom deur u groot mag en met
kragtige dade uit Egipte laat wegtrek het.
27 Onthou tog u dienaars Abraham, Isak en Jakob. Moenie aandag gee
aan die hardkoppigheid van hierdie volk nie, aan hulle opstandigheid
en hulle sonde nie.
28 Waarom moet die mense van die land waaruit U ons laat trek het, sê: Omdat die Here nie die Israeliete kon bring in die land wat Hy hulle
beloof het nie en omdat Hy hulle haat, het Hy hulle laat wegtrek om
hulle in die woestyn om die lewe te bring?’
29 Hulle is tog u volk, u eiendom wat U deur u groot mag en met kragtige
dade laat wegtrek het!"
Hier vertel Moses vir ons hoe kwaad die Here vir die klomp Israeliete was
omdat hulle nie die Here vertrou het en gedoen soos wat Hy gesê het nie,
omdat hulle in ongeloof opgetree het,
en dit nadat die Here op soveel maniere sy grootsheid getoon het.
Soveel so dat die Here selfs beplan het om die klomp Israeliete, sy gemeente, totaal tot ‘n einde te laat kom en met Moses ‘n nuwe pad wil begin, van hom ‘n nuwe aardsvader maak.
Maar dan lees ons hoe Moses by die Here God pleit dat Hy tog die klomp Israeliete moes spaar. Maar meer as dit – Moses argumenteer met die Here: “wat gaan die Egiptenare of die Kanaaniete sê as die Israeliete nie in die beloofde land aankom nie, wat gaan hulle dink van die Here God self?” En so pleit Moses by die Here vir die spreekwoordelike 40 dae en 40 nagte.
Ek wil dit waag om die verhouding van Moses met die Here God vergelyk
soos wat ‘n kind se verhouding teenoor sy pa is –
aanvanklik is dit klein teenoor groot; maar dan later soos die kind grootword, verander die verhouding tussen pa en seun, hulle word soos vriende – pa is nog steeds pa, met al die respek en agting vir hom, maar seun het ook sy eie gedagtes al – nie teenoor pa nie, maar met pa.
3. ONS BY GOD INTREE
Die doel van vandag se boodskap is nie om vir ons almal te laat skuldig voel oor ons gebede wat maar so effentjies is nie.
Die doel van vandag se boodskap is om ons weer te laat ontdek hoe die Here God is.
Hy is die lewende Here met wie ons in ‘n verhouding staan en met wie ons kan praat. Of anders gesê: Die Here handhaaf ‘n oop-deur-beleid.
Om die Here se gedagte in ander woorde te sê.
Hy sal bv sê: “Ek het so besluit, maar jy is welkom om met My te kom praat oor die saak”.
Of soos ‘n regter wat vandag in ‘n hof sal sê nadat ‘n beslissing gemaak is:
“verlof tot appel word toegestaan”.
Ons gebede gaan nie daaroor dat ons die Here wil manipuleer of die Here wil dwing om dinge te laat gebeur soos ons dit wil hê nie –
maar dit gaan daaroor dat ons as sy kinders met groot erns by die Here kan pleit, want Hy is oop vir oortuiging.
Ons praat nie met die Here as sy vyande nie, ons praat met Hom as ons Vader in die hemel, ons praat met Hom vir wie ons agting en respek het.
Die verhaal van Moses wil die klem lê op die al hoe groter wordende vrymoedigheid wat Moses teenoor die Here gehad het – Moses wat by die Here pleit dat sy genade tog meer as sy oordeel sal wees.
4. GROTER PRENTJIE
Daar is sovele ander verhale in die Bybel wat vertel van gelowiges se vrymoedigheid teenoor die Here:
– daar is die verhaal in Josua 10 waar Josua gebid het dat die son moet
stilstaan sodat hulle die bose mag van die Amoriete kon breek.
- daar is die storietjie (Matteus 17) van die dissipels wat die dag
magteloos gestaan het teenoor die aanslae en mag van die bose en toe
het die Here Jesus vir die dissipels gesê: As julle geloof soos ‘n
mosterdsaad het, sal julle vir hierdie berg sê: gaan weg hiervandaan
daarnatoe, en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.
Weereens gaan dit nie daaroor dat ek my teenoor die Here mag stel om dan vir die Here te probeer dwing om te maak soos ek sê nie – maar dit gaan daaroor om met groot erns by die Here te pleit, want dit gaan nie oor wat ek wil hê nie, maar oor ‘n saak, oor ‘n situasie.
Of dink aan al die beloftes wat die Here Jesus vir ons gee oor vra en gee: “vra en vir julle sal gegee word, soek en julle sal vind, klop en vir julle sal oopgemaak word”.
5. AANHOU BID
En nou die vraag – is die gebede wat mense soos ons of mense soos Moses bid, sommer net ‘n gepraat in die wind? As ons by Here pleit vir ‘n saak of ‘n situasie, is dit die moeite werd? Gaan my gebed enige verskil maak?
Die Here Jesus se oproep aan ons om aan te hou bid is nie verniet daar nie.
Kyk wat gebeur nou in die volgende hoofstuk daar in Deuternomium.
LEES Deut 10 v 1 – 2
Deut 10:1 "Destyds het die Here vir my gesê: ‘Kap vir jou twee plat klippe
soos die voriges en klim die berg uit na My toe. Maak ook ‘n ark van
hout.
2 Ek sal op die klippe die gebooie skryf wat op die voriges was wat jy
stukkend gegooi het. Dan moet jy die twee plat klippe in die ark sit.’
En daardeur het die Here vir Moses gesê: “dan begin ons maar weer voor. Ek sal jou versoek toestaan en weer voor met die klomp moedswillige eiesinninge Israeliete begin”.
En daar gee die Here weer vir Moses die klippe waarop die ooreenkoms geskryf is.
Daarom – wat wil die storie vandag vir ons sê?
Ons kan as gelowiges met al hoe groter vrymoedigheid by die Here pleit. Sy deur staan oop.
En daarom kan ons met al hoe groter vrymoedigheid pleit
vir die stukkende situasies rondom ons.
Ons is bv in die gemeente besig om gedurig te bid vir die drankmisbruik in die dorp, vir mense wat vasgevang is in hierdie mag – vandag se storie wil vir ons sê om juis met meer erns by die Here te pleit dat Hy die houvas van hierdie mag op mense sal verbreek. Ons het nog nie dag en nag gepleit nie, ons het nog nie 40 dae en 40 nagte gepleit by die Here nie.
Ek dink aan die komende verkiesing. Ons kan met groot vrymoedigheid en met groot erns vir Here bid dat daar vrede sal heers.
En die staking in die platinum-bedryf wat nou al maande aangaan, en al die ellende wat daarmee saamgaan – ons het nog nie genoeg gepleit by die Here om die situasie om te keer nie
Ek dink aan die situasie in Suid-Soedan waar daar al soveel verwoesting en geweld is – ons het nog nie genoeg daarvoor by die Here ingetree nie – pleit dat Hy sy engele sal stuur om die ontploffende geweld sal keer. Alhoewel ek vanoggend gehoor het dat die situasie verander het, die president het weer ingestem tot vredessamesprekings
6. VIR NOOD
Laaste opmerking: In die storie van Moses het ons gehoor dat Moses teen die oordeelsuitspraak van die Here by die Here gepleit het om tog genadig te wees – en die Here het sy uitspraak teen Israel verander. Dit beteken nie dat as ons nou die ellende en kwaad in die wêreld sien, dat ons teen die Here se besluit in vra dat dinge anders sal wees nie – want die kwaad en ellende en boosheid in die wêreld kom nie van die Here af nie.
Ons bid en pleit by die Here dat Hy die kwaad sal omkeer, dat Hy sal beskik dat die slegte situasie omgekeer sal word, dat Hy met mag sal ingryp en dinge verander.
Moet dus nie moedeloos word nie – hou aan om die Here om hulp te vra en by Hom te pleit.
Comments