top of page

Wanneer "hulle" ONS word!

  • Writer: NG Kerk Aberdeen
    NG Kerk Aberdeen
  • Sep 16, 2013
  • 6 min read
Handelinge 17 v 22 ev

Sondag 1 September 2013

Die PowerPoint in die Kerk kry jy hier

WANNEER HULLE "ONS' WORD

Ds. Abe Beyers

1. SITUASIES

  • Die regering van Sirië word daarvan beskuldig dat hulle gifgas gebruik het in ‘n aanval waarin meer as ‘n 1000 mense dood is. Die Amerikaanse regering olv Obama moet nou besluit of hulle die optrede ongestraf gaan laat verbygaan – ‘n moeilike keuse, want die geweld kan uitbrei na die hele Midde-ooste en dan chaos op die wêreldmarkte en olieprys veroorsaak – want geweld kweek geweld.

  • Nou nader aan die huis – as ons nou dink aan staatsinstellings hier in Aberdeen – soos die plaaslike polisie, of die munisipaliteit of die skole en jy het dalk eendag die ervaring gehad van dinge wat nie goed verloop het, dalk selfs van verkeerde dinge, of selfs van ondoeltreffendheid – dit maak nie saak wat nie.

  • Of daar op jou plaas het dinge dalk nie goed verloop met die personeel nie – dit is maandeinde en daar is gesmokkel met drank en met al die verwoestende gevolge daarvan op die huisgesinne.

  • Of dinge daar in jou huisgesin het dalk verkeerd geloop en die kinders het iets aangevang of die mannetjie het kwaad gedoen.

  • Of jou buurman het doodeenvoudig vir jou ingeloop met een of ander besigheidstrasaksie.

  • Of jy kry dalk te doen hier in die dorp met slegte mense, mense wat nie jou waardes deel nie.

Wat is die versoeking vir ons as gelowiges?

Om in die moeilike situasie waarin ons is, die Amerikaanse model na te volg.

Dit is die maklikste – gaan skiet vir Sirië se regeringsinstansies en weermagbasisse uitmekaar

en die probleem is opgelos.

Nou sit jy dalk met die situasie met skole of polisie hier in Aberdeen – en nou wil jy die Amerikaanse manier ook hier kom toepas – ek kan nou nie vir hulle gaan skiet nie, maar ek kan hulle darem met die spreekwoordelike klippe bykom en sê hoe sleg hulle is – hulle is almal sleg, kyk net wat maak hulle alles…

of daar op die plaas sukkel ek met my personeel – die versoeking is om met die Amerikaanse antwoord te kom – geweld, strafmaatreels.

Of daar in die gesin het die mannetjie van my nou weer iets aangevang en nou is die maklike manier om die Amerikaanse model te volg – slaan hom, want hy het mos gesoek daarvoor…

2. PAULUS

LEES HANDELING 17 v 22 - 31

Hand 17:22 Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê:

"Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is.

23 Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid,

het ek ook ‘n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan ‘n onbekende god.’

"Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan

julle.

24 God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hy is die Here van

hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie.

25 Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat

aan almal lewe en asem en alles gee.

26 Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die

hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle

sal woon.

27 God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om

Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie,

28 want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van

julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’

29 Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde

van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en

verbeelding.

30 "God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense

oral op om hulle te bekeer,

31 want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom

uit die dood laat opstaan."

Die apostel Paulus kom daar in Atene in Griekeland aan – ‘n wêreldstad, met ‘n kultuur van geweld.

Die Grieke was toe nie meer die wêreldmag wat hulle 200 jaar vantevore was nie,

maar hulle het uit ‘n kultuur gekom van mag – hulle het gesê:

ons het die wêreld van destyds oorheers, ons taal is gepraat van Egipte af tot kort duskant Sjina, tot in Turkye. En hier staan Paulus daar in die stadsplein, baie verontwaardig oor al die afgodsbeelde wat op die ou einde maar net een boodskap verkondig het – om meer en meer mag te hê.

Maar kyk wat doen Paulus:

  • eerstens kraak hy nie hulle gode en kultuur af nie.

  • Hy sluit aan by hulle wêreld

  • en sê hy het ‘n verering van ‘n onbekende god gesien

  • en hy wil hom nou aan hulle bekendstel.

  • En dan vertel hy vir hulle van die Here God

  • wat lewe aan almal gee, wat heers oor die ganse skepping….

  • En dan vertel hy vir hulle van die vernederde Jesus, nie ‘n magtige Een nie,

  • maar Een wat hulpeloos tussen mense kom woon het, en toe nog boonop tereggestel is – vir die Grieke was dit nou die simpelste storie wat hulle in ‘n lang tyd gehoor het.

En tog wonderbaarlik, ongelooflik, is daar sowaar ‘n paar mense wat tot die besef kom

hier is lewe te vind om jou te assosieer met die vernederde en gekruisigde Jesus.

3. EN NABY ONS

Wat het die storie te doen met al die moeilikheid en probleme en stukkende dinge wat ons vandag het, en die Amerikaanse manier van dinge regstel?

Kom ons lees weer die laaste stukkie van Paulus se woorde aan die Ateners:

27  God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, 28 want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.

Die sleutel lê vir my in die woordjie “ons”.

Die apostel Paulus praat nie van julle teenoor ons nie.

Sy gedagte is nie:

julle moet verander en soos ons word, want julle is verkeerd en ons is reg, nie.

Die Amerikaners sê:

julle is verkeerd en julle gebruik gifgas om burgerlikes dood te maak,

en ons is reg en nou gaan ons julle regsien.

Paulus gaan staan tussen die Ateners en hy praat van ons, ek en jy –

die Here is naby ons, dit is die Here wat vir ons, vir my en jou lewe gee.

Kom julle agter die twee heeltemal verskillende gesindhede? Paulus se heeltemal ander manier van kyk na mense?

In plaas van om op die kantlyn te staan en te verwyt en te beskuldig oor die situasie daar binne, gaan dan binne-in die situasie in en begin praat daar van “ons”.

In my agterkop moet wees die gedagte van: “ek is hier saam met julle in die situasie, dit is nou ons situasie”.

Die Amerikaners sal praat van: “ons is reg en hulle is verkeerd, en nou gaan ons hulle laat word soos ons”. Paulus gaan staan tussen die mense en praat net van “ons”.

4. GOD IS REEDS DAAR

Dit klink nou so asof ons nou vandag hier net een of ander sielkundige taktiek wil uithaal om mense te verander – maar dit gaan nie daaroor nie.

Wat is die geheim, wat sit agter die apostel Paulus se manier van doen?

Die woorde daar in vers 27: Die Here is nie ver van ons af nie.

Ek kan mos nou sê:

“die Here is reeds daar in die situasie, Hy is naby,

Hy is reeds daar in die moeilike situasie”.

Dit is die geheim!

Of soos Paulus daar in Filippense 2 verduidelik: Jesus het afgekom uit sy goddelike magsposisie en deel van ons kom word, mens kom word tussen ons.

5. DAAROM

En daarom, as ek nou dink aan die situasies, die moeilikhede rondom ons – in plaas van van die kant af klippe gooi en te veroordeel en af te kraak, vra die Here se manier van my

dat ek nie van hulle sal praat nie, maar dat ek daar deel van sal word van die situasie,

sodat dit ons sal word, dat ek daar sal ingaan in die situasies in en gaan vertel dat die Here nie ver van ONS af is nie, dat ek sal vertel dat ons die Here kan soek en vind, dat ons die Here se krag kan beleef.

Kom ons probeer dit wat Paulus hier sê nog meer prakties maak:

Die styl en gesindheid waarvan hy praat en dit wat hy daar in Atene doen praat eerder van bevriending as veroordeling; praat eerder van meeleef en inleef as beskuldiging.

As ons dié styl begin navolg, miskien sal daar dan van jou gesê word soos daar van Jesus gesê was: ‘n vriend van die tollenaars en die sondaars

 
 
 

Comments


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags

© 2023 by Uniting Church Arizona. all rights preserved.

  • facebook-square
  • Twitter Square
  • google-plus-square
bottom of page