Goeie Vrydag
- NG Kerk Aberdeen
- Apr 18, 2014
- 8 min read
Johannes 19: 17 – 37
Ds. Abe Beyers
GOEIE VRYDAG
1. STORIE OOR PAASNAWEEK
Twee weke terug is ek daar in die dorpie Bethal. Die oggend kom ek in die hardeware winkel om iets daar te koop. Die vrou agter toonbank is baie spraaksaam en ons praat toe oor die baie vakansiedae in April. Sy vra toe: “wat maak julle die paasnaweek”? Voor ek nog kan antwoord toe vertel sy baie opgewonde van hoe hulle as hele familie daar na ‘n oord toe gaan buite Ermelo. En sy is vreeslik opgewonde oor die saamkuier. Van Donderdagmiddag tot Maandagmiddag.
Maar die vraag: “wat maak julle die paasnaweek?” het my baie laat dink?
Sovele sien die naweek maar net as ‘n langnaweek waar hulle ‘n slag iets vir hulleself kan doen, waar hulle ‘n slag aan hulle eie belange kan dink. Ek weet dat ons hier in Aberdeen nou nie eintlik so kan wegbreek vir Paasnaweek nie, want ons verpligtinge gaan aan, boerderye gaan aan.
Maar die vraag het my nogtans laat dink:
Is ons wat nou vandag hier in die kerkgebou sit, is ons nie maar baie simpel nie? Om op ‘n openbare vakansiedag, om op ‘n Vrydagmore van ‘n langnaweek hier in ‘n kerkgebou te kom sit en te sing en wat nog alles te doen nie
vertel dit nie iets van eenvoudigheid nie?
Vertel ons herdenking van ‘n gebeurtenis van 2000 jaar terug nie iets van “ag sies tog” nie?
Vertel ons saamsit hier in die kerkgebou nie maar iets van mense wat nie hulleself kan handhaaf en hulle omstandighede vir hulleself gebruik nie?
Vertel die hele gedagte van kerk en erediens nie maar eintlik van mislukking nie?
2. EN JESUS DAN?
LEES Johannes 19 v 17-37
Joh 19:17 Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos
dit genoem is, in Hebreeus Golgota.
18 Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke
kant, met Jesus in die middel.
19 Pilatus het ook ‘n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het
geskrywe gestaan: "Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode."
20 Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus
gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks.
21 Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: "Moenie skrywe: ‘Die
Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die
Jode."
22 Pilatus het vir hulle gesê: "Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe."
23 Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in
vier dele verdeel, vir elke soldaat ‘n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat.
Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef.
24 Hulle sê toe vir mekaar: "Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit
moet kry." Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê: "Hulle
het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot." Dit is wat die
soldate gedoen het.
25 By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en
Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan.
26 Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar
staan, sê Hy vir haar: "Daar is u seun."
27 Daarna sê Hy vir die dissipel: "Daar is jou moeder." Van daardie oomblik af
het die dissipel haar in sy huis geneem.
28 Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif
vervul kan word, gesê: "Ek is dors."
29 Daar het ‘n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ‘n spons vol suur
wyn op ‘n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou.
30 Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: "Dit is volbring!" Toe het Hy
sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.
31 Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag
aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was ‘n groot dag.
Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene
gebreek en die liggame weggevat moes word.
32 Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié
van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is.
33 Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy
bene gebreek nie.
34 Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en daar het
dadelik bloed en water uitgekom.
35 Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy
weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo.
36 Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: "Geen been van Hom sal
gebreek word nie."
37 En verder sê die Skrif op ‘n ander plek: "Hulle sal Hom sien vir wie hulle
deurboor het."
As ons net so die verhaal lees, dan kan ons nogal maklik dink: Ja net soos Jesus ook maar ‘n mislukking was.
Daar was destyds die groot verwagting rondom Hom en daar was groot opgewondenheid: Dit is Hy wat die Koninkryk van Israel weer gaan oprig, dit is Hy wat die Romeine uit Jerusalem gaan uitjaag – kyk net sy mag hoe Hy mense gesondmaak en hoe Hy die bose aandurf en hoe Hy selfs mense terughaal uit die dood uit – nou het ons met die Verlosser te doen.
En tog, hier loop Jesus met sy kruishout op sy skouer op pad Golgota toe – dis verby, al die verwagtings wat hulle gehad het destyds, wel, Jesus is maar net ‘n mislukking.
En Jesus self het rondom Hom ‘n groepie volgelinge opgelei en hulle geskool vir die werk wat hulle moet doen – en toe die moeilikheid en die konfrontasie kom, toe is daar niemand om Hom te help nie.
Judas self kon ook nie die teleurstelling rondom Jesus hanteer nie en het toe pad gevat.
3. JOHANNES WIL Sê
Maar as ons nou mooi gelees het wat Johannes hier skrywe in die storie, dan kom ons agter dat hy die verhaal anders lees.
Nee, Jesus was nie ‘n mislukking soos almal maar destyds gedink het nie.
Kyk hoe skryf Johannes na elke stukkie inligting: “Sodat die Skrif vervul sou word”.
Maw hierdie gebeure rondom Jesus, die hele proses daardie Vrydag rondom verhoor en kruis en selfs die verdeling van sy klere en selfs hoe die soldate Hom behandel daar aan die kruis – dis nie maar ‘n toevallige sameloop van omstandighede nie, dis nie maar dinge wat sommer so gebeur het nie. Nee, die Here God het lankal vooruit geweet wat gaan gebeur. Wat hulle nou sien gebeur aan die kruis, is wat die Here al lankal vooruit bekend gemaak het deur sy profete.
Dalk dink ons nog steeds vanoggend: Al het die Here God vooruit geweet van die teregstelling van die Here Jesus aan ‘n kruishout, dan hoor ons mos niks van oorwinning hierin nie. Dis mos steeds mislukking.
Tot ons begin agterkom dat dit wat ons ook sien gebeur, die hele verhaal van Jesus wat ter dood veroordeel is, Jesus wat daar aan ‘n kruis tereggestel is –
die hele gebeurtenis was deel van die Here God se plan.
4. WAT WAS DIE PLAN?
Miskien moet ons tog net weer dink aan wat die Here God se plan was met die hele proses van die teregstelling van Jesus.
Kom ons verwoord die Here God se plan so:
- die opdrag vir Jesus was dat Hy as mens aarde toe moet gaan en daar
die Koninkskap van die Here God gaan ten toonstel.
– maar Hy mag nie Homself handhaaf nie, Hy mag nie bid en vra dat God
Hom moet beskerm teen die kwaad nie, Hy mag nie Homself beskerm nie.
- Die opdrag aan Jesus was Hy moet Homself verneder, Hy moet toelaat dat die mense Hom by wyse van spreke in die grond intrap en op die ou
einde vernietig.
Hoekom? So lief het God die wêreld, sê Johannes. Jesus bly gehoorsaam aan die afgaan-stukkie, aan die verneder-stuk tot Hy op die ou einde dood is.
Dit is alles behalwe mislukking – dis juis oorwinning. Want mense se aard is om net aan hulle eie belang te dink, om net hulself te wil handhaaf, om te baklei vir hulle lewe – en Jesus bly gehoorsaam aan die plan en dink nie aan sy eie belang nie, verdedig nie Homself nie.
Sodat op die ou einde daar darem Een Mens was wat nooit aan sy eie belang gedink het nie, Een Mens was wat gehoorsaam gebly het aan die pad wat die Vader in gedagte het.
5. BEVESTIGING
En dan net om finaal te sê dat Jesus nie ‘n mislukking was nie, maar dat Hy juis oorwin het – skryf Johannes daar in vers 30.
LEES 19:28 - 30
"Hierna het Jesus met die wete dat alles klaar volbring is, en sodat die Skrif vervul kon word, gesê: "Ek is dors".
Daar het ‘n kan vol suur wyn gestaan.
Die soldate het toe ‘n spons vol suur wyn op ‘n hissoptakkie gesit
en dit teen sy mond gehou. ( nie uit genade nie, maar dit maak jou lyding langer)
Nadat Hy die suur wyn gekry het, het Hy gesê: Dit is volbring
Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas"
In die laaste stukkie staan daar dat Jesus toe nie maar net doodgegaan het nie – nee, met die wete dat Hy alles gedoen het wat Hy moes doen, dat Hy oorwin het, het Hy sy laaste asem uitgeblaas – bewustelik. In die kinders se taal – Homself afgeskakel.
6. EN NOU ONS?
Wat het dit nou met ons vandag hier in Aberdeen te doen?
Net maar dit:
- om jouself te verneder en die grootheid van God te erken, is nie
mislukking nie. Om dus hier in die kerkgebou te sit is nie teken van
mislukking nie – dis juis'n teken van oorwinning oor ons eie aard om net
aan onsself en ons eiebelang te dink.
- Om die paadjie van selfvernedering te loop is nie teken van mislukking en
van “ag shame” nie. Dit vertel van iemand wat oorwin het oor die
handhawing van homself en eie belang.
Maar meer nog:
omdat Jesus daardie dag daar 2000 jaar terug oorwin het oor die menslike aard van selfsug, daarom kan ons deur sy krag al hoe meer oorwin, al hoe meer teen ons eie aard om net te dink aan onsself, weerstand bied.
Omdat Jesus 2000 jaar terug oorwin het oor die menslike aard van eiebelang, daarom kan ons ook vandag meer en meer omgee vir ander, meer en meer ander se laste dra, meer en meer prysgee vir ander
Omdat Jesus 2000 jaar terug oorwin het oor die menslike aard van haat van ander, daarom kan ons oorwin vandag, ons kan ook eerder liefhê as haat.
As iemand dus vir jou vra: “wat maak jy die paasnaweek, waarnatoe gaan jy?”
moet dan nie skaam wees om te vertel dat ek gaan die grootsheid van die tereggestelde Jesus erken nie,
moenie skaam wees om te vertel van hoe jy jouself assosieer met die gekruisigde Jesus nie.
En moet ook nie skaam wees om te vertel dat jy in ‘n ou kerkgebou gaan sit en sing van Jesus nie – want die dinge is juis tekens van oorwinning, nie van mislukking nie.
Comments